Bekendstelling: Só lyk die nuwe Swift

Die nuwe Suzuki Swift (Foto: Suzuki)

Die karbedryf is tans mal. Daar is vervaardigers met 10-spoed-ratkaste en enjins met 16 silinders. Daai einste enjin het vier turboaanjaers en 10 verkoelers. Dis alles vreeslik ingewikkelde tegnologieë.

Suzuki hou hom nie daarmee op nie – dit val doodeenvoudig nie in sy smaak nie. Suzuki doen eenvoud – en doen dit regtig baie goed. Suzuki is goed aan die groei in Suid-Afrika en het verlede jaar vir die eerste keer 1 000 eenhede in ʼn maand verkoop. Dit is sterk nommers in ʼn reusemark.

Die eerste foto’s wat ek gesien het van die Swift het my effe minder opgewonde gelaat. Die karretjie het ʼn bietjie vreemd gelyk. In lewende lywe is die voertuig eintlik oulik. Die binneruim is eg Suzuki en die materiale duursaam. Die kajuit is ergonomies uitgelê, en alles wat mens benodig, is net waar dit hoort.

Dan kom ons by die lekker deel. Suzuki maak steeds vir my van die lekkerste enjins wat tans op die mark is. Die Swift word getrek deur ʼn 1.2-viersilinder- atmosferiese petrolenjin. Die enjin het genoeg krag en wringkrag om goeie vordering te maak in die stadsverkeer, en wanneer mens wíl, dan kan die Swift sy sokkies optrek en hol; skakel net ʼn paar ratte terug en laat die omwentelinge klim bó 5 000 r/min.

Die nuwe Suzuki Swift (Foto: Suzuki)

Net ʼn 1.2? Ja, ek was ook aanvanklik skepties – maar, die Swift weeg ʼn anoreksiese 875 kg. In vandag se geld is dit regtigwaar lig. Dit is goed vir ʼn paar redes. Eerstens hoef daar nie ʼn turboaangejaagde enjin van 12 liter te wees nie. Tweedens hanteer die Swift regtig lekker omdat daar nie ʼn groot gewig is wat rondgedra moet word nie. Laastens het die Swift ʼn indrukwekkende 5.7 ℓ/100 km op die toetsroete gehandhaaf. Dit is puik as mens in ag neem dat ons nie stadig gery het nie.

Die voertuie wat ons op die bekendstellingsroete gery het, was splinternuut met min kilo’s op. Die enjins sal nóg verder inry en beter raak. Daar is ʼn karakter aan Suzuki se enjins wat heel bo in die toerestrek wegkruip, en as jy dit ontdek, verander die Swift se hele karakter. Dis eintlik lekker. Die ratkas se wisselaksie is glad en positief, en die koppelaar is lekker gekalibreer.

Die nuwe Suzuki Swift (Foto: Suzuki)

Padhouvermoë is indrukwekkend goed in Natal se bulte en dale op lekker kronkelpaaie. Ek’t die Swift baie vinniger gery as wat die meeste mense sal, en hy gedra hom baie goed. Ritgehalte is baie gemaklik omdat die bandprofiel nie piepklein is nie, en hier is ook nie sportvering nie.

Dit is maklik om die Swift op te som. Dit bly getrou aan Suzuki se idee van eenvoud. Dit ry lieflik en is regtig bekostigbaar vir wat dit bied. Dit is groter as sy voorganger en bied ʼn puik pakket. Gaan toetsbestuur self, en sien. Indien jy ʼn groter kattebak benodig, kan jy na die Suzuki DZire kyk.

Die reeks lyk só:

Suzuki Swift 1.2 GA61 kW/113 Nm4.9 ℓ/100 kmR159 900
Suzuki Swift 1.2 GL61 kW/113 Nm4.9 ℓ/100 kmR175 900
Suzuki Swift 1.2 GL outo61 kW/113 Nm4.9 ℓ/100 kmR189 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die sedanweergawe lyk só:

Suzuki DZire 1.2 GA61 kW/113 Nm4.9 ℓ/100 kmR161 900
Suzuki DZire 1.2 GL61 kW/113 Nm4.9 ℓ/100 kmR177 900
Suzuki DZire 1.2 GL outo61 kW/113 Nm4.9 ℓ/100 kmR191 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die nuwe Suzuki DZire (Foto: Suzuki)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vanessa ·

Ek was by die dealer bekend stelling van die Swifty. Ek het die die auto bestuur. Daar is nie ‘n groot verskil tussen sy krag die die van die 1.4 nie. Ek was regtig baie beindruk met haar…

Koos1 ·

Ek het verneem dat die outo eintlik die AMT is. Ek hoop nie dit is so nie, want die AMT ratkas is in my opinie (en ja ek het die Cellerio met die AMT gery) regtig nie goed nie. ‘n Outo moet dinge vir jou geriefliker maak, maar met die AMT raak dit ingewikkeld. Jy kan nie teen ‘n opdraande weg trek sonder jou handrem nie, en die oorskakeling is, nou nie wat ek sal noem, glad nie. Ek ry tans die Swift met die outo ratkas en wat ‘n plesier van ‘n voertuig. Verruil die glad nie vir die AMT nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.