Bekendstelling: Só vervoer ʼn mens ʼn groot gesin op ʼn begroting

Die Suzuki Ertiga. (Foto: Verskaf)

Suzuki is twee agtereenvolgende jare al deur Cars.co.za gekies as motorvervaardiger van die jaar. Hulle het ook nie lank terug die nuutste Jimny bekendgestel waarvan hulle nie genoeg kan bou om in die aanvraag te voorsien nie.

Voertuie soos die Ertiga laat ʼn mens nie altyd na jou asem snak nie, maar daar is ʼn goeie rede hoekom hulle bestaan. Dit is eintlik heel eenvoudig. Daar is gesinne in Suid-Afrika wat ses of meer lede het. Dán is ʼn gewone luikrug of sedan én meeste sportnutsvoertuie uit. Suzuki het wel ʼn antwoord … die sewe-sitplek Ertiga MPV. Dink iewers tussen Toyota se Avanza en Honda se BR-V.

Eerste indrukke is goed. Die nuwe Ertiga is heelwat groter as sy voorganger, én baie beter afgerond met die nuwe swart binneruim. Ons Suid-Afrikaners hou nie van ʼn beige binneruim soos die Midde- en Verre-Ooste nie. Die ontwerp is netjies sonder om vervelig te wees. Die binneruim is eenvoudig en ruim. Met die derde ry sitplekke toegevou is die kattebak enorm, met hulle oop – net genoeg om ʼn paar skooltasse in te laai. Daar is genoeg luukshede om jou rit aangenaam te hou soos Bluetooth, lugreëling en elektriese vensters sonder om onnodige speelgoed in te laai wat die prys opjaag.

Die Suzuki Ertiga. (Foto: Verskaf)

Die Ertiga word aangedryf deur ʼn nuwer Suzuki-kragbron – die K15B. Dié atmosferiese viersilinderpetrolenjin bied 77 kW teen 6 000 r/min en 138 Nm teen 4 400 r/min. Daar is twee ratkaste beskikbaar: ʼn 5-spoed handrat of 4-spoed outo. 0 – 100 km/h syfers nie belangrik nie – maar met drie volwassenes en ʼn kardoes vol oliebolle kan die Ertiga heeltemal sy man staan in die verkeer in en om Johannesburg. Hy stel ook nie teleur op die snelweg nie en hy draf lag-lag 140 km/h saam die verkeer.

Die Ertiga is heel veilig met twee lugsakke, ABS met EBD, ISOFIX en ʼn parkeerhulpstelsel. Die Ertiga maak gebruik van Suzuki se gepatenteerde TECT (Total Effective Control Technology) om ʼn baie sterk struktuur te vorm en energie om en onder deur die onderstel te skuif sodat die passasiers nie die impak absorbeer nie.

Waar die Honda BR-V beslis ʼn kleiner produk is, en Toyota se Avanza ʼn meer basiese produk is gaan die Ertiga ʼn lekker middeweg bied. Suzuki bied ʼn 4 jaar/ 60 000 km diensplan én ʼn 5 jaar/ 200 000 km waarborg.

Ons ry binnekort met ʼn hele gesin en pakkerasies met die Ertiga see toe vir twee weke en dan sal ons verder berig oor hoe prakties hy is, hoe hy hom op die langpad gedra en watter soort brandstofverbruik hy kan bied.

Die reeks lyk só:

Suzuki Ertiga 1.5 GA handratR214 900
Suzuki Ertiga 1.5 GL handratR239 900
Suzuki Ertiga 1.5 GL outoR254 900

Het jy raad nodig voordat jy daardie spoggerige nuwe motor koop? Vra Maroela Media se motor-foendi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

WIEBO ·

Sal n statige lykswa wees………………. en bekostigbaar ook om te laat ombou in n lykswa!

koos ·

Jy koop die vir ‘n rede, al is dit vir ‘n lykswa. Ek het tans die “ou” een en teen 14km per liter in die stad vir ‘n 7 sitplek kar is dit nie ter versmaai nie. Ek oorweeg die een baie sterk. Hoop net die GLX word ook hier vrygestel. Hulle is ook baie beter toegerus as die mededingers, teen ‘n beter prys.

Nico ·

One toets bestuur alle nuwe voertuie hier onder in KwaZulu Natal, het vandag die Suzuki Ertiga ontvang, moet sê dat sy brandstof gebruik is baie goed nadat ek die Ertiga van Pietermaritzburg na Pinetown toe bestuur het, die voertuig is baie gerieflik en sy voorkoms kom baie goed voor.

Andre C ·

Suzuki bied goeie ,betroubare en ekonomiese produkte teen n billike prys ,Hulle het egter geen snobwaarde nie ! Ek geniet elke oomblik in my nuwe Swift

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.