Bekendstelling: Spasie vir ʼn nasie

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Indien ʼn mens na Maart 2018 se nuwevoertuigverkoopsyfers kyk, dan staan die Volkswagen Tiguan kop en skouers bo die res uit.

Ek sien dat al die mededingers nou nóg harder pak gaan kry, want die Volkswagen Tiguan Allspace bied nou sewe sitplekke. Voor is dit gewone Tiguan met ʼn effe opgekikkerde enjinkap. Die paneelbord en instrumentasie is dieselfde puik gehalte wat mens geleer het om van die gewone asafstand-Tiguan te verwag.

Dit is van die tweede ry sitplekke agtertoe waar dié Tiguan verskil. Die asafstand is met 110 mm verleng en die algehele lengte met 250 mm. Met die derde ry sitplekke toegevou is daar 115 ℓ meer kattebakspasie. Van buite lyk die Tiguan effens langer, en ek sukkel om dadelik aan die proporsies gewoond te raak, maar dit sal vinnig “normaal” lyk.

Die derde ry sitplekke plaas die Tiguan in heeltemal ʼn ander klas. Indien jy ʼn gesin van ses is, sal vyf sitplekke net nie deug nie, presies soos my gesin. Indien Ouma wil saamry, dan moet ons met my sewe-sitplek motor ry. Die derde ry sitplekke gaan nooit twee eerstespanhakers pas nie, maar dis nie waarvoor dit bedoel is nie. Kermende kinders sit juis in daai derde ry – ver weg van mamma en pappa wat net die oop pad kan geniet.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Volkswagen het die spesifikasievlakke van die Allspace verbeter teenoor die gewone asafstandmodel, so die Allspace bied beter waarde as die gewone asafstandmodel. Ons het al talle keer oor die Tiguan berig, en dit bly my gunsteling. Die 110 kW 1.4 TSI petrolenjin doen diens in die voorwielaangedrewemodel. Die 132 kW TSI is ʼn nuwe enjin wat ons nog nie vantevore ervaar het nie. Die enjin is lekker, maar was met die bekendstelling nog nie ingeloop nie – so dit was verskriklik swaar op brandstof… Die 110 kW diesel bly my keuse vir ʼn balans tussen ekonomie en verrigting.

Ons sal in die indiepte-toets weer verder berig oor die Tiguan Allspace se ritgehalte en padhouvermoë en dan weer berig oor die 132 kW se brandstofverbruik.

Maart 2018 se nuwevoertuigverkoopsyfers:

Volkswagen Tiguan525
Toyota Rav4463
Nissan Xtrail444
Hyundai Tucson400
Mazda CX-5378
BMW X1224
Kia Sportage181
Jaguar E-Pace136
Ford Kuga119
Audi Q377

Die reeks lyk só:

Tiguan Allspace 1.4 TSI 110 kW Trendline DSGR463 400
Tiguan Allspace 2.0 TSI 132 kW Comfortline 4MOTION DSGR523 800
Tiguan Allspace 2.0 TDI 110 kW Comfortline 4MOTION DSGR571 100
Tiguan Allspace 2.0 TSI 162 kW Highline 4MOTION DSGR604 800

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Belangstellende ·

Baie goeie aanbieding in die sagryer mark, omtrent so groot soos ‘n Fortuner (- ~80mm in lengte).
‘n Paar vrae:
Grondvryhoogte? (201mm?)
4Motion vermoe
Sal dit ‘n Echo4 boswa kan sleep met 132Kw TSI masjien (Is dit nie die FSI enjin wat 2008 ook in die A4 beskikbaar was : 132 Kw, 320 Nm)

Brendon ·

Dagsê Belangstellende

Dankie vir jou kommentaar. Die Tiguan is beslis nie so groot voertuig soos ‘n Fortuner nie – al lyk die afmetings amper so. Die grondvryhoogte is wel 201mm, beter as van sy mededingers. Die 4Motion vermoë is heel in die kol. Ons het nou op die bekendstellingsroete so 15km grondpad gery wat verskriklik modderig was, en die Tiguan het hom puik gedra. Moet dit wel nie verwar met ‘n egte 4×4 met laestrek nie. Die 132kW masjien is lekker sterk, en 320Nm oorgenoeg. Ek glo jy sal jou sleepwa met gemak sleep. Dit is die eerste keer wat ons dié enjin in ‘n VW produk sien – so of dit die selfde is as die Audi enjin kan ek nie bevestig nie – maar ek glo só.

Die voertuig het ‘n 5 jaar/ 90 000km diensplan, so ek is onseker waarvan Ll praat.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Belangstellende ·

Baie dankie Brendon!
Waardeer :)
Sien uit na jou in-diepte verslag later.

Piet Pompies ·

Die opmerking duur onderhoud koste is nie korrek, ons VW produk is nuut gekoop met sy diensplan, 5jaar of 90000km. Hy is in 2014 aangekoop en die diensplan verval in 2019, elke diens se koste is deur die diensplan betaal. Ons gaan moontlik die voertuig verkoop vir ‘n nuwe een of volgende jaar sy diensplan vir 5 jaat tot 180000 km verleng teen R12K

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.