Bekendstelling: Toyota knap sy Aygo en C-HR op…

Die Aygo X-Cite. Foto: Verskaf

Aygo:

Toyota se kleinste tjor is pas opgeknap. Sy gesig is gegrimeer met nuwe hoofligte met LED-dagligte. ʼn Leer stuurwiel en rathefboom-knop laat die Aygo luuks in jou hande voel. Die enkelvorm-sitplekke bied goeie steun vir so ʼn klein karretjie.

ʼn Raakskerm klankstelsel met Bluetooth en USB verseker dat ʼn mens veilig op die pad kan konsentreer terwyl jy jou musiek kliphard luister. ʼn Aanboordrekenaar, elektriese vensters, kragstuur en lugreëling is alles standaard op die Aygo.

Die Aygo X-Cite. Foto: Verskaf

Alle Aygo’s is nou met voertuigstabiliteitsbeheer, opdraande-wegtrek en remhulp asook ABS toegerus. Dit verseker dat ʼn mens veilig in die stadsverkeer kar rondrits. Die 998 cc driesilinderenjin is effe opgeknap en bied nou 2 kW meer, 58 kW en 93 Nm. Al klink dit min voel die heeltemal voldoende in so ʼn klein buksie. Brandstofverbruik is verder verbeter na slegs 4,3 ℓ/100 km.

Die reeks lyk só:

AygoR166 800
Aygo X-Play BlackR169 100
Aygo X-Play SilverR169 100
Aygo X-CiteR193 100

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg. Daar is verskeie opsionele diensplanne beskikbaar.

C-HR:

Die Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Met die aanvanklike bekendstelling van die Toyota C-HR was die media redelik verras met dié nuweling. Dit was ʼn trotse nuwe ontwerp en ʼn nuwe turboaangejaagte enjin. Al wat ʼn bietjie teleurgestel het, is dat daar slegs twee lugsakke was.

Toyota het dit nou reggestel met ʼn reuse- nege lugsakke en ʼn nuwe spesifikasievlak. Die nuwe Luxury, soos hy benoem is, sit heel bó aan die modelreeks. ʼn Tweekleur verfskema tref onderskeid tussen die Luxury en ander modelle. Donkerder agterligte laat die pakket meer sportief lyk en LED-hoofligte rond die gesig netjies af.

Die Toyota C-HR. Foto: Verskaf

Leersitplekke in die Luxury-model is ʼn aangename byvoeging tot die reeks. Dié kry elektroniese lumbale-steun wat verseker dat ʼn mens nóg meer gemaklik sit en die verwarmers haal die koue uit ʼn wintersoggend. Die nuwe inligtingstelsel bied nou Android Auto en Apple CarPlay, maar die USB-poort sit bo-aan die skerm, so die draad wat van daar af loop tot waar mens se foon lê is onooglik. So ook lyk die mikrofoontjie wat bo op die stuurkolom gemonteer is heeltemal uit plek op ʼn voertuig van R400 000. Intelligente parkeerhulp sal die voertuig self parkeer – ʼn lekker funksie in dié klas.

Die nuwe 1,2 viersilinderturbo-petrolenjin is regtig ʼn wenner en bied 85 kW en 185 Nm. Brandstofverbruik is ʼn karige 6,3 ℓ/100 km. 0 – 100 km/h neem 10,9 sekondes en die C-HR sal aanhou hol tot 190 km/h. 18”-sierwiele lyk fantasties, en verbasend genoeg beïnvloed dit die ritgehalte nie sleg nie.

Die reeks lyk só:

Toyota C-HR 1.2TR336 000
Toyota C-HR 1.2T PlusR365 500
Toyota C-HR 1.2T Plus CVTR377 000
Toyota C-HR 1.2T Luxury CVTR422 100

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Ons sal binnekort meer tyd met albei voertuie deurbring en sal dan hulle met hul mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.