Toyota het gister sy allernuwe Yaris bekendgestel. Die meeste vervaardigers het verskeie modelle in verskeie segmente waarin hulle meeding. Een van Toyota se B-segment-mededingers is die Yaris.
Die nuwe Yaris gebruik steeds die 1.5-viersilinderenjin uit die huidige Yaris. Op seevlak voel die enjin lekker sterk, en omdat dit ʼn 16-klep-VVTi-enjin is, is hy beslis nie skaam vir omwentelinge nie. Dié enjin bied 79 kW en 140 Nm. Indien jy krag wil hê, is dit daar, begrawe net jou voet en bo die 4 500 r/min-merk tel hy sy sokkies op en raak haastig. Die 5-spoed-ratkas se wisselaksie is heel goed, al is die ratverhoudings te kort na my smaak. Die Yaris luier teen amper 4 000 r/min teen 120 km/h. Dit is nogal hoog, veral as mens die Yaris vergelyk met die nuwe Polo wat teen 2 600 r/min luier teen 120 km/h.
Dié probleem kan opgelos word deur die CVT- outomatiese model wat beskikbaar is. Ek is nie CVT/palwisseltransmissie se grootste liefhebber nie, maar dis net omdat ek vinniger ry as die meeste mense wat die Yaris gaan koop. As mens rustig ry, is die CVT piekfyn, en sy sewe “ratte” hou die toere laag teen snelwegspoed, en dus die geraas ook. As jy haastig moet wees, begrawe jou voet in die mat en laat die omwentelinge klim tot 6 000 r/min, dan raak die CVT net so haastig soos die handrat.
Die eksterieur is netjies, dit lyk soos ʼn effe kleiner Auris. Die Yaris bly getrou aan ʼn Toyota-gevoel, en dit is nie ʼn slegte ding vir Toyota-aanhangers nie. Die binneruim is lekker ruim en beenruimte vir agterste passasiers voorwaar indrukwekkend. Die sitplekke is gemaklik en die bestuurdersitplek kan op en af stel. Die stuurwiel kan ongelukkig net op en af stel en nie vir reikafstand nie. Die Yaris Sport is toegerus met leersitplekke van goeie gehalte met rooi stikwerk. Dit het my dadelik aan Twincam Sprinter Toyotas uit die negentigerjare laat dink. Ek hou daarvan.
Die klankstelsel is ʼn goeie toevoeging tot die reeks met navigasie en Android Auto of Apple CarPlay. Dié twee funksies is vir my ʼn vereiste by moderne karre, want dit hou mense van hul fone af terwyl hulle bestuur, ʼn reuse-veiligheidsaspek. Daar is kontroles op die stuurwiel vir volume en om na die volgende of vorige liedjie te gaan.
Ek gaan wag om meer tyd met die Yaris deur te bring voordat ek my finale mening gee oor die kar en met sy mededingers vergelyk. Tot dan, gaan toetsbestuur hom self en sien of hy jou hart roer.
Daar is vyf modelle beskikbaar in die Yaris-reeks. Die hele reeks maak gebruik van dieselfde 1.5- viersilinderenjin.
Toyota Yaris 1.5 Xi handrat | R230 800 |
Toyota Yaris 1.5 Xs handrat | R253 400 |
Toyota Yaris 1.5 Xs CVT | R268 500 |
Toyota Yaris 1.5 Cross | R268 500 |
Toyota Yaris 1.5 Sport | R286 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.
Jammer ek het nie geweet van die model se koms, met leersitplekke, sleutelvrye toegang ens op die top modelle is dit ‘n beter pakket as die nuwe Polo wat met ‘n idiotiese samestelling van ekstras môre bekend gestel word. VW #bewarethearrogance!
En ek dog ek is die enigste wat VW se geknoei raaksien.
Inderdaad ‘n geknoei, van remskywe op die vorige Polo na trommelremme agter op die nuwe?
#vwbewarethearrogance
Ag hou asseblief op om die PWR (CVT) af te takel. As jy net so bietjie wil aanpas is dit uitstekend. Dis hier om te bly en word al hoe wyer toegepas deur maatskappye wat beter weet.