Bekendstelling: Triumph Scrambler 1200 XE en Speed Twin

Bruce Allen, hoof van Triumph in Suid-Afrika. (Foto: Joe Fleming van Bonafide Moto Co.)

Die Triumph Bonneville- reeks fietse is die perfekte vermenging van outydse styl en moderne tegnologie. Verlede jaar het Triumph twee nuwe modelle tot die reeks gevoeg en hulle het uiteindelik hier in Suid-Afrika aangekom: die Scrambler XE en die Speed Twin.

’n Paar joernaliste is genooi om hulle eerstehands te kom ervaar. Bruce Allen, hoof van Triumph hier in Suid-Afrika, het ons vooraf op hoogte gebring van die nuutste verwikkelinge in die motorfietsmark. Hy het ook uitgebrei oor toekomstige modelle, en volgens hom lyk die toekoms goed vir Triumph. Ná die formaliteite het ons in twee groepe verdeel en die motorfietse ontmoet.

Die Triumph 1200 cc Speed Twin. (Foto: Joe Fleming van Bonafide Moto Co.)

Speed Twin

Die 1200 cc Speed Twin vul die gaping tussen die Bonneville T120- en die sportiewe Thruxton R-modelle. Met die eerste oogopslag lyk die Speed Twin of hy vorentoe lê. Die sitplek wip op na agter en jou voete is verder voorente en laer as op die Thruxton. Die afwerking is uiters minimalisties om gewig te bespaar. Daar is die kleinste LED-stopliggie en -flikkers en selfs die agterste modderskerm eindig stomp. Die hele fiets lyk of hy in die blokke staan, reg om te hardloop.

Ek het maar ’n sagte plekkie vir die Bonnevilles. Ek weet dit maak my dalk bevooroordeeld, maar toe ek op die Speed Twin klim het ek dadelik tuis gevoel. Niks van die karakter van die Bonnevilles het verlore gegaan nie. Die eenvoudige instrumente het behoue gebly en is stylvol afgewerk. Die handvatsels het twee spieëls op die punte monteer, en vir my bly dit steeds die mees effektiewe plasing om nie heeltyd in jou elmboë vas te kyk nie.

Toe ek die aansitter druk brul die twee uitlaatpype so mooi dat ek eers moes bevestig dat dit standaard pype is. Ek wens ander vervaardigers wil kom kers opsteek by Triumph om te sien hoe hulle só ’n elegante uitlaatpyp kan ontwerp wat steeds aan die streng Europese regulasies voldoen.

Op die pad het ek die Speed Twin baie geniet. Die fiets het baie wringkrag in enige rat. Ek het selde nodig gehad om ’n rat of twee terug te skop want daar is net die heeltyd krag. Die roete wat ons gery het, was vol voertuie en ek kon nooit regtig die fiets vrye teuels gee nie. Waar die omstandighede dit toegelaat het, kon ek voel dat hierdie fiets jou ure se plesier kan verskaf. Ek sal moet wag dat ek die fiets vir ’n langer tydperk kan kry om ’n beter opinie te vorm, maar my eerste indrukke is baie positief.

Die Triumph Scrambler 1200 XE. (Foto: Joe Fleming van Bonafide Moto Co.)

Scrambler 1200 XE

Ná middagete het ons oorgeskuif na die Scrambler XE. Hierdie fiets het ’n baie lang waglys en die paar eenhede wat in die land aangekom het, het reeds huise gevind. Die Scrambler het ook ’n 1 200 enjin in, en het verstelbare Öhlins-vering. Dit hou die belofte in van goeie hantering op die pad én ’n stofpadjie of twee.

Die eerste ding wat jy opmerk op die Scrambler is dat dit ’n baie hoë fiets is. Die grondvryhoogte is merkbaar groot maar die klassieke lyne van die Bonneville is steeds daar. Die Scrambler beskik oor ’n nuwe instrumentasie eenheid wat wegbreek van die analoog eenheid van die kleiner 900 cc Scrambler.

Die uitlaatpype is in die tradisie van Scramblers hoog en uit die pad van klippe en rotse en loop onder jou regterbeen deur. Op die grond gedeeltes het die fiets geskitter. Hier het ek ook besef dat jy hierdie fiets meer soos ’n veld-fiets moet ry. Om regop te staan was buite die kwessie, want jou kuit is dan in kontak met daai twee pype. Hierdie fiets moet jy sit-sit ry, en die stert maar uitswaai om draaie.

Die Scrambler XE is ’n fiets wat uiters bekwaam is op stofpaaie en Triumph skroom nie om dit as sulks te bemark nie. Dit beteken egter nie dat hierdie fiets ontuis is op teer nie. Daar is ’n paar ryprogramme om uit te kies en daar is ook heelwat elektroniese hulpmiddels.

Almal was dit eens dat hulle al klaar van die Scrambler gehou het toe die eerste foto’s beskikbaar was, maar die Speed Twin moes hulle eers ry voor hul ’n opinie sou vel. Allen was dus in die kol toe hy beweer het dat hy die Scrambler verkoop van foto’s en spesifikasie af, maar die Speed Twin koop jy as jy hom eenmaal ervaar het.

Al die Scrambler XE modelle van die eerste besending is reeds verkoop, so as jy so een wil hê moet jy maar jou naam in die boekie gaan skryf!

Die Speed Twin kos R 174 000 en die Scrambler XE is R 205 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

sweis ·

Klink goed ek glo maar aan die koning die GS1200 bmw en verstaan n nuwe weergawe die GS 1250 is glo beter.

Gys ·

Sweis, alhoewel die GS ook my eerste keuse is (ek het n 800 en 1200), dink ek daar is bitter min verskil tussen die GS, KTM se Adventure en Truimph se Tiger en Explorer. Waarskynlik net persoonlike smaak. Amper soos met BMW, Mercedes en Audi se motors. Of soos met die Hilux en Ranger. :)

Ek sal eers n jaar wag voordat ek n 1250GS koop, want die eerste lot van n nuwe model (motorfietse en motors) het gewoonlik n klein nuk of twee wat eers met die volgende lot reggestel word. Bitter min vervaardigers toets mos hul produkte tot verby breekpunt.

Kris ·

Vergeet nie Honda se Africa Twin CBF1000 nie. Heerlike en tawwe grondpad fiets.

Risko ·

Maar ‘n lelike fiets. Die ontwepers van Truimph is maar lui.

Knulp ·

Al die retro “Scrambler” fabrikate het dieselfde 1970s scrambler styl. Triumph s’n lyk byna identies aan Yamaha en Ducati se nuwe “Scrambler” modelle. Die barndstof-tenk is ikonies 70s-80s scrambler.

Hierdei “Scramblers” vervang of kompeteer nie teen die huidige generasie enduros of ADV fietse nie.

Hulle is eerder ‘n teruggryp-nostalgie, en hulde bring aan daardie eerste doelmatige grondpadfietse wat die weg gebaan het vir vandag se grondpad-bielies.

anton ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie maar ek dink daar is maar net sekere mense wat van die fietse hou soos van Harleys ook.
Hulle is beslis nie ”Eye candy” nie.

Posduif ·

Anton, vir “Eye Candy” koop jy ‘n pienk scooter en laat jou eie vrou hom vir jou rondry!!!

Wit Willem ·

Daai Scrambler kompeteer nie met BMW GS, KTM Adventures of Triumph Tigers nie. Meer met retros soos BMW R9T se scrambler variasie en die Ducati 1200 scrambler.

Mooi fiets, maar daai kisôrs doen afbreuk aan die andersins skoon lyne en sal moet groet.

Geen manier wat ek met so warm pyp onder my been ry nie. Boonop omdat jy nie kan staan nie kan jy nie in moeilike dele die bekende ” stand up, look up, open up” dril doen nie.

Stephan de S ·

Ek lees en geniet altyd die motorfiets-manne se opmerkings!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.