Bekendstelling: Volkswagen Amarok 3.0 TDI V6 4 Motion

Die Volkswagen Amarok 3.0 TDI V6 4 Motion (Foto: Volkswagen)

In die romerige boonste kors van dubbelkajuitbakkies is daar ʼn nuwe baas van die plaas. Ontmoet die splinternuwe Volkswagen Amarok 3.0 TDI V6. Dié Amarok spog met permanente allewielaandrywing met ʼn Haldex-koppeling. Hy brul ook met ʼn klasleidende 165 kW en 550 Nm wringkrag, 0 – 100 km/h duik op in slegs 8 sekondes en hy sal aanhou draf tot 193 km/h terwyl hy 9 ℓ/100 km handhaaf op die gekombineerde siklus.

Die bakwerk en binneruim is gewone Amarok. Die paneelbord is effe opgekikker en meer stylvol gemaak teenoor dié van sy voorganger. Die nuwe paneelbord sluit ook Volkswagen se indrukwekkende klankstelsel met “App-Connect” in.

Die V6-enjin kan vir 10 sekondes op “Overboost” 180 kW en 580 Nm bied indien jy met ʼn vrag wil verbysteek. Die enjin lewer nie permanent dié krag nie, om veiligheidsredes. Die V6 is reeds skrikwekkend vinnig as jy nie oplet nie. Dié V6 Amarok is die enigste dubbelkajuitbakkie wat spog met remskywe in plaas van -dromme agter vir daardie ekstra remkrag wat benodig word.

Die Volkswagen Amarok 3.0 TDI V6 4 Motion (Foto: Volkswagen)

Die hele Amarok-reeks kom standaard met ʼn EDL, of elektroniese ewenaarslot waarby die traksiebeheer die remme gebruik om te verseker die Amarok trap vas op die wiel waar dit nodig is. Vir veldryfoendis: die outo Amarok kan 35 grade klim met ʼn volle vrag aan sy stert en die handrat ʼn belaglike 45 grade – met ʼn ton agter op!

Die nuwe Amarok spog met wat Volkswagen noem Automatic Post-Collision Braking. Indien jy in ʼn botsing betrokke is sluit die Amarok self sy remme aan sodat jy nie verder sonder beheer in ʼn moontlike tweede botsing beland nie. Nogal slim. Die Amarok het ook elektroniese sleepwastabiliseering. Indien ʼn sleepwa begin swaai sal die traksiebeheerstelsels intree en dinge onder beheer bring. Die Amarok se sleepkapasiteit is opgestoot na 3 300 kg.

ʼn Ding wat ek wil toets sodra ons die Amarok kry vir ʼn langer toets in Julie is Volkswagen se “Off road ABS”. André de Villiers, ʼn 4×4-kenner, meen die Amarok kom vinniger as enige ander dubbelkajuit op ʼn grondpad tot stilstand te danke aan dié stelsel. Ons sleep Juliemaand woonwa met dié Amarok en sal dan ʼn noukeuriger verslag gee oor sy sleepvernuf, brandstofverbruik ensovoorts. Ek het reeds so 600 km met die V6 deurgebring – en die V6 kraai beslis koning. Daar is geen dubbelkajuitbakkie wat so maklik die myle opvreet nie.

Die reeks lyk so:

Amarok 2.0 TDI 103 kW 4×2 handrat ComfortlineR487 700
Amarok 2.0 TDI 103 kW 4Motion handrat ComfortlineR544 900
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4×2 handat HighlineR521 900
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4Motion handrat HighlineR573 000
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4×2 outo HighlineR539 400
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4×2 outo Highline PlusR591 900
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4Motion outo HighlineR590 600
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4Motion outo Highline PlusR643 100
Amarok 2.0 BiTDI 132 kW 4Motion outo ExtremeR673 600
Amarok 3.0 TDI V6 165 kW 4Motion outo HighlineR665 700
Amarok 3.0 TDI V6 165 kW 4Motion outo Highline PlusR716 600
Amarok 3.0 TDI V6 165 kW 4Motion outo ExtremeR748 600

Die reeks word gedek deur ʼn drie jaar/ 100 000 km waarborg en vyf jaar/ 90 000 km diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet Pompies ·

Die Amarok trap alreeds diep spore in Suid Afrika en met die nuwe V6 kan dit beter gaan. Ek verstaan dat die V formasie van die silinders is 90 grade, iets besonders en uniek.

Paul ·

Dromremme lewer meer remkrag as skyfremme in gewone toestande.

Die nadeel van dromremme is eenvoudig dat hulle vinniger oorverhit en dan “fade” as hulle oorverhit is, soos as mens teen ‘n lang bergpas afry en nie weet hoe om die ratte te gebruik om die motor te rem nie.

Grens ·

Paul, jou stelling is ongelukkig nie korrek nie. Onder alle omstandighede sal korrekte vervaardigde skyfremme altyd dromremme ver wen.
Skuifremme loop koeler, reageer vinniger, weeg ligter, meer betroubaar, en lewer baie meer remkrag as dromremme.
Die enigste nadeel is dat dit duurder is as dromremme.

Paul ·

Ah, jy is korrek, Grens.

Ek was deurmekaar met die effek wat die “swept area” verskil tussen dromme en skywe het in terme van remkrag. Die feit dat dromremme maklik ‘n groter “swept area” as skyfremme kan hê, beteken nie dat hulle noodwendig meer remkrag lewer nie. Die groter “swept area” maak verkoeling slegs teoreties makliker, maar steeds is skyfremme met ‘n kleiner “swept area” se verkoelingsvermoë beter.

Bekommerd ·

Jammerte Nissan julle is so ver agter dit lyk of julle voor is, die nuwe Navara is 3 jaar te laat nou sukkel om die nuwe Navara van die grond af te kry baie jammer.

Rupert Ashford ·

Ai wens ek kon een he maar die pitte ontbreek. Welgedaan Volkswagen.

TvdM ·

Die Amarok se krag is nie iets nuut in die mark nie. In 2009 is die Nissan Navara V6 diesel bekendgestel met 170kW en ook 550Nm. Sy prys het toe teen hom getel en ek glo daar het nie veel van hulle verkoop nie, hopelik is dit nie die geval met die Amarok nie.

Anton KLD ·

Die Amarok se markaandeel vertel sy geskiedenis. Nie juis baie diep spore nie. Die lekker hoë prys gaan ook nie skielik maak dat daar nou meer as 1,000 per maand verkoop nie.

Basson ·

M.i. beskik die Ama-trok(kie) oor die beste rygerief van al die dubbelkajuit modelle beskikbaar! Werklik ‘n openbaring – en die ‘intree’ 165 Kw is nie sleg geprys.

Gelukkige jy Brendon!!! :)

Leonard van der Dussen ·

Amarok is slim voertuig, baie positiewe punte, maar hoop die nuwer modelle sedert so vier jaar gelede is nou Afrika-gereed. In elk geval ‘n lekker voertuig vir die 90% wat nie regtig ver van die teerpad af ry nie. Maar in Afrika se sand in…. hoop daar het heelwat veranderinge gekom intussen.

Tjert ·

VW het MOEILIKHEID!!! Daar staan geskryf…”wee die een deur wie die struikeling kom…” Baie gaan swig, knak en struikel voor hierdie versoeking!!! Ek hopie ek is een van die struikelinge nie… die stats gee my sikke lekke rillings en die prys sikke lekke grillings….oish…. ag nee sies man!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.