Bekendstelling: Wat is ʼn kruismodel?

Die Hyundai Kona. Foto: Verskaf

In die tagtigerjare (toe ek ʼn tjokker was) was voertuie eenvoudig. Mens het klein luikrûe, sedans, bakkies en groot 4×4-sportnutsvoertuie gekry. O ja, en kombi’s. Toe het dinge bietjie mal begin raak. Mens kry nou mini, klein en mediumgrootte luikrûe, asook klein, mediumgrootte, groot en superluukse sedans. Mens kry MPV’s – of klein bussies, groot bussies, klein sportnuts, mediumgrootte sportnutse … ek kan heeldag aanhou.

Een van die nuwe nisse is die kruismodel. Vat ʼn klein tot mediumgrootte luikrugmotor, gee dit ʼn unieke ontwerp, lig hom bietjie van die grond af – en siedaar, die kruismodel is geskep. Dit is so halfpad tussen ʼn luikrug en ʼn sportnutsvoertuig. Een van die gewildste kruismodelle is seker die Nissan Juke.

Die Hyundai Kona. Foto: Verskaf

Hyundai het nou besluit hulle wil ook ʼn rolspeler in daai mark hê. Welkom almal aan die splinternuwe Hyundai Kona. Dit lyk modern en modieus met ʼn sterk spesifikasievlak aan die binneruim. Hyundai se 7″-raakskerm-navigasiestelsel het ook Android Auto en Apple Carplay. Albei stelsels werk puik. Die stuurwiel kan kantel en vir reik stel. Daar is knoppies vir oproepe antwoord en om die spoedbeheer te werk. Die bestuurdersitplek kan op en af stel, so mens is regtig vinnig volkome gemaklik aangesien die sitplek en stuurwiel verstelbaar is.

Daar is twee enjins, en twee ratkaste beskikbaar in slegs twee modelle. Hyundai se nuwe Kappa 1.0-T-GDI-driesilinderturbopetrol-enjin is gekoppel met Hyundai se 6-spoed-handratkas en bied 88 kW en 172 Nm. Topspoed is 181 km/h en mens sal lag-lag 6.8 ℓ/100 km kan bereik. Die ander model kry Hyundai se 2.0-Atkinson- atmosferiese viersilinderpetrol. Dié enjin bied 110 kW en 180 Nm en is gekoppel aan Hyundai se 6-spoed-outokas. Dié model se topspoed is 194 km/h en sal ʼn brandstofverbruik van 7.2 ℓ/100 km kan bereik.

Die Hyundai Kona. Foto: Verskaf

Die Kona is goed geveer sonder om sportief te probeer wees. Dit is volgens my ʼn reuseveer in Hyundai se hoed. Die Kona is vyf sterre toegeken in sy Euro NCAP-veiligheidstoetse. Op die pad voel die Kona baie aangenaam en die binneruim en ritgehalte sommer luuks. Die bougehalte van dié Kona is onmiskenbaar. Ons sal weer met hom ʼn tydjie deurbring, verslag lewer oor hoe hy hom gedra as stadsmotor en hom boonop met sy direkte mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

Hyundai Kona 1.0 T-GDI Executive handratR379 900
Hyundai Kona 2.0 NU Executive outoR399 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg asook ʼn 5 jaar/90 000 km-diensplan en 5 jaar/150 000 km-padbystand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Nou wanneer bring Hyundai die elektriese weergawe van die Kona Suid Afrika toe?

Pieter ·

Ek verstaan nog steeds nie die punt van die kruismotors nie?

Jy kan nie rerig grondpad ry met hulle nie, en die swart plastiek lyk lelik.

Koop dan maar eder die gewone luikrug.

koos1 ·

Aai kona. So jy moet of handrat diesel of outo petrol ry.
Nee wat Hyundia, ek dink nie julle het dit goed oorweeg nie.
En vir amper R400k. ek dink julle moet bietjie na die prys ook kyk. Veral as jy die Tucson vir sowat R20k meer kan kry.

Gerhard ·

Neem die swakste eienskappe van ‘n stasiewa en ‘n 4×4 en jy het ‘n sportnutsvoertuig. Neem die swakste eienskappe van ‘n luikrug en ‘n sportnutsvoertuit enjy het ‘n “kruismodel”. Meer en meer nuttelose voertuie op die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.