Bekendstelling: Welkom terug, Corolla …

Die Toyota Corolla Xr. Foto: Verskaf

Vervaardigers se strategie met hul produkname is nie altyd duidelik nie. Party produkte het ʼn naam in een mark – en heeltemal ʼn ander naam in ʼn ander. Een só ʼn produk is die Toyota Corolla-luikrug.

Aanvanklik hier in Suid-Afrika was dit die Conquest. Toe ʼn Tazz. Toe ʼn RunX. Toe ʼn Auris. Uiteindelik is dit nou wat dit nog altyd was … ʼn Toyota Corolla-luikrug.

Wat is dit? Dit is eenvoudig die Auris-vervanger. Dit is ʼn C-segment-luikrug wat Toyota strategies teen VW se Golf en Ford se Focus plaas. Die Auris kon nooit regtig daai skoene volstaan nie, maar ek is oortuig dat die nuwe Corollatjie die knuppel in die hoenderhok gaan gooi.

Wat is nuut? Alles. Dié nuwe Corolla is op Toyota se TNGA (Toyota New Global Architecture) gegrond. Spesifiek GA-C … of Global Architecture C. Dié onderstel is 60% meer rigied as sy voorganger. Dis nie net sterker nie, maar ook ligter met ʼn laer swaartepunt.

Die Toyota Corolla Xr. Foto: Verskaf

Dié platform bring daarmee saam Toyota se nuwe 1.2-viersilinderturbopetrolenjin. Die enjin bied 85 kW en 185 Nm tussen 1 500 en 4 000 r/min. Daar is ʼn keuse tussen óf ʼn 6-spoed-handrat óf 10-spoed-CVT (palwisseltransmissie). Gewoonlik hol ek die vlaktes in as mens sê CVT – maar die spesifieke eenheid in die Corolla is die beste CVT wat ek tot dusver teengekom het.

Is dit lekker? Verbasend … regtigwaar indrukwekkend lekker. Geen vervelige ou Toyota hier nie. Die binneruim is baie gemaklik met lieflike sitplekke voor. Wat veral beïndruk, is die sagte rit. Die sagte rit kom nie ten koste van padhouvermoë nie. Eintlik heeltemal die teenoorgestelde. Die Corolla het puik vering met ʼn baie akkurate stuur. Daar is ook amper geen bakrol om van te praat nie.

Die Toyota Corolla Xr. Foto: Verskaf

Die resultaat dán is ʼn luikrug wat gemaklik is, lekker ry en tóg sy naelloopskoene kan afstof op Bainskloofpas. As jy self al daar gery het, sal jy weet die pad is regtig nie seepglad nie, en die Corolla het nie een keer geskrik nie, al het ons soos ʼn klomp skobbejakke gejaag. Mens hoef ook nie te lag vir die 1.2 nie … die Corolla kan 195 km/h op die GPS haal.

Is daar enige probleme? As ek regtig moet krap, net een. Daar is ʼn lekker groot raakskerm-inligtingstelsel. Ek sal dit met CarPlay en Android Auto toegerus wou hê … maar bygesê, geen Toyota bied CarPlay nie.

Hoeveel? Daar is drie modelle in die reeks. Twee intreemodelle, Xs … al is hulle allesbehalwe intree. Een is handrat, die ander is CVT. Dan is daar die reeksleidende Xr CVT. Hy kom met die lekkerder sitplekke en chroomafwerkings hier en daar. Al die modelle kry ʼn indrukwekkende sewe lugsakke, ABS, EBD en  ISOFIX.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla 1.2T Xs handratR336 800
Toyota Corolla 1.2T Xs CVTR347 400
Toyota Corolla 1.2T Xr CVTR367 100

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan.

Ons bring weer in Mei tyd saam met die Corolla deur. Ons sal dan sien hoe hy hom in die verkeer gedra en hom dán teen sy mededingers vergelyk. Vir nou sal ek sê die Corolla hoef geensins vir die Golf terug te staan nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

TvdM ·

Baie waar. As voorbeeld kan mens vir R340 000 die top spesifikasie Focus met 132kW en 240 Nm koop. Dan klink die 85kW en 185Nm vir R27 000 MEER darem te min en te dun.

Arno ·

Lyk soos n Mazda 3 van agter af. Binneruim is ok maar daai skerm wat op die dash soos n after thought lyk is belaglik. Kan net sowel n Tab teen die dash plak sou dieselfde gelyk het….

Robert ·

‘n 1.2 turbo wat 85 kW produseer, ford se 1 liter turbo ecoboost produseer 93kW en is baie ekonomies.

Vraagteken ·

Hulle noem dit ‘safety factor’. Enige engine kan baie meer oplewer as wat die boekie sê. Die vraag is: watse afstand wil die vervaardiger bereik voordat meganiese probleme begin?

siener ·

As ek die komitaar so dophou lyk dit vir my Toyota het te lank op sy naam staatgemaak. Ander vervaardigers is hom voor wat prys en kwaliteit betref want die publiek begin nou appels met appels vergelyk as dit by betaal kom.

Vraagteken ·

Prys-ja, kwaliteit-nee. Jy betaal juis vir daardie kwaliteit. Gaan ‘n Ford regtig so lank hou soos ‘n Toyota?

Siener ·

@vraagteken. As Hilux eienaar wat moeg is vir probleme kyk ek sterk na Ford. Jammer my toyota vriend maar toyota breek ook al probeer ons dit wegsteek en wegpraat

Gys ·

Siener, jy kry die “gewone” Toyotas en dan kry jy die Toyota Landcruiser bakkie. Gewone Toyotas breek. n Cruiser breek nie. Ek ry n cruiser, die ou 4.2 diesel. Daai ding is n kanniedood.

Vraagteken ·

Siener, jy is seker die enigste eienaar wat so oor ‘n Toyota kla. Terloops, daardie raptors gee gereeld ratkas probleme (die 3.2 is te sterk vir die ratkas), om nie eers te praat van die turbo probleme op die 2.2 nie. Weet jy dat Ford die ranger restrict het op sy eerste diens sodat hy moet langer hou?

My Toyota gee my nie ‘n dag se probleme nie. En ek weet as ek die sleutel draai dan sal hy loop. Watse probleme gee jou Toyota jou?

Siener ·

@ Vraagteken. As jy weer jou toyota diens, loop ‘n bietjie in die werkswinkel rond. Nie alle toyotas daar word gediens nie. Hulle breuk ook al wil jy dit nie weet nie. My hilux ratkas lek so olie na verskeie kere se herstel. Toyota SA is al besig met my probleem. Ons by Toyota steek dit net mooi weg (veral by die Ford manne) todat jou eie hilux begin probleme gee. En die groot geheim is ek is nie die enigste hilux ou met ratkas probleme nie. My hilux start ook as ek die sleutel draai maar ek is moeg vir olie lekke op my plaveisel.

marco polo ·

Behoort goed te verkoop, meeste SAners is al vir geslagte lank gebreinspoel.deur Toyota se bemarking.

Vraagteken ·

Dis nie net Toyota wat die publiek breinspoel nie. BMW, Volkswagen, en veral Audi is ook baie goed daarmee.

Chris Ws ·

Toyota hou daarvan om gereeld hul “wen resepte” te vervang met bollie.Vat nou maar die Conquest.Hy is vervang met die Run – X.Toe verkoop hy min en toe vervang hulle hom met die Auris.Hulle is so skaars op die paaie dat as jy een sien jy ‘n kamera wil gryp en hom afneem!Daars ‘n rede hiervoor.Hulle kon net nie meeding met die “kompetiesie” nie.Hierdie luikrug kan DALKIES iets meer beteken maar sy prys plaas hom in ‘n BAIE sterk mededinging sektor in SA se motormark.Tyd sal leer.

Grens ·

Die Toyota’tjie gaan gou ‘n topverkoper word. Soos gewoontlik gaan dit ‘n motor wees wat sy 2de handse waarde gaan hou. Almal kla oor die prys, maar ek ry nog steeds enige dag eerder ‘n tweedehandse Toyota, voor ek dink aan ‘n nuwe brandende Ford.

Siener ·

@Grens. My Toyota handelaar ken my Hilux se geskiedenis dus waarom hulle my ‘n swak inruilling offer. Dis waarom ek vir die nuwe Ford Raptor wag. Om ander fabrikate swak te maak soos brandende Ford maak jou Toyota nie beter nie. Kyk na die Toyota accellarator probleem wat meer as 90 mense se lewens ge eis het voordat jy praat van ander make se probleme. Toyota het geskik vir R1.2 Biljoen. Elke vervaardiger het sy eie proleme en spoke wat hom jaag. Geniet jou toyota as hy jou as eieneaar goed behandel.

Grens ·

@Siener – Dis reg so so, jy moet jou nuwe Ford ook geniet. Ons kan dalk lank stry oor watter voetuig die beter een is, maar dit is die een wat jou seker pas, wat die beste dan is.
Daar was wel probleme en Toyota het dit reggestel, dit met die teenoorgestelde houding van Ford wat nou nog nie wil erken hulle het probleme gehad nie. Onthoe maar net om ‘n vol brandblusser saam te ry in jou nuwe Fordjie.

Chris Ws ·

Hehehehehe ! Hoe lekker lag ek nou hier in my 18 jaar oue Isuzu dubbel kajuit wat steeds meer as 13 km per litre gee en foutloos ry!Geniet maar jul Fords en Toyotas.

Andre C ·

@Grens ,lyk dan nou asof jy dink die Raptor hou n brandgevaar in ! Toyota het nou Ford se leiding gevolg en n beperkte weergawe Hilux GR gebou,+-535 eenhede.Die Hilux se nuwe sierrooster lyk ook nou baie na n Ranger sin.Wie neem nou eintlik leiding . Ek is onpartydig en ploeter maar voort met n dorstige 1996 Nissan dubbelkajuit wat net aanhou !

Diesel ·

Ek wil net noem dat Toyota maar net soos enige ander voertuig sy probleme gee. Ek praat uit ondervinding en ek wonder waarom Toyota so uit hul pad gaan om altyd te verseker dat hul voertuie in artikels en in tydskrifte so pertinent ten toon gestel word of oor geskryf word. Wonder maar net?

Judge Dredd ·

Ek sien hierdie artikel het verander in ‘n “wie se bakkie nou eintlik beter is”.

Wel – ek hoop maar dat die Hyundai Santa Cruz na SA kom. Google dit.

TvdM ·

Die ouens wat so in hulle Toyotas glo ry seker nog nie lank Toyota nie. Ek ry self Toyota en het met twee afsonderlike modelle in die omgewing van 250 000km afgelê. Beide van hulle het probleme van nuuts af gehad waarvoor hulle moes terug na die handelaar en albei het ook maar in rammelkaste verander hier na die einde se kant toe. My derde een is nou op 280 000 maar ek weet nie of hy 300 000 km gaan sien sonder duur herstelwerk nie. En op daai kilometers is die inruilwaarde net so treurig soos van die ander Japanese en Koreaans vervaardigers.

Hulle het my darem ook nog nooit so in die steek gelaat dat ek nie tot by ‘n handelaar kon kom nie.

Vraagteken ·

TvdM, jy besef daar is nie veel voertuie wat 280 000km sal kan doen nie? Jy kla oor ‘n voertuig wat al klaar baie beter as die kompetisie gedoen het. Wat is die ander alternatief?

attie ·

Ek verpes ‘n Toyota. Ek begeer n nuwe kar maar ons Toyotas wil nie moeilikheid gee nie…verdomde ding !

Callie van der Merwe ·

Vaderland, ry elke persoon hy wat hy wil en wat hy kan bekostig! Ek raak bekomerd oor mense se houdings teenoor mekaar! Ek ry Honda en Isuzu maar probeer nie voorgee al die ander is sleg nie! Koel af mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.