Bekendstelling: XC40 dalk Volvo se ridder op ʼn wit perd

Die nuwe Volvo XC40 (Foto: Volvo)

Volvo bou tans asemrowende karre. Bitter mooi, met fantastiese afwerkings en veiligheidstelsels. Ongelukkig is hul nuwevoertuigverkoopsyfers nie waffers nie. Oor die afgelope vier maande, Desember tot Maart, het Volvo ʼn gemiddeld van 129 voertuie per maand verkoop. Ek glo dat die Volvo XC40 die vermoë het om dubbel daai syfers te laat verkoop net op dié model.

Welkom aan die splinternuwe Volvo XC40. Dit is ʼn kompakte sportnutsvoertuig – dink Volkswagen Tiguan. Daar het in Maart 2018 525 Tiguans verkoop. Ek dink die Volvo XC40 is ʼn puik mededinger vir die Tiguan, op alle vlakke – van prys tot spesifikasie.

Die nuwe XC40 ontleen baie van sy tegnologieë aan sy groter XC60- en XC90-boeties. Die buiteruim is eg Volvo en mens sien die Skandinawiese invloed van ʼn myl ver. Mens weet ook dadelik dat dit ʼn Volvo is, en dit is geensins ʼn slegte ding nie.

Die nuwe Volvo XC40 (Foto: Volvo)

Die binneruim is waar dinge baie spesiaal raak. Die verpakking is regtigwaar slim. Luidsprekers is agter die paneelbord ingeskuif, en dit laat reusestoorplek in die deurkaarte waar mens skootrekenaars en so aan kan bêre. Die inligtingskerm van die groter Volvo’s is net só oorgedra na die XC40. Dit vat ʼn paar minute en dan is mens gekonfyt met die stelsel. Van die knoppies in die binneruim, soos dié op die lugopenings, is van die mooiste aluminium gemaak en die aksie voel uiters luuks met ʼn bevredigende klikgeluid as mens dit oop- en toedraai. Die beenruimte vir agterste passasiers is indrukwekkend vir dié segment en die kattebak ruim. As mens die sitplekke se rugleunings platslaan, word die kattebakvloer heeltemal plat en bied dan 1 336 ℓ-spasie.

Volvo Vision sê dat daar teen 2020 niemand erg beseer of tot sterwe sal kom in ʼn ongeluk in ʼn nuwe Volvo-produk nie. Ek het ondervinding met Volvo se magdom veiligheidstelsels, en almal werk puik. Die XC40 het slim nuwe parkeringtegnologie en truratkamera met kruisverkeerwaarskuwing. Dit werk regtig lekker as mens uit blinde opritte of parkerings terugstoot.

Die nuwe Volvo XC40 (Foto: Volvo)

Die nuwe XC40-reeks is lekker wyd en omvattend. Daar is verskeie enjins, ratkaste en voor- of allewielaandrywing. Die T3 is ʼn nuwe driesilinderturbopetrolenjin wat 115 kW en 265 Nm bied. Dit is die intreemodel met ʼn handrat en voorwielaandrywing. Ons het nog nie met dié enjin gery nie – maar glo dit gaan puik brandstofverbruik bied. Die twee enjins wat ons by die bekendstelling ervaar het, is D4 en T5. D4 bied 140 kW en 400 Nm en 5.1 ℓ/100 km. Die T5 bied 185 kW en 350 Nm met 7.2 ℓ/100 km. My gunsteling is die D4. Ek glo dit bied oorgenoeg krag én goeie brandstofverbruik.

Ek voorspel baie goeie dinge vir Volvo en die XC40. Ons sal probeer om vir die indiepteresensie ons hande op die T3-model te kry. Bewys jouself ʼn guns – gaan toetsbestuur een, en neem jou tjekboek saam. Jy kan jou eie XC40 op verskeie maniere verpersoonlik met kleurskemas, en verskeie kleure aan die binneruim. Om jou eie XC40 te bou – klik hier.

Die reeks lyk só:

XC40 T3 handrat Momentum115 kW/265 Nm6.2 ℓ/100 kmR489 536
XC40 T3 handrat Inscription115 kW/265 Nm6.2 ℓ/100 kmR521 336
XC40 T3 handrat R-Design115 kW/265 Nm6.2 ℓ/100 kmR528 336
XC40 D4 Geartronic AWD Momentum140 kW/400 Nm5.1 ℓ/100 kmR600 392
XC40 T5 Geartronic AWD Momentum185 kW/350 Nm7.2 ℓ/100 kmR610 866
XC40 D4 Geartronic AWD Inscription140 kW/400 Nm5.1 ℓ/100 kmR632 092
XC40 T5 Geartronic AWD Inscription185 kW/350 Nm7.2 ℓ/100 kmR642 666
XC40 D4 Geartronic AWD R-Design140 kW/400 Nm5.1 ℓ/100 kmR639 192
XC40 T5 Geartronic AWD R-Design185 kW/350 Nm7.2 ℓ/100 kmR649 666

Dié pryse sluit CO2-belasting in. Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RAV4 ·

Baie mooi en innoverend van Volvo, geluk aan hulle!

(Verbeel ek my of volg die 2019 RAV4 ‘dieselfde’ lyne, mbt die meer ‘hoekige’ benadering?)

NJ ·

Man, ek voel ongelukkig dieselfde oor die nuwe Toyotas. Skielik het hulle almal dieselfde agter-ligte.. Waar die klein dun liggies miskien mooi lyk op ‘n sedan, lyk dit vir my verspot op die Fortuner en Rav4. Die nuwe Toyota SUV’s lyk asof hulle almal Corolla ligte gekry het. Ek sal definitief na hierdie Vollies gaan kyk want ek wag al ‘n rukkie vir die XC40 en ek kan nie die groter XC60 bekostig nie en het nie die 7-sitplekke van ‘n XC90 nodig nie. Dan kan ek uiteindelik van my simpel, onnosele BMW SUV ontslae raak met sy goedkoop plastiek , dom elektronika en patetiese swak ergonomie.

Hennie ·

Stem saam Niel, dis hoekom hulle seker se “For Life” want dis hoe lank jy met ‘n Volvo gaan sit.

Ook maar eintlik net ‘n Ford in ‘n ander baadjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.