Beperkte weergawe van uiters gewilde Polo bekend gestel

Die Polo Mswenko. (Foto: Verskaf)

In Maart 2010 het Volkswagen dieselfde resep wat hulle in die tagtigerjare met die Citi Golf bemeester het op die Polo toegepas. Dis waar hulle ʼn uitgaande model neem en hom hersien vir plaaslike produksie en verkoop onder ʼn nuwe naam langs die nuwe model. Dink aan die Citi Golf, wat ʼn Golf 1 was en nét in Suid-Afrika langs die Golf II verkoop is as die Citi Golf.

Die Polo Vivo is intussen gebore. Sedertdien het Volkswagen Suid-Afrika 261 285 van die uiters gewilde buksies aan die Suid-Afrikaanse publiek verkoop. Dit is puik vir ʼn paar redes, maar een wat uitstaan is dat daai voertuig plaaslik vervaardig word. Al sy onderdele word ook plaaslik vervaardig. Dit is ʼn reusehupstoot vir die plaaslike ekonomie, iets wat ons nou meer as ooit broodnodig het.

Die nuwe Vivo, die Mswenko, is ʼn visuele opknapping van die Polo Vivo 1.4 Comfortline. Mswenko is min of meer die Zoeloe-weergawe van “wintie” in Afrikaans.

Die model kan maklik uitgeken word aan sy Mswenko-plakkertjies, ʼn chroom uitlaatpyp, 16”-sierwiele, swart dak, donker ruite en anderskleurige spieëls. Aan die binneruim kry die Mswenko Ocean Blue-sitplekke, swart dakbedekking, silwer paneelbordaksente, App Connect vir Android Auto en Apple Carplay, ses luidsprekers en ʼn leer stuurwiel en rathefboom.

Dié beperkte weergawe is slegs in vier kleure beskikbaar: Pure White, Reflex Silver, Limestone Grey en Reef Blue.

Die Polo Mswenko is nou beskikbaar by handelaars teen R246 900. Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 120 000 km waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Wat sou die reaksie wees as bv. Toyota ‘n kar ‘n Afrikaanse naam gee?

Wielspore ·

Mooi stukkie yster, nog ‘n puik produk uit die VW stal, eg Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.