Beskerm jou motor só teen misdadigers

Foto: Pixabay

Volgens die jongste verslag van Statistieke Suid-Afrika word daar daagliks by soveel as 382 motors in Suid-Afrika ingebreek, met meer as 139 000 van dié voorvalle elke jaar.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van een van dié voorvalle wat op ʼn sakeperseel in Craighall in Johannesburg plaasgevind het, wys hoe ʼn groep misdadigers binne net drie minute toegang tot drie motors verkry en dan van die toneel vlug.

Maanda Tshifularo, hoof van Dialdirect, sê Suid-Afrikaners moet nou des te meer waaksaam wees om te voorkom dat hulle een van 16 slagoffers per uur word.

“Hierdie voorvalle kan dramaties verminder word, of dalk selfs heeltemal stopgesit word as almal saam werk om sekere maatreëls te bevorder,” sê Tshifularo.

Dialdirect het dié wenke saamgestel:

  1. Maak seker dat jou voertuig in ʼn goed beligte en bewaakte area geparkeer word.
  2. Maak seker dat jou voertuig gesluit is nadat jy die motor met behulp van die afstandbeheer gesluit het – sommige misdadigers het ʼn manier om dié proses te fnuik en jou onder die indruk te plaas dat jou voertuig gesluit is. Dit het tot gevolg dat jou motor nié sluit nie, selfs al druk jy die sluit-knoppie.
  3. Wees versigtig vir misdadigers wat soos verbygangers lyk en jou oorval sodra jy jou voertuig se deure oopsluit.
  4. Moenie waardevolle items in jou voertuig laat nie – en as jy dit doen, maak seker dat die items buite sig is.
  5. Moenie jou voertuig as ʼn “kas” gebruik nie. Maak elke dag jou voertuig skoon om die versoeking vir misdadigers om toe te slaan te verminder.
  6. Versterk jou motorvensters met ʼn film wat ʼn ekstra laag beskerming aan jou vensters bied.
  7. Belê in ʼn alarmstelsel indien jou voertuig nie met een toegerus is nie.
  8. Moet nooit huissleutels of belangrike dokument in jou voertuig laat nie.
  9. Maak seker dat jou motor – en die items wat jy gereeld saam met jou vervoer – ten volle verseker is.
  10. Laai die app Namola af – dié app is ʼn vertakking van Dialdirect en stel jou in staat om hulp te ontbied in enige noodsituasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nog iets ·

Nog iets by: Kry vir jou ‘n pedaalkluis waar jy belangrike items kan toesluit sonder om dit saam te dra.
Indien moontlik parkeer alleen sodat jou voertuig maklik sigbaar is.
Sou jy inkopies gedoen het en nie veilig voel, loop verby jou voertuig en draai skielik om, jy sal wel iemand sien huiwer indien jy agtervolg was.
‘Human rights’ verhoed jou egter om ‘n lokval te stel.

Connie ·

‘N alarm werk goed want die lawaai trek aandag en maak skelms op hul senuwees.

Piet Pompies ·

Na inkopies by die winkel loop ons nie in dieselfde gang na ons geparkeerde motor, ons loop een of twee rye voertuie weg van ons geparkeerde motor se gang af. Maak dan ‘n 90 grade draai en dan na die motor toe. As enige iemand dan nog steeds agter jou aanloop het hy planne, hou verby jou motor terug winkels toe en stel sekerheid in kennis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.