Bestellings stroom in vir Musk se Cybertruck

Tesla se Cybertruck. Foto:(AP Photo/Ringo H.W. Chiu)

Die Suid-Afrikaans gebore entrepreneur Elon Musk sê daar is al meer as 200 000 voorafbestellings ontvang vir sy elektriese Cybertruck.

ʼn Video van die bekendstelling van Tesla se nuwe bakkie, ofte wel Amerikaanse “pickup truck”, het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei nadat twee van die bakkie se ruite, wat van “gepantserde glas” gemaak is, met ʼn metaalbal gegooi is en versplinter het.

Die nuwe bakkie se ontwerp word deur sommige beskryf as post-apokalipties terwyl ander meen dit lyk soos ʼn futuristiese pantservoertuig.

Volgens Musk is die ontwerp van die bakkie deels geïnspireer deur die Esprit-sportmotor in die James Bond-fliek The Spy Who Loved Me van die 1970’s. In die rolprent word die motor ook onder water gebruik.

Elon Musk staan voor die Cybertruck nadat twee vensters met ‘n staalbal gegooi is en versplinter het. (AP Photo/Ringo H.W. Chiu, File)

Voorafbestellings vir die bakkie behels ʼn deposito van $100 en is volgens Tesla ten volle terugbetaalbaar. Vervaardiging van die bakkie sal na verwagting laat in 2021 begin.

Die Cybertruck se prys begin by $39 900 en volgens Tesla kan die bakkies tussen 250 en 500 myl ry met ʼn volgelaaide battery, afhangend van die model.

Musk het gesê die Cybertruck sal Tesla se laaste produkbekendstelling wees vir ʼn wyle, maar dat daar wel volgende jaar verskeie verrassende tegnologie-aankondigings van die maatskappy se kant sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judge Dredd ·

Lelike bakkie – ek wag vir die Hyundai Santa Cruz……

Bottelbek ·

Laat dink my meer aan die Chev Nomad van 1976 en die eerste Toyota TUV bakkie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.