BMW-brood aan alle kante gebotter?

BMW X5 xDrive40e Foto: BMW Group

BMW X5 xDrive40e Foto: BMW Group

BMW het sopas sy nuwe X5 xDrive40e sportnutsvoertuig bekendgestel. Aan die buitekant lyk dit presies soos enige ander X5, behalwe vir die klein “e” agteraan die naamplaatjie en die flap wat die laaiprop toemaak.

Waarvoor staan die “e” dan? Dit is BMW se eerste inprop-hibridiese sportnutsmodel. Die X5 xDrive40e het ʼn 4 silinder turbopetrol-enjin wat 180kW en 350Nm lewer – saam met die elektriese motor wat 83kW en 250Nm byvoeg.

Albei word dan aan die allewielaandrywingstelsel gekoppel en lewer dan ʼn totaal van 230kW en 450Nm. Dit sal die groot sportnutsvoertuig versnel van 0 – 100 km/h in slegs 6,8 sekondes. Nie te versmaai nie. Ek is ʼn groot voorstander van die kraglewering van ʼn elektriese of hibridiese motor en die feit dat die batterye laai terwyl jy rem of afdraande ry is vir my fantasties.

Ongelukkig gaan my komplimente daar tot stilstand kom. Inprophibridiese motors werk baie goed oorsee, vir ʼn paar redes. Hulle krag word baie skoner opgewek as hier in Suid-Afrika waar ons nog grotendeels steenkool gebruik om krag op te wek. In ʼn stad soos Londen, is daar ʼn buitensporig duur “congestion charge” vir sentraal-Londen. Hibridiese of elektriese motors is “congestion charge free”. Hulle is ook vrygestel van die CO2-uitlaatgasbelasting wat verskriklik duur is in daardie lande. Londen het planne om teen 2020 ʼn uitlaatgas-vry sone in werking te bring en daarom is hibridiese of elektriese voertuie baie gewild daar.

BMW X5 xDrive40e Foto: BMW Group

BMW X5 xDrive40e Foto: BMW Group

In Suid Afrika, waar ons gereeld baie ver ry, teen hoë snelheid – is ek oortuig die xDrive40d is ʼn baie beter besluit, vir dieselfde geld as die xDrive40e. Die xDrive40d het dieselfde 230kW, maar ʼn asemrowende 630Nm wringkrag. Die toetssyfers dui aan dat die 40d 6l/100 km brandstof gebruik, en die hibriede slegs 3.3l/100 km. Dit is absoluut onmoontlik oor ʼn langer roete, meer as die 30 km wat die battery bied vir ʼn 2-liter turbopetrolenjin in ʼn X5, om beter te kan vaar as dit wat die diesel bied.

My mening – die X5 is ʼn fantastiese motor. Luuks en gebou soos min. Met die regte enjinkeuse sal jy die grootste karavane beskikbaar kan sleep sonder enige kwale en teen die spoedgrens op nasionale paaie sal die diesel verskriklik lig op brandstof wees. My geld sou gaan op die goedkoper X5 xDrive30d en dan gebruik ek die kleingeld om my opsies te kies.

So prys die X5:

xDrive25d170kW/ 500NmR 887 000
xDrive30d190kW/ 560NmR 964 000
xDrive40e230kW/ 450NmR1 097 500
xDrive40d230kW/ 630NmR1 088 500
xDrive50i330kW/ 650NmR1 199 000
M50d280kW/ 740NmR1 265 000
M423kW/ 750NmR1 786 000

Ander opsies

Volvo XC90 T8300kW/ 640NmR1 029 700
Mercedes-Benz GLE350d190kW/ 620NmR1 038 226
Audi Q7 3.0TDi Quattro183kW/ 600NmR967 500
Lexus RX450h SE230kW/ 335NmR1 074 800
Range Rover SDV6 SE215kW/ 600NmR1 274 546

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cobus ·

Kyk ook na die Audi Q7 S met uistekende werkverigting. Voorwa ‘n wenner

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.