BMW F 900 R – Gemanierde kaalfiets

Foto: Brian Cheyne

BMW het onlangs hulle F 900-reeks aan die pers bekend gestel. Daar is twee modelle in die reeks, die R en die XR. Ek kon uiteindelik ʼn bietjie tyd deurbring op een van hulle, die F 900 R.

Ek het aanvanklik aangeneem dat F 900 dieselfde kragbron het as die F 850 GS. Die F 900 se enjin is egter 42 cc groter as die eenheid in die GS. Die groter enjin stoot die kraglewering tot meer as die 100 pk-merk. Die enjin is ook nou verpak in ’n baie meer elegante pakket as die uitgaande F 800 R.

Die F 900 R se stilering sal jou nou nie twee keer laat kyk nie. Dit skree nie in jou gesig soos sy mededingers nie. Ek dink nou aan fietse soos die Kawasaki Z 900 en KTM se Duke 890. Jy sit steeds regop op die R en die ergonomie is uitstekend. Die saal vertoon klein, maar bied heelwat ondersteuning. Die F 900-embleem is netjies op die saal geborduur. Die handvatsels is breed en die skakelaars is pure BMW.

Foto: Brian Cheyne

As dit by spesifikasie kom, troef die BMW al die rolspelers in hierdie segment. Die toetsfiets was toegerus met verhitte grepe, spoedbeheer en snelskakeling. Die instrumentepaneel is die bekende BMW-eenheid en werk uiters goed. Dit is duidelik en leesbaar, selfs in direkte sonlig. Jy kan ook ’n spesiale sport instrumentasie kies wat dinge aandui soos jou leunhoek, hoe hard jy rem en hoeveel die tolbeheer inmeng. Hy onthou ook die hoogste waarde, so dit kan nogal ’n verslawende speletjie raak.

Een eienskap van die F 900 R wat my egter die grootse plesier verskaf het, was die enjin se klank. Die 92 Nm-wringkrag word gelewer teen 6 500 rpm, maar 87 Nm is al beskikbaar vanaf 4500 rpm. Dit beteken dat die fiets baie lekker trek en die meegaande klankbaan val goed op die oor. Die R grom heel aggressief, so asof hy homself verbeel hy is ’n groter fiets.

Foto: Brian Cheyne

Ek moet erken dat die F 900 R se verrigting nie was wat ek verwag het nie. Kyk, hierdie fiets is nie traag nie, maar ek het al ’n paar kaalfietse in hierdie klas gery wat my meer pret verskaf het. Die BMW is meer statig en afgerond en die verrigting weerspieël die half teruggetrokke karakter van die fiets. Op spoed was die R uiters stabiel, en jy kan hom maar met vertroue in ’n draai indruk en kyk hoe ver jy die leunhoek kan kry.

Ek vra myself altyd af wie sal nou so fiets koop en die F 900 R laat my kopkrap. Hoewel kaalfietse baie populêr is in Europa, is ons mark heelwat anders. Persoonlik sal ek die F 900 XR verkies bo die F 900 R as ek wel ’n BMW koop. Die XR bied ’n meer ontspanne rit as die R en hy lyk ook beter.

Klik hier vir die produkblad.

Spesifikasies :

Enjin kapasiteit895 cc
Gewig (Nat)211 kg
Kraglewering77 kW (105 pk) @ 8 500 rpm
Tenkkapasiteit13 l
Saalhoogte815 mm
PrysVanaf R196 700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.