BMW GS Trophy-saamtrek weer aangebied

Die BMW GS Trophy (Foto: Brian Cheyne)

Harley-Davidson en BMW is kontinente verwyder van mekaar, en tog deel hulle een eienskap: Jy koop nie net ’n motorfiets nie, jy koop ’n leefstyl. Jy word deel van ’n breër gemeenskap van eendersdenkende mense. Mense wat jou passie deel en verstaan. BMW het die hele leefstylgedagte nog so ’n bietjie verder gevat en bied jaarliks ’n saamtrek aan wat fokus op een model in hulle reeks: die GS Trophy.

Die eerste saamtrek in 2004 het 98 deelnemers gehad. Hierdie jaar se saamtrek is in die prentjiemooi dorpie Montagu gehou. Meer as 700 deelnemers het die dorpie van die Woensdag tot die Sondag oorgeneem. BMW het pragtige roetes uitgewerk waar ryers soggens kon gaan ry, en al die roetes het teer en grond ingesluit. Afhangend van jou eie vermoë kon jy ’n “groen”, “oranje” of “rooi” roete aanpak, elkeen met sy eie moeilikheidsgraad. BMW het hierdie jaar die GS Trophy oopgestel vir alle BMW-motorfietse, so as jy jou GS dalk verkoop het en ’n toerfiets aangeskaf het, was jy ook welkom. Elke roete het roete-aanwysers gehad en selfs mediese en tegniese hulp. Ryers is ook aangemoedig om in te skryf vir die vaardigheidstoets op ’n hindernisbaan.

Die GS Trophy is gemaak vir ontspan, so aandete was ingesluit by jou intekengeld. Die formaat het gemaak dat die GS’e soggens die landskap ingevaar het, ’n mooi roete gery het, om dan laatmiddag terug te wees. Dan kon jy jouself gaan verkyk aan ander ryers se vaardighede op ’n hindernisbaan, sonder dat jy oor aandete hoef te bekommer. Verskeie vaardighede is getoets, en daar was selfs ’n spankompetisie.

Die BMW GS Trophy (Foto: Brian Cheyne)

Vir Edgar Kleinbergen, die algemene bestuurder van BMW Motorraad in SA, het twee dinge uitgestaan: ’n merkbare toename in dames wat deelneem aan die GS Trophy en die feit dat die algehele wenners van die kompetisie betreklik jonk is. Dit beteken dat avontuur-ry nog lank gaan oorleef.

Ek het die Saterdag gebruik om my eie koers in te slaan. Net ek, ’n GS en my musiek. Net voor Heidelberg begin die grondpad, maar die GS laat hom nie ontsenu nie. Met ’n hoë stofwolk agter my, die wind om my en die pad voor my, dink ek ’n bietjie na oor motorfietsry. Ek het dit al genoem, maar motorfietsry kan jou nie onaangeraak laat nie. Die reuke, die wind en die landskap. Ek het gery tot waar die see my gestop het.

Die middag was ek vroeg terug, en soos die fietse begin inkom het, het dit my laat dink aan die woorde van “Die lied van jong Suid-Afrika” wat lui: “En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef…”

Die BMW GS Trophy (Foto: Brian Cheyne)

Saterdagmiddag het die spankompetisie afgesluit in dik sand en ’n beknopte hindernisbaan. Die spanne moes mooi kon saamwerk en die span van die Vrystaat het met die louere weggestap in die mansafdeling. Die sege het aan hulle ’n outomatiese inskrywing vir die 2020 Internasionale GS Trophy kwalifiserende rondes besorg.

Aandete is gevolg deur vermaak deur plaaslike musikante. Orals het kampvuurtjies gebrand en ryers het stories uitgeruil oor die dag se ervarings. As jy daar was, sou jy saamstem dat die GS Trophy 2018 ’n reusesukses was. Daar was ryers van Turkye, Duitsland en Nederland. En daar was selfs ’n paartjie wat verloof geraak het by Agulhas!

Vir meer inligting oor die GS Trophy, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gys ·

Ek kan nie meer saamstem nie. Wanneer jy n motor koop, koop jy bloot n vervoermiddel tussen jou huis en jou werk (hoofsaaklik). Wanneer jy n motorfiets koop, koop jy honderde foto’s en herinneringe, mits jy hom natuurlik gebruik waarvoor hy bedoel is. Four wheels move the body, two wheels move the soul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.