Die BMW R nineT, wat in 2014 bekend gestel is, was een van BMW se groot suksesstories. Dit was ’n fiets wat op BMW se bokserenjin-erfenis staatgemaak het om kopers te lok. Jonger ryers het hulle ook gewend na die R nineT omdat die fiets so eenvoudig en aanpasbaar was. Dit het hulle die geleentheid gebied om hulle motorfiets te verpersoonlik en die R nineT platform was die ideale vertrekpunt. Nou het BMW die R 18 bekendgestel wat die oortreffende trap van BMW se boksererfenis is, en hulle teiken sonder twyfel die Amerikaanse mark.
BMW het ons Kaapstad toe genooi om die R 18 te kom ry en self te ervaar. Dit maak nie saak uit watter hoek jy na die R 18 kyk nie, jy kan die enjin nie miskyk nie. Dit is ’n 1802 cc- eenheid en is enorm. Daar is net geen ander woord nie. Ek dink, behalwe vir kraglewering en wringkrag syfers, moet BMW ook vlerkspan aandui in die spesifikasies.
Kyk jy egter op papier na die R 18 se spesifikasies, dan maak dinge nie sin nie. Hierdie enjin is amper 550 cc groter as BMW se eie 1250-enjin en tog lewer hy maar net 67 kW. Die 1250 lewer 100 kW. In wringkrag klop hy die 1250 net met 15 Nm, maar lewer dit teen heelwat laer toere. Die enjin is egter ’n kunswerk op sy eie en is ingebou in ʼn besonder elegante raam. Die inspirasie vir die R 18 kom van die BMW R50/2 van die jare 60.
Die voorvurke is omhul om te lyk soos die vurke van ouds, en die agterste vering lyk amper of dit nie bestaan nie, maar daar is ’n skokbreker versteek onder die saal. Die fiets het ongelooflik baie detail wat my in verwondering gelaat het. Die dryfas is ontbloot, maar op die enjin het BMW weer baie moeite gedoen om al die komponente netjies te versteek. Die afwerking van die R 18 is uitstekend. Alles voel solied, asof dit vir ewig sal hou. Die strepies op die tenk en agterste modderskerm word met die hand gedoen en dit dra by tot die R 18 se eksklusiwiteit.
Die saal is baie laag en die sitposisie is nie heeltemal gemaklik vir my lengte nie. Die voetrusse kan nie verder vorentoe monteer word nie, want daar is ’n enjin in die pad. Die instrumentasie is basies. Daar is net ’n spoedmeter met ’n ingeboude vloeikristaleenheid. Die moderne BMW-skakelaars lyk sommer uit plek op hierdie fiets.
Daar is drie ryprogramme wat verskeie vlakke van kraglewering bied: Rain, Rock en Roll. Ja kyk, BMW probeer hard om hierdie fiets Amerikaner-vriendelik te maak. Ek los hom maar in Rock en druk die aansitter. Ek ken ’n bokser se unieke waggel as hy aansit, maar ek was nie voorbereid op die R 18 se pluk nie. Jou voete moet deeglik geplant wees en jy moet maar met al twee hande vashou anders val die fiets om. As hy luier, wikkel die hele fiets, oorgewigryer ten spyt. Ek speel so ʼn bietjie met die versneller en ek kan voel hierdie enjin gaan ’n invloed hê op die ryery. En nie op ’n goeie manier nie.
Ons is uit Stellenbosch direk na die Franschhoekpas, en sommer gou besef jy dat die fiets nie veel van ’n leunhoek het nie. Voetrusse het in amper elke draai grond geraak. My pas het sommer gou heelwat afgeneem. Hierdie is nie ’n sportfiets nie, so ek het besluit om rustiger te ry en die R 18 net te geniet soos wat hy veronderstel is om gery te word. Ons is af tot by Clarenceweg, al langs die see af, en hier het ek baie lekkerder gery. Stadiger, maar lekkerder. Die enjin is moeitevry en draai teen ’n stadige 2 650 rpm teen 120 km/h. Op 4 000 rpm behoort jy 180 km/h te sien, maar dit is nie waarvoor die R 18 bedoel is nie. Die volgende oggend het ons Bainskloofpas gery en dit was regtig onaangenaam.
Die R 18 se beperkte beweging van die agterste vering het beteken dat jy elke knikkie in die pas gevoel het. My tande het geklap en my rug was behoorlik stukkend na die 19 km van die pas. Gelukkig het ons die Slanghoekpad ook gery en oor Helshoogte terug tot in Stellenbosch. Op hierdie paaie het ek die R 18 weer terdeë geniet.
Die R 18 het in my opinie net te veel wat teen hom tel. Die enjin is hopeloos te groot en in jou pad. Selfs iemand wat ’n GS ry, het opgemerk dat hierdie enjin se oordrewe waggel hom pla. Die verrigting is ook nie wat jy verwag van die kapasiteit nie. Die vering doen nie jou ruggraat enige gunste nie en ek sal nie ver wil ry met hierdie fiets nie. Veral nie op ons paaie nie. As hierdie styl fietse jou trek, kan ek aan baie fietse dink wat ek eerder sal koop vir die prys. My opinie word egter getroef deur die boksererfenis, want BMW het al 45 van hierdie fietse plaaslik verkoop.
Die BMW R18 is ’n ongelooflike mooi motorfiets om na te kyk en bewonder, maar ek het baie meer verwag van die ryervaring. Dit is immers ’n BMW.
Vir volledige spesifikasie en prys, klik hier.
Baie dankie vir die inligting Brian. Baie interessant en
insiggewend. Nie die soort fiets wat ek wil besit nie… my Super Duke R en Streetfighter V4 ry baie gemakliker… en dit sê baie!!
Ek het nog nooit van die bokser enjin se silinderkoppe wat so uitstaan gehou nie. Andersins ‘n mooi motorfiets. Maar teen 345 kg nou nie juis lig nie,..