BMW S 1000 XR: Die goue middeweg

Die BMW S 1000 XR. Foto: Brian Cheyne

Ek het lank kopgekrap oor die BMW S 1000 XR. Dit is ʼn kruising tussen ʼn R 1200 GS en die S 1000 RR. Maar is dit nou ʼn GS met ʼn ander enjin of is dit ʼn RR op stelte? Om meer duidelikheid te kry, het ek BMW gevra om vir my een te kom aflaai dat ek nou eens en vir altyd agter die kap van die byl kan kom.

Ek was nog altyd van mening dat die meeste GS-ryers eintlik ʼn XR moet ry. Bitter min GS-ryers gaan ooit teen Sani op ry, en hulle bring in elk geval die meeste van hulle tyd op teer deur. ʼn Padfiets maak dus meer sin. Nou, voor die GS-manne my afslag, kan julle rustig raak. Ek begin nou self twyfel oor my mening.

As jy op BMW se webwerf gaan soek vir die XR, kry jy hom onder die avontuurfietse saam met die GS. Die stilering van die XR volg ook die resep van ʼn avontuurfiets met die “snawel” en langreik-vering. Jy sit regop op die fiets en die handvatsels is breed. Dit lyk of hulle dieselfde onderdeelnommer kan hê as die GS s’n. Die instrumentasie is dieselfde eenheid as op die RR, so selfs BMW weet nie mooi wat hierdie fiets moet wees nie.

Die BMW S 1000 XR. Foto: Brian Cheyne

Handkontroles is tipies BMW. Al die BMW-modelle deel dieselfde kontroles, so as jy reeds ʼn BMW het, sal jy dadelik tuis voel op die XR. Die instrumentasie is nog ʼn analoë toereteller met ʼn vloeikristalskerm vir die ander inligting. Hier begin die XR sy jare wys. Deesdae is volkleurskerms die norm, maar BMW verwag nie ʼn opkikkering van die XR voor einde volgende jaar nie, dus sal hierdie uitleg moet deug tot dan. Die voorligte is ook tipies RR.

Op die pad is die XR meer RR as GS. Dis vir seker. Die 999 cc-enjin het wel ʼn laer kompressieverhouding as die RR en lewer ook sy maksimum krag op laer toere. Die krag is afgebring na 121 kW, oftewel 165 pk, wat heelwat minder as die RR maar hoër as dié van die GS is.

Sit jy egter die spoedbeheer op die XR aan op 120 km/h, klink die enjin soos ʼn hardlywige windhond wat teen sy halsband stoei. Hy wil nie 120 km/h ry nie, hy wil 180 km/h ry. Die GS daarenteen se enjin luier amper teen 120 km/h, so dit sal die toerervaring dalk beter maak. Dit is dan ook voor die hand liggend dat die XR so ʼn bietjie dorser gaan wees as die GS.

Die BMW S 1000 XR. Foto: Brian Cheyne

Hantering is natuurlik van die boonste rak en met BMW se elektroniese hulpmiddels moet jy ordentlik droogmaak voor hierdie fiets sal tou opgooi en jou oorlaat aan die teerpad.

Die XR sit vir my op ʼn baie snaakse plek in die mark. BMW se GS is die gewildste keuse en die RR is seker die maklikste sportfiets wat ek nog gery het. Die XR probeer albei rolle vervul. Die goue middeweg, amper. As die GS en die RR nie so vrek goed was nie, sou die XR dalk beter gevaar het. Jy kan nie juis grondpad ry nie, want daardie yslike verkoeler lyk soos ʼn magneet vir klippe. As die teerpad begin draaie ontwikkel, sal ek eerder op ʼn RR wil wees.

Kyk, die XR is uit eie reg ʼn fantastiese fiets, maar hy kry sy grootste teenkanting uit eie geledere. As jy langpad vat, sal die GS seker die keuse wees, en op ʼn baan, beslis die RR. So, ek krap nog steeds kop oor wie dalk die XR sal koop. As jy rustig wil toer en kort-kort stop en die natuurskoon bewonder, kry die GS. As jy egter hou van toer, maar geen geduld het om by jou bestemming te kom nie, dan is die BMW S 1000 XR net die fiets vir jou!

Produkblad: https://www.bmw-motorrad.co.za/en/models/adventure/s1000xr.html

Die feite:

Enjin999 cc-viersilinder
Gewig (Nat)228 kg
Kraglewering121 kW  @ 11 000 rpm
Wringkrag114 Nm @ 9 250 rpm
Tenkkapasiteit20 L
Saalhoogte840 mm
PrysVanaf R197 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gysbert ·

Pragtige fiets, maar sulke kruisings is eintlik maar die slegste van beide wêrelde. Koop dan eerder n GS en n RR. Daar is immers altyd geld vir nog n fiets. Spandeer (mors?) net minder geld op vroulief en die kinders.

Hendrik van George ·

Stem. Het hom al gery en ek reken die GS is die beter keuse. Was nie mal oor die enjin nie – gevoel of ek heeltyd og ‘n rat moes soek….

marco polo ·

Baie mooi fiets en trek nogal baie na my Benelli, afmetings en gewig is eintlik identies, maar hoe gaan hy toer?

Lol ·

Die BMW XR herhinner my aan die KTM SM /SMT/SMR reeks. Het een gehad en self nie geweet waar hy inpas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.