BMW se GS: ʼn Fiets sonder weerga

BMW se GS-modelle (Foto: BMW)

As jy ʼn swak produk het, is dit maklik om daarop te verbeter, en die kleinste verbetering kan ʼn reuseverskil maak. BMW het nie meer daardie luuksheid nie. Die R 1200 GS is in die oë van sy eienaars die beste motorfiets wat daar is, en BMW kom nou baie naby aan ʼn groot probleem. Die resep werk vir hulle, en as jy enigsins gaan karring daaraan gaan jy ʼn muitery hê. Vra maar vir Coke hoe goed sý nuwe resep in die laat 80’s gevaar het.

Die bekendstelling van die 2017-GS-modelle is hier in Gauteng gehou en ons wegspring was by Zwartkops. Die nuut aangestelde algemene bestuurder van BMW Motorrad, Edgar Kleinbergen, het ons kortliks vertel van die geskiedenis van die GS, en daarna het Daniel Erasmus, nasionale verkoopsbestuurder, ons vertel van die 2017-modelreeks.

Al twee manne is kranige motorfietsryers, so die pratery was gou verby en ons het ons fietse gekry. Te oordeel na hoe die joernaliste geskarrel het vir die Rallye, kan ek sommer sien watter model die meeste mense sal wil hê. Afgesien van die baie aantreklike verfwerk, het die Rallye breë voetruste, ʼn eenstuk-sitplek en ʼn kort windskermpie wat help om voor jou te kan sien as die pad bietjie tegnies raak. Die voorvurke het ook ʼn effe groter hoek om jou te help vrotpad ry.

BMW se GS-modelle (Foto: BMW)

As iets soos die nuwe verfkleure dit op die “nuut-vir-2017”-lys maak, kan jy begin verstaan watter groot uitdaging die manne by BMW voor hulle het. Die drie modelle is nou: Standard, Exclusive en Rallye. Die enjin lewer steeds die 92 Kw met 125 Nm-wringkrag, maar met klein veranderinge aan die uitlaatpyp om aan die EU4-regulasies te voldoen. Daar is ʼn wye verskeidenheid ry-programme beskikbaar en selfs hulp om teen ʼn bult weg te trek. Die verskil tussen die Rallye en Exclusive is nou meer duidelik, en is meer as net ʼn plakkertjie en ʼn groter brandstoftenk. Snelskakeling op die ratkas is nou standaard. Nog ʼn groot stap is die dinamiese vering wat die vering outomaties verstel, of jy nou alleen ry, ʼn passasier dra of bagasie laai.

Met almal se fietse gekies, het ons ʼn rustige teerroete tot by Pilanesberg gery en ons kon die GS’e se bene bietjie rek. Dag twee was egter nie so maklik nie. Daar was ʼn wye verskeidenheid padoppervlakke op die roete. Los klippies, harde grond, verspoelde paaie en selfs ʼn kol of twee sand. Soos my vertroue groei, het ek besef dat die hedendaagse tegnologie baie kompenseer vir die gewone mense se tekortkominge. Met al die hulp wat BMW aan ryers bied, was die groot GS selde ontsenu.

BMW se GS-modelle (Foto: BMW)

Terug by Zwartkops, het ek baie respek gekry vir die GS, en verstaan mens maklik hoekom hierdie fietse so gewild is. Ek sal ʼn meer uitgebreide mening kan gee sodra ek een van hierdie fietse langer as ʼn dag onder hande gehad het.

Die Standard kos R238 900, en is beskikbaar in wit. Daar is drie afwerkings om uit te kies. Dynamic, Comfort en Touring, na gelang van jou behoeftes. Die Exclusive en Rallye kos R241 990. Natuurlik bied BMW ʼn opsielys langer as jou arm, so jy gaan kwalik sukkel om jou GS op te smuk na jou smaak.

So, hoe nou, BMW? ʼn Fiets op die kruin van ontwikkeling – dit  gaan julle moeilik klop volgende jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mr P ·

Shoe R242 000 vir Bmw om in die veld te gaan val. Geniet my Truimp Explorer

Basson ·

Seker die fietse sal ook behang word met ‘n hele konstellasie ligte wat nie ‘n domp skakelaar het nie. (Eers was dit BMW motorbestuurders en hulle misligte, nou het hulle aangeskuif na GS’ se met aanhangsels. Is dit hoe die eienaars se sig al verswak het soos die ouderdom aangestap het, dat mens self helder oordag almal moet verblind? ;))

Henardt ·

Daar is ongelukkig te veel ongelukke waar motors voor motorfietse indraai, of waar motors vasry in motorfietse wat langs hulle is. Die gewone verskoning is dan, “O, maar die motorfiets het uit nerens vandaan gekom en ek het dit glad nie gesien nie.”

Ek wil so seker as moontlik maak jy sien my op my motorfiets raak, en vandaar die LED kolligte sonder ‘n dompskakelaar op my motorfiets. Ek het ook ‘n familie en kinders waar ek veilig by wil aankom, en die laaste ding wat hulle wil hoor is die “… ek het die motorfiets glad nie gesien nie …” verskoning.

Basson ·

Die punt Henardt is dat ‘n persoon wie jy verblind vir ALMAL ‘n gevaar inhou, selfs vir die wie nie voor jou indraai maar wat net op ‘n gewone pad aangery kom en wie jy nou heeltyd verblind al van ‘n afstand af.
Van daardie ligte is SO skerp dat mens lettelik ‘veilige’ visie tydelik verloor. Skerper is nie direk eweredig aan beter, daar is ‘n optimale punt.
(Dankie dat jy my teorie oor die dompskakelaar bevestig het, maw jy KAN nie eers jou ligte aanpas om dit veiliger te maak vir my en jou – daar is net een helderheid? )
Vir interessantheid – hoeveel Lumens is dit? SABS goedgekeurde spesifikasie?

Martin ·

Amper alle spotlights het aparte skakelaars om afgesit te word. maar ek verstaan nie jou ander punt, as n motorfiets jou verblind, verblind hom terug met jou eie hoofligte. dit is baie gevaarliker en erger vir die motorfiets as vir jou hy sal eerste domp en hy sal dit vir die toekoms ook uitsorteer.

Anoniem ·

“…verblind hom yerug met jou hoofligte…”.

Klink vir my na ‘n resep vir ‘n ongeluk as twee bestuurders wat albei tydelik verblind is by mekaar moet verby ry. Of as iets in daai blinde oomblikke oor die pad hardloop, gaan jy dit mos nie sien nie? Sal dit nie beter wees as albei se ligte aan is vir beter sigbaarheid, maar nie SO helder om mekaar te verblind nie?

anton ·

As n motorfiets se ligte jou helder oor dag verblind het hulle seker n wagtoring spotlight of 2 opgesit want wragies geen Gs se ligte het my al bedags verblind nie en ek sien baie van hulle amper daagliks.
Hulle kom meestal standaard uit met dit en ek glo as dit nie wettig was sou dit nie op hulle gesit gewees het nie.
Wat ek wel kan se is dat ek hulle baie beter en op n verder afstand kan raaksien met hulle ligte aan.

Anoniem ·

Anton, dis waar wat jy sê dat mens nie helder oordag verblind kan word deur die motorfiets se skerp ligte nie. Maar in die nag?

JS ·

Sonder weerga? Regtig? Die nuwe Honda Africa Twin is heelwat goedkoper, is soos ‘n droom gebalanseerd en veel beter van die teer af.

Willie ·

Ek dink die ou moet vir hom ‘n paar donker brille gaan koop of sy oe laat toets

anton ·

Wat ek probeer sê, is dat iemand vroeër genoem het dat die Gs fietse hom/mense, verblind helder oordag.
Ek dink nie dit is moontelik nie Anoniem. :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.