BMW se M340i: ʼn wolf in skaapklere

BMW het ʼn tydjie terug die G20 BMW 3-reeks in Suid-Afrika bekendgestel. Aanvanklik was daar slegs die 320d en 330i. Die 330i in die nuwe reeks is ʼn viersilinder-turbopetrolenjin. Al is die nuwe reeks enjins kragtig én lig op brandstof, mis ek steeds die gebrul van ʼn ware BMW-sessilinder. Tot nou.

Die BMW M340i is ook nie nét ʼn sessilinder nie. Die M vooraan beken hier is heelwat wintie in dié BMW, waaronder die turbo wat aan die 3.0-sessilinder gekoppel is. Tweedens het die M340i xDrive- dit is vierwielaandrywing.

Saam met die reeds bekwame onderstel en die nuwe opknappings is die mini-M fantasties. Die eerste keer toe ek my voet in die mat begrawe kon ek nie help nie om by myself te wonder – as die ding só loop – waarheen is hulle op pad met die werklike vol vet M?

Die ontwerp is die gewone G20 3-reeks met ʼn M-Sport visueleopknappingspakket aan. Die binneruim is gewone 3-reeks waar jy kan kies en keur om enige model vir jouself pas te maak.

Waar dinge interessant raak is by die enjin. 285 kW klink nie mal in moderne taal nie, maar die 500 Nm wringkrag van ʼn petrolmotor is waar dinge ernstig raak. Die BMW trek laat dit klap met 0 – 100 km in ʼn blitsige 4,4 sekondes. Die M340i is elektronies beperk tot 250 km/h, maar ek is oortuig dat as mens die halsband losmaak 300 km/h nie ver buite bereik is nie.

Ja, die BMW ry effe hard – maar dit moet só wees want dit is ʼn sportsedan. Die padhouvermoë is waar dinge vir my amper ʼn groot probleem geword het. Dit lyk my BMW het ʼn strategieverandering gemaak. Hul onderstelle was altyd gestel om meer stuurtraagheid te bied eerder as oorywerigheid. Dit was veiliger om die agterent agter te hou in slegte weerstoestande.

Die nuwe vierwielaangedrewe onderstel van die M340i is beslis meer gerat vir oorywerigheid as jy dit só wil hê. Ek het amper my moses tee gekom op ʼn stuk pad, en dit maak nie sin nie. ʼn Vriend is oortuig dat daar dalk olie of diesel op die pad moes wees, maar my raad aan enige M340i koper is: “Pasop vir hom, hy byt!”

Audi, BMW en Mercedes het nou fantastiese produkte in die louwarm sedansegment. Mercedes-AMG se C43 het ook vierwielaandrywing soos BMW se M340i so wel as Audi se S4. Daar is al vir dekades ʼn gesonde wedywering tussen die drie vervaardigers, en dit dryf hulle om hul beste voet voor te sit. Hou so aan julle.

Die reeks lyk só:

BMW 320i135 kW/ 300 Nm6.3 ℓ/ 100 kmR643 036
BMW 320d140 kW/ 400 Nm4.6 ℓ/ 100 kmR680 886
BMW 330i190 kW/ 400 Nm6.4 ℓ/ 100 kmR683 416
BMW 330d M Sport195 kW/ 580 Nm5.5 ℓ/ 100 kmR815 563
BMW M340i xDrive285 kW/ 500 Nm7.7 ℓ/ 100 kmR1 002 211

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi S4 Quattro260 kW/ 500 Nm4.7 sek250 km/h1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R840 500
Lexus IS350 F-Sport232 kW/ 380 Nm5.9 sek225 km/h7 jaar/ 105 000 km waarborg

7 jaar/ 105 000 km omvattende instandhoudingsplan

R863 200
Mercedes-AMG C43 4Matic287 kW/ 520 Nm4.7 sek250 km/h2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 022 765

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Wat ek nie verstaan van BMW en Mercedes nie, is dat hulle name vir die motors nie meer die motor reflekteer nie, is amper asof hulle skaam is dat daar ‘n 3.0 liter enjin in die 340i is of 1.6 in die C220. Dis iets om te vier, om ‘n kleiner enjin se krag te behou of selfs te verhoog in vergelyking met die ouer model, is mos iets om op trots te wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.