BMW se nuwe modelle vir 2021 is hier!

Die hele BMW R-reeks. (Foto: BMW/Verskaf)

Tradisioneel, hierdie tyd van die jaar, is al wat ’n joernalis is by EICMA in Milaan. Dit is dié geleentheid van die jaar waar motorfietsvervaardigers skarrel vir hul plekkie in die kollig. Danksy Covid-19 sit ons almal egter agter ons skerms en ontvang persverklarings. Dit lyk darem nie of die pandemie BMW se ontwikkelings gestuit het nie, want daar is heelwat nuwe produkte aangekondig die afgelope ruk.

BMW G 310 GS en G 310 R

BMW se kleinste model, die G 310, was BMW se toetrede tot die sub-500 cc-mark en het sy verskyning in 2017 gemaak. Alhoewel die 310 ’n heel gewillige kalant vir sy grootte is, is hy ook maar nie sonder sy foute nie. Iets wat al by die bekendstelling van beide die R en die GS gepla het, was die koppelaar. Die klein BMW was geneig om te stol as jy nie die choreografie van koppelaar en versneller perfek reg kry nie. Ek besit self ‘n G 310 GS en sukkel nou nog, veral as die fiets koud is. BMW het nou vir hierdie fietsies ’n welkome opkikkering gegee.

Die enjin is steeds die betroubare 312 cc-enjin en lewer steeds net 25 kW, maar het nou ’n paar klein veranderinge ondergaan om te voldoen aan die nuutste EU 5-standaarde. Die versneller, byvoorbeeld, is nou elektronies en dit het BMW in staat gestel om die revolusies effens op te stoot soos jy die koppelaar los. Die koppelaar self is ’n verbeterde ontwerp, dus is die kans nou heelwat minder dat jy die nuwe 310 sal stol. Daar is ook klein kosmetiese veranderinge aangebring om die nuwe R meer sportief te maak. Dit is net ’n jammerte dat BMW nie van die geleentheid gebruik gemaak het om die GS se ander haakplek reg te stel nie, naamlik die sagte vering.

Die G 310-reeks behoort in die eerste kwartaal van 2021 by handelaars te wees.

BMW S 1000 R

BMW S 1000 R. (Foto: BMW/Verskaf)

Reg aan die ander kant van die spektrum het BMW hul S 1000 R ook bekendgestel. Dit is die kaalfiets weergawe van BMW se S 1000 RR-superfiets. BMW se superfietse is seker van die mees gebruikersvriendelike fietse wat ek al gery het. Danksy uitgebreide elektronika wat oneindig verstelbaar is, kan feitlik enige iemand die RR met vertroue ry. Die R-weergawe het deesdae heelwat stywe kompetisie, maar ek dink die S 1000 R sal aanklink vind by ’n groter teikenmark as gevolg van sy minder uitspattige stilering.

Vir die R het BMW die bewese RR ontneem van ’n paar bakpanele en die RR se dubbele hoofligte vervang met dieselfde hooflig wat op die ander R-modelle in die reeks is. Daar is egter nie met die meganika gepeuter nie. Die enjin lewer 121 kW en 114 Nm se wringkrag. Die enjin self is 5 kg ligter as sy voorganger en met ’n algehele gewigsverlies van 6,5 kg maak dit die R die ligste in sy klas. BMW het die karakter van die R se kraglewering aangepas omdat hierdie fiets seker meer op die pad sal diens doen as op die baan.

Die R behoort teen die einde van 2021 in Suid-Afrika te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.