BMW se Pure and Crafted-fees: Maak ʼn kopskuif oor motorfietsry!

BMW se Pure and Crafted-fees (Brian Cheyne)

BMW se Pure and Crafted-fees (Brian Cheyne)

Toe BMW Motorrad my uitgenooi het om die Pure and Crafted-fees by te woon die afgelope naweek, was ek bietjie onkant betrap. BMW Motorrad is die motorfiets-afdeling van die BMW-groep, so waarom op aarde bemoei hulle hulself met musiekfeeste?

Dit was egter toe ek met Alexander Baraka, bestuurder van BMW Motorrad SA, gesels het dat die dinge begin sin maak. Hy praat met entoesiasme oor ons Suid-Afrikaners se manier om “na buite te leef”.

Daar is onder meer fietsrenne deur Johannesburg, en een van die Indiese Oseaan tot by die Alantiese Oseaan. Ons behoefte na dinge soos die “Warrior race” het hom aangeraak. BMW hou elke jaar die Motorrad-dae, waar die bestaande BMW-kliënte hulle kan kom uitleef met hul gunstelingmotorfiets en die ervaring kan deel met hul mederuiters. Ander dinge waarvoor ons Suid-Afrikaners ook lief is, is ons kos en om te kuier.

BMW se Pure and Crafted-fees (Brian Cheyne)

BMW se Pure and Crafted-fees (Brian Cheyne)

Die tema by die Motorrad-dae was nog altyd Bavaria, die tuiste van BMW. Vanjaar is besluit om ʼn bykomende geleentheid te skep, en die doel van Pure and Crafted is om meer mense te lok wat nie noodwendig motorfietsryers is nie. Baraka beoog dat amper 80% van die feesgangers nie motorfietsryers is nie. Met die groot verskeidenheid motorfietse wat uitgestal was, hoop BMW om jou tog net so bietjie aan die dink te sit – of die leefstyl nie dalk by jou aanklank sal vind nie.

Daar is kosstalletjies in oorvloed, en ʼn ou biertjie vir die hitte en selfs ʼn speelplek vir die kinders. Uitritte op BMW-motorfietse kon gereël word, mits jy ʼn bewys van jou lisensie kon lewer. ’n Mooi groot verhoog het gesorg vir die vermaak en die kunstenaars het gesorg vir ʼn goeie atmosfeer. Met die Parlotones en Prime Circle op die lys, is daar nie afgeskeep nie.

Baraka se entoesiasme is aansteeklik en hy hoop dat hierdie fees elke jaar sal groei en dat hy meer mense sal lok na die besondere leefstyl wat motorfietsry inhou. Hy beskryf motorfietsry as die nuwe branderplank ry. Toe ons klaar met hom gesels het, het ek gaan stap deur die terrein. Die fees is gehou in die Muldersdrif-omgewing, en volgens Baraka kan dit omtrent 7 000 mense met gemak hanteer. Die verwagting vir vanjaar se fees was so om en by 2 500.

BMW se Pure and Crafted-fees (Brian Cheyne)

BMW se Pure and Crafted-fees (Brian Cheyne)

Die weervooruitsigte het ʼn demper geplaas op die besprekings, en met so ʼn groot terrein, lyk die paar duisend mense yl gesaai. Ȇrens by ʼn groot BMW-avontuurfiets staan twee vroue en bekyk hom: “Is dit ʼn goeie fiets?” vra die een. Ons gesels te lekker, en albei het dit eens dat hulle nog wil leer motorfiets ry. Dit is ʼn vreemde kombinasie dié van motorfiets en musiekfees, maar ek dink Baraka sal bly wees as hy net hierdie twee mense kon oortuig om vryheid aan te skaf.

Hou maar die media dop vir die volgende een. Ek sien jou daar!

Vir meer inligting, besoek Pure and Crafted.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.