BMW se retro stofskopper

BMW se R nineT-motorfiets (Foto: BMW)

BMW se R nineT-motorfiets (Foto: BMW)

BMW het nou al sinoniem geraak met die bokserenjin en hulle vrotpad-fiets, die GS. Hulle rus ook nie op hul louere nie en probeer soveel as moontlik van die mark dek. BMW se reeks sluit, benewens die GS, bromponies, toerfietse en hul superfiets, die RR, in.

Hulle het egter ʼn gaping in die mark gesien met pasmaakfietse, fietse wat jy kan koop en met ʼn reeks bybehore jou fiets jou eie kan maak, genaamd die R nineT. Die bokserenjin het ʼn modulere raam sodat jy self met die permutasies kan speel. Jy kan die hele agterste sub-raam afhaal en self verskillende variasies uitprobeer.

Toe ek genooi is na die R nineT Scrambler bekendstelling, het ek dadelik die kans aangegryp om self te gaan kyk na hierdie nuwe marksegment wat BMW nou betree. Die tweede weergawe van die R nineT lyk bonkig, met speekwiele en Metzeler Karoo 3-bande op. Die voorwiel is nou 19 duim en die uitlaatpyp is ʼn Akrapovic-eenheid wat netjies opwaarts vloei en die mooiste grom aan hom het.

BMW se R nineT-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

BMW se R nineT-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Om die retrotema verder te neem, is die teleskopiese skokbrekers voor in ʼn rubber omhulsel gehul en agter doen BMW se bewese Paralever-stelsel diens. Breë, regop handvatsels verseker ʼn regop ryposisie. Om die ryposisie te verbeter, is die sitplek dunner as die R nineT en hy is so hard soos hy lyk.

Kyk, jy sit baie lekker op die fiets, maar nie vir baie lank nie. Dan kan jy stop en nog detailtjies bewonder, terwyl jy die lewe in jou agterstewe probeer terugkry. Die aluminium tenk is in twee dele aanmekaar gesweis met die mooiste weef patroon wat hom net in ʼn ander liga plaas. Ek kon nog nooit reguit sweis nie en om die soort werk te sien, maak my sommer jaloers. Al die groter komponente is in swart afgewerk en dit laat die kleiner detailtjies net soveel beter uitstaan.

Die enjin is ʼn 1170cc olie- en lugverkoelde eenheid en doen al vir baie jare diens in hierdie basiese vorm. Dis ook een van daardie enjins wat jy weet vir ewig sal hou. Waar ander motorfietse se aansitklank maar gewoon is, is die bokserklank baie uniek. Dit klink omtrent asof jy ʼn vliegtuig aansit en hy klink soos maar net ʼn bokser kan.

Ek was baie skepties toe BMW vir ons die roete verduidelik. Die roete was op seker twee van die mooiste kuspaaie in die Kaap en nou gaan ons dit aanpak met knop-bande en boonop nog ʼn 19-duimer voor.

BMW se R nineT-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

BMW se R nineT-motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

By Chapmans Peak was die bande al lekker warm en kon ek die Scrambler heerlik rondgooi, bo my verwagtinge in. Die Metzelers raas baie, maar as jy rem vir die draaie, was dit asof hulle hul misnoë besing. So asof hulle teleurgesteld is dat jy nie vinniger ry nie. Na middagete was my visier in en soos een van my mederyers gesê het:  “Toe duik ek agter die spoedmeter in en ek piets hom!” Die kraglewering is soos jy verwag en jy beweeg skielik baie vinnig, maar omdat daar geen windbeskerming is nie, raak die spoed ʼn inspanning. Ek dink tog vir hierdie paaie sou die gewone nineT dalk die beter opsie gewees het.

BMW het nog twee modelle op die horison in hierdie reeks, wat hulle die Heritage-reeks noem en die verkope van die fiets is baie belowend. Die prys is aan die hoë kant, maar dit is omdat BMW besluit het om die eerste besending Scramblers toe te rus met baie van die opsionele toerusting as standaard. Volgens BMW sal die volgende besending meer in lyn wees met die Europese modelle en dan op ʼn pryspunt onder dié van die R nineT inkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Brian Cheyne ·

Die prys is ‘n stywe R193 990, maar dit is met ‘n hele rits ekstras as standaard. Die volgende besending gaan in die omgewing van 163 000 wees en ‘n baie meer basiese model wees. Die hele R nineT reeks is juis daarop gemik om vir jou ‘n platvorm te gee waarvandaan jy jou fiets bou soos jy van hom hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.