BMW se RS reg vir pendel en langpad

Foto: Verskaf

Ek was verlede maand in die Nelspruit-omgewing om BMW se drie nuwe 1250-padfietse te gaan ry. Van die drie modelle het die RS my die meeste beïndruk. Ek het nou ’n week met die RS deurgebring en ek is bly om te rapporteer dat my opinie nie verander het nie.

Hierdie fiets word geklassifiseer as ’n sport-toerfiets. Dit beteken dat hy die eienskappe van ’n toerfiets en ’n sportfiets ineen weef. Die fiets vertoon baie sportief en die kleur van die toetseenheid het gemengde gevoelens uitgelok. Ek hou persoonlik baie van die kleur, maar as dit nou nie heeltemal jou smaak is nie, is die RS ook in drie ander kleure beskikbaar.

Die voorkant van die RS is ’n groot verbetering op die vorige model en hy het nou LED-dagryliggies. Die skerm is verstelbaar, maar daar is steeds net twee posisies. Ek het heeltyd met die skerm op die laer verstelling gery om die wind vol op my pletterpet te rig. Die hoër verstelling was net nie hoog genoeg om die wind bo-oor my te kanaliseer nie.

Foto: Brian Cheyne

Die sitposisie op die RS is baie meer op sport as op toer gerig. Die handvatsels sit laag en jy sit vooroor. Dit is egter nie so ver vooroor dat dit ongemaklik raak nie. Hierdie is immers ’n fiets waarmee BMW wil hê jy moet toer.

Al die skakelaars is tipies BMW. Alles voel stewig, maar met BMW se kontrolewiel op die linkerhandvatsel het die flikkers en toeter nie maklik onder my duim geval nie. Die spoedbeheer is ’n welkome toevoeging.

Die instrumentasie is die 6.5”-volkleur TFT wat ons al op die 1250 GS en die onlangse 750/850 GS-reeks gesien het. Die skerm bevat ’n toereteller op ’n mooi grafiek, met elektroniese syfers vir al die ander inligting. Verder is daar drie skerms vol inligting wat alles van banddruk tot olietemperatuur aandui. Natuurlik kan die fiets ook met jou foon koppel.

Foto: Brian Cheyne

BMW het die versoeking weerstaan om meer krag uit die 1254 cc-enjin te wring ter wille van die RS se karakter. BMW het wel die finale ratverhouding langer gemaak sodat die fiets meer ontspanne is op die lang pad.

Die enjin het BMW se nuwe ShiftCam-tegnologie wat die bokser-enjin nou lewendiger maak op laer toere en die kragverspreiding egaliger maak. Die kraglewering is indrukwekkend, ongeag in watter rat jy jou bevind. Die bokser is nie gemaak vir buitensporige hoë toere nie, maar die RS voel gewillig om jou te wys hoe vinnig hy kan wees.

Die hele reeks is toegerus met snelskakeling, maar BMW verkies om dit Shift Assist te noem. Die vorige weergawe van hierdie stelsel het nie goed gewerk nie. Veral van eerste na tweede. Tydens die bekendstelling van die fietse het ek gevoel dat BMW nou die stelsel uitgesorteer het, maar nou dat ek tyd met die RS deurgebring het, is ek bevrees die skakeling is steeds nie heeltemal daar nie. Ek verkies om steeds die koppelaar te gebruik, veral vir die eerste drie ratte. Die koppelaar is lig genoeg om hierdie aksie te vergemaklik. Nadat ek die BMW S 1000 RR gery het met sy uiters presiese snelskakeling, het die RS s’n industrieel gevoel. Hy kort beslis nog werk.

Foto: Verskaf

Die hantering van die RS is baie selfversekerd. Die elektroniese vering stryk die knikke in die pad mooi uit. Deur die lang kurwes van die paaie naby Nelspruit tot die swaar N1-verkeer is die RS ewe tuis. Die wringkrag van die enjin laat jou ook toe om in enige rat net die versneller te draai en die fiets sal reageer.

Die BMW R 1250 RS is reeds toegerus met al die hardeware om BMW se (opsionele) bagasie aan te hang. Die fiets kan maklik as ’n alledaagse pendelfiets ingespan word. Ek sien hom egter as ’n fiets waarmee jy die langpad kan aanvat en glad nie oor ’n paar kurwes in die pad hoef te bekommer nie. Trouens, met die RS sal ek eerder die kronkelpaaie gaan soek!

Produkblad: https://www.bmw-motorrad.co.za/en/models/sport/r1250rs.html

Die feite:

Enjinkapasiteit1254 cc
Gewig (nat)243 kg
Kraglewering100 kW @ 7 750 r.p.m.
Wringkrag143 Nm @ 5 250 r.p.m.
Tenkkapasiteit18 ℓ
Saalhoogte820 mm
PrysVanaf R 227 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anti DA ·

Goed en wel. Maar vir daai geld koop ek liewers 2 Moto Guzzis. Of n Honda NC750 en een Guzzi. BMW is hopeloos te duur.

Sakkie ·

Goed so. Geniet dit. Onthou net as ek met my BMW verby jou ry en ek stop nie is dit omdat ek nie spaners saam ry…

Anti DA ·

Ek stop ook nie meer om die GS ouens te help motorfiets optel nie. As jy omval of vassit, is dit maar jou eie domgeid. Honda is kwaliteit, nog altyd so. Moto Guzzi is in die garage net om dit te bewonder. Hehe

Scalla ·

Anti, jou MG wat in die garage staan, jy bewonder seker sy waarde wat daagliks val, die GS kan maar vassit, by herverkope praat die syfers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.