BMW se twee nuwe middelslag‑avonturiers

My eerste kennismaking met ʼn GS was toe ek in 2001 ʼn F 650 GS aangeskaf het. Met daardie geel fiets het ek baie herinneringe bymekaar gemaak. Oor die jare het die kapasiteit van die middelslag GS bly groei en het die enjin selfs nog ʼn silinder bygekry. BMW het verlede week twee splinternuwe modelle in Kaapstad aan die pers gewys: die F 750 GS en die F 850 GS.

Ek moes eers bietjie kopkrap oor die plakkertjies op die tenk. Beide die 750 en die 850 het presies dieselfde kapasiteit enjin. Die 853cc, twee-silinder enjin is effe aangepas vir die 750 om minder krag te lewer, maar dit strook met die aanwending waarvoor die fiets bedoel is. Die F 750 GS is gemik op die ryer wat meeste van sy tyd op die teer gaan deurbring, en dalk net pendel. Hierdie fiets lewer 57 kW teenoor die F 850 GS se 70 kW. Die 850 is egter gemik op die ryer wat nie daarvan hou om op die teerpad te ry nie, maar op sy gelukkigste is met ʼn groot stofwolk agter hom.

Verder is ook aan die enjin verander en die klank is amper soos dié van ʼn V2. Die uitgaande 700 GS‑ en 800 GS‑modelle se brandstoftenk was onder die saal monteer, maar die nuwelinge s’n is geskuif na waar jy ʼn brandstoftenk op ʼn motorfiets verwag. Die nuwe modelle het ʼn herontwerpte raam met nuwe vering voor en agter. BMW bied ook elektronies beheerde vering as ʼn opsie.

Voorlangs het die nuwe modelle ʼn treffende nuwe voorlig met dagry-LED’s. Die instrumentasie is nou ʼn 6.5” TFT‑skerm. Die TFT‑skerm kan met jou foon of interkomstelsel koppel. Edgar Kleinbergen, algemene bestuurder van BMW Motorrad in Suid-Afrika, het ons verseker dat die nuwe stelsel die eenvoud self is. Die fietse is ook in ʼn rits kleurskemas beskikbaar en feitlik al die skakerings was daar vir ons om te sien.

Op die eerste dag het ek ʼn F 850 GS gevat met aantreklike koperkleurige speekwiele. Alles omtrent die fiets straal van BMW‑kwaliteit, en die skakelaars behoort vir enige BMW‑ryer dadelik bekend te  voel. Ek het onmiddellik die verhitte handvatsels en spoedbeheer opgemerk. Vir ʼn fiets wat jou reisgenoot moet wees oor lang afstande, is veral spoedbeheer onontbeerlik. Die instrumentasie is baie duidelik en uiters omvattend. Kraglewering was altyd voldoende en met die opsionele snelskakeling was die hele ry ervaring ʼn fees.

Op die tweede dag het ek die F 750 GS gekry en verbasend genoeg hom baie meer geniet. Omdat ʼn baie groot deel van die roete Kaapstad se verkeer ingesluit het, het die 750 net vir my beter gevaar as sy sterker boetie met die vrotpad‑bande. Die 750 het allooi‑vellings en bande wat aan teerpadry voorkeur gee. Op Clarens Drive en die Franschhoek‑pas het ek die 750 terdeë geniet.

Albei hierdie modelle is uiters bekwaam en is reeds by handelaars beskikbaar. As die 1200 GS vir jou dalk te intimiderend lyk, gaan kyk gerus na hierdie twee middelslag BMW’s. Dalk roep die oop pad jou, en dan moet jy luister.

Pryse hang af van jou kleurskema:

F 750 GS

Style Exclusive: R187 250

Austin Yellow: R184 750

Light White: R184 750

F 850 GS

Racing Red: R196 950

Style Exclusive: R199 250

Style Rallye: R199 950

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KoosPetoors ·

Die BMW is ‘n goeie fiets maar my keuse val eerder op die Africa Twin. Dis ‘n uitstekende veld/pad fiets, baie meer betroubaar en is amper R 30’000.00 goedkoper. Selfs die DCT is goedkoper as ‘n BMW met ‘n “opsionele” quickshifter. Die BMW het nou wel ‘n paar gadgets wat die Twin nie het nie, maar ‘n TFT screen en cruise control is lekker, nie noodsaaklik nie.

JotJot ·

My keuse bly maar die Super Tenere. Het genoeg krag en veelsydigheid om teer en grond aan te vat en is baie betroubaar. Die AT sal my 3de keuse wees na die Multistrada maar dit is net drome…. BMW is seker ‘n goeie fiets daarom die gewildheid maar ek sal nooit een koop nie.

Gys ·

Ek het nou die dag na die fietse gekyk.
Al wat my pla, is die quick shift wat te ontbloot is volgens my. Verder lyk hy baie lekker. Het egter nie met een van hulle gery nie.
Vir eers sal ek maar by my 800GS hou.
Maar dan weer…..die ideale getal fietse is n+1, waar n die getal is wat jy tans het.
So in ‘n oomblik van swakheid mag ek dalk net besluit om myself met die 850 te bederf en nog steeds die 800 te hou ook.

anton ·

Koos ek weet darm nie of die Honda meer betroubaar as die BMW is nie maar een ding weet ek vir n feit en dis dat niemand BMW se naverkoop diens klop nie.
Amper orals sal ek hulp kan kry en onderdele as n BMW sou onklaar raak en ook redelik vinnig,maar van die ander fietse kan ek nie dieselfde sê nie en dit alleen maak al klaar n groot verskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.