BMW stel nuwe GS-avontuurfiets bekend

Die BMW F 850 GS Adventure. Foto: Brian Cheyne

Die middelslag motorfietsmark is besig om baie woelig te raak. BMW het in November 2018 sy F 850 en F 750 GS hier plaaslik bekend gestel en nou het dié reeks ook ’n avontuurweergawe bygekry.

Die Adventure-naamplaat beteken gewoonlik ’n groter brandstoftenk en beter vrotpadvermoë. Sommer met die eerste oogopslag lyk die Adventure reg vir die taak, maar as jy dieper kyk is hierdie net ’n opgesmukte F 850 GS. Behalwe vir die groter 23 liter brandstoftenk lyk die spesifikasie lys dieselfde as die standaard GS.

Die enjin is dieselfde 853 cc- enjin wat ook in die standaard GS diens doen. Met 95 pk beskikbaar kan jy die GS ver oor die 200 km/h druk, maar dit is nie eintlik waar hierdie tipe fietse uitblink nie. Draai bietjie weg van die teerpad af, dan kom die karakter van die GS goed deur.

Die Adventure kry ook beskermende pypwerk voorlangs en kom toegerus met bagasierakke agter. Wat dit nuttig maak, is dat jy nie BMW se tasse hoef op te sit nie. Jy kan sagte bagasie aankoop en die rakke sal sorg dat die sakke uit die agterwiel se pad bly. Die fiets vertoon baie mooi, veral in die Rallye-blou kleurskema. Die Adventure kom ook met bykomende kolligte.

Die BMW F 850 GS Adventure. Foto: Willem Ebersohn

Die saal is ’n eenstuk wat dit maklik maak om rond te skuif op die fiets, en is baie gemaklik. Dit maak egter die Adventure ’n baie hoë fiets. Die saal sit nou 875 mm van die grond af, maar BMW bied wel laer opsies.

Die F 850 GS Adventure is baie meer hanteerbaar as sy groter boetie, die 1250 GS, en ek glo dit was ook BMW se uitgangspunt hier. Die fiets is minder intimiderend as sy groter stalmaat en tog behoort hy twee passasiers en hul bagasie met gemak te kan hanteer.

As jy jou trapleertjie nader getrek het en jou sit op die Adventure gekry het, word jy begroet deur die weldeurdagte BMW-skakelaars. Alles is waar jy dit verwag en die groot TFT-skerm is uitstekend. Daar is bladsye vol inligting tot jou beskikking en die eenheid is leesbaar in enige lig.

Die BMW F 850 GS Adventure. Foto: Brian Cheyne

Die fiets was toegerus met Metzeler Karoo 3-bande en hoewel die bande baie raas, pas die bonkige bande by hierdie fiets. Ek en ’n vriend het so kort draffie gaan vat na ’n geweldige reënbui om die fiets te gaan ry waar hy hoort. Met waterplasse oral in glibberige modder was die BMW nie van stryk gebring nie. Die elektronika het alles mooi in toom gehou. Die fiets kom ook standaard met snelskakeling wat ratskakeling in die staanposisie baie maklik maak. Die fiets het baie vertroue ingeboesem en ons kon ’n redelike pas handhaaf.

Die vraag is net of die drastiese prysverskil tussen die standaard GS en die Adventure die moeite werd is. Behalwe vir die groter brandstoftenk en geringe veranderinge in die bakpanele is die fietse identies. Ek wonder of dit nie meer sin sal maak om ’n standaard een te koop en hom self in te rig na jou eie voorkeure nie. Maar as jy lang afstande wil aflê en nie hou van brandstof ingooi nie, vat dan eerder die Adventure.

Die produkblad is hier beskikbaar.

Die feite:

Enjin kapasiteit853 cc twee silinder
Gewig ( Nat )231 kg
Kraglewering95 pk / 70 kW @ 8 250 rpm
Wringkrag92 Nm @ 6 250 rpm
Tenkkapasiteit23 l
Saalhoogte875 mm
PrysVanaf R 223 300

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gys ·

Ek het beide die gewone 800GS en 1200GS.
Selfs met die 800 se 16 liter tenk, het ek nog nooit probleme ondervind nie.
Na ‘n paar dae in die saal, raak my boude in elk geval so vinnig lam, dat ek by elke dorp stop.
Ek draai in elk geval by elke dorpie af, ry rustig deur die plek, neem ‘n paar foto’s en koop ‘n koeldrank en eet dalk iets. So ek kan maar net sowel petrol ingooi terwyl ek daar is.
Geen wonder dit vat my 4 dae van Gauteng tot in Kaapstad op die Karoo se agterpaaie nie.

GS meisie ·

Dit is my groot droom om n GS te ry. Ek is sterk in my boarms, bene, en ry bergfiets. Ek wil 2020 my motorfiets lesensie kry en vir gevorderde motorfiets lesse gaan.
Maar ek is net 1.61m lank…sal ek op n GS pas?

Gys ·

Gaan kyk na die 310GS. Hy is redelik laag en lig. En jy kan nog steeds lang trips met hom doen. My vriendin het die 310.

Sopbeen, daai is tydens my jaarlikse familie vakansie. Ongelukkig moet ek begin Januarie weer werk toe gaan, so ek is nie heeltemal tyd se baas nie. 4 dae is n balans tussen pret en tyd.

Brian Cheyne ·

GS meisie, die 310 GS is ook nie baie laag nie, maar BMW bied verskeie opsies om hulle fietse laer te maak.

Lou ·

Mooi, maar ek verkies meer wiele en deure vir my rygoed.
Ek draai sommer die bakkie se venster oop as ek die wind in my hare wil voel.

BIKER ·

Lou… as die ding ‘n kapliggie het, is hy gevaarlik en ry ek hom nie…. GS Meisie, jy het ‘n probleem… gaan sit op die fiets en kyk of jou voete gemaklik grond raak – as dit nie – koop iets anders. BMW se fietse raak nou baie duur….

Ben Niemand ·

Ek het self ‘n 2018 1200GS. Het laasjaar Oktober ‘n 850GS Adventure toetsbestuur. Die eerste ding wat ek opgemerk het to ek wil omdraai is hoe “top heavy” hy voel teenoor die 1200. Het dieselfde dag die 1250GS Adventure ook gery en ek is nogsteeds dood tevrede met my gewone 1200GS. Ek sal veel eerder die Africa Twin bo die 850GS vat…

anton ·

Baie goed en wel, maar waar gaan die pryse van motorfietse heen?
Dink dit raak nou belaglik.
Kan n mooi en oulike klein motortjie koop vir selfs minder as die 850Gs Adv. se prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.