Brandstofverbruik: Ligloop vir ‘valse feite’

petrolpomp 2

Argieffoto.

Deur Brendon Staniforth

Mislei en bedrieg motorvervaardigers ons dalk gruwelik? Ja en nee. Kom ek verduidelik ’n bietjie. Die ontwikkelde wêreld ondersoek tans elke moontlikheid om besoedeling te bekamp. Slim wetenskaplikes gaan na konvensies oor die hele wêreld en beraam planne vir strenger riglyne om motoruitlaatgas te verminder.

Die lidlande van die Europese Unie (EU) word gedwing om aan allerlei standaarde te voldoen, onder meer die EU5-regulasie. Die EU-regulasie, nommer 443/2009, stel ’n gemiddelde mikpunt van 130 gram uitlaatgas per kilometer vas. Dié maatreël is ingestel tussen 2012 en 2015. ’n Mikpunt van 95 gram per kilometer sal in werking tree vanaf 2021.

Dit plaas motorvervaardigers onder geweldige druk om voertuie so ekonomies moontlik te maak. Die eindverbruiker plaas die vervaardiger onder verdere druk om die koopprys van voertuie so laag moontlik te hou. Baie soorte tegnologie raak dan onbekostigbaar.

Bogenoemde regulasie bepaal ook dat ’n voertuig se brandstofverbruik en uitlaatgas bekend gemaak moet word aan die eindverbruiker. ’n Regulasie is ingestel sodat vervaardigers almal teen dieselfde riglyn gemeet kan word. Dit bring ons by die NEDC (New European Driving Cycle).

Die toetse word in ’n laboratorium gedoen om herhaalbaarheid te verseker in volmaakte toestande. Dit is dan waar die “valse waarheid” inkruip. In werklikheid kan geen mens so ry op openbare paaie nie. Die standaard is nou al oud en in 1997 laas bygewerk. Op die sogenaamde “bewegende pad” word baie faktore, soos windweerstand, uitgesluit.

Dus kan ’n mens nie die plakkertjie op die voertuig of die vervaardiger se geadverteerde syfer in goeder trou aanvaar nie. Die vervaardiger mag egter die syfer adverteer omdat die toets volgens die regulasies gedoen is, en die syfer wel bewys kan word. Die meeste vervaardigers plaas nou voetnotas op hul webwerwe waar die brandstofverbruiksyfer verskaf word, maar waarin die eindverbruiker in kennis gestel word dat daardie syfer moontlik onbereikbaar is in gewone toestande.

Die NEDC-regulasie is al geruime tyd in die sop oor die herhaalbaarheid en akkuraatheid (al dan nie) van die syfers wat dit verskaf. Daar is ook wel ’n paar verskillende regulasies in verskeie lande. Europa gebruik die NEDC, Amerika gebruik die EPA Federal Test en Japan die JC08. Suid-Afrika gebruik die meer gewilde NEDC. Dus word daar nou aan die WLTP (Worldwide Harmonized Light Vehicles Test Procedure) gewerk. Dit sal ’n internasionale regulasie wees waaraan alle lande sal moet begin voldoen.

Die WLTP behels ’n baie meer aggressiewe toets om meer betroubare, geloofwaardige “werklike” syfers te lewer. Dieselvoertuie kan baie nader aan die NEDC-syfer kom. Daarvan kan ek uit ondervinding getuig. Turbopetrol-enjins sukkel baie om by die syfers wat uitgereik en geplaas word te kom. Die tydskrif CAR se tegniese redakteur, Nicol Louw, sê dit is standaardpraktyk by CAR om 20% by die NEDC-syfer te voeg as hulle die padtoetssyfers plaas. CAR beskou dit as die mees realistiese persentasie om by te las. CAR is ook Suid-Afrika se oudste motortydskrif en sal vir seker die meeste ondervinding hiermee hê.

In ’n neutedop beteken dit dat die eindverbruiker versigtig moet wees as dit kom by die aankoop van ’n nuwe voertuig. Gebruik die NEDC-syfer as riglyn – maar, dring daarop aan om vir ’n behoorlike toetsrit te gaan. Herstel die motor se rekenaar en kyk presies wat die brandstofverbruik is ná die toetsrit. Dit sal vir jou ’n baie beter prentjie gee van hoe lig of swaar die voertuig gaan wees wat brandstofverbruik betref.

Onthou, banddruk, lugversorging, ligte, wind en vrag is ’n paar faktore wat brandstofverbruik kan strem en heeltemal in die wiele ry. Bewapen jou eerder deeglik met die nodige inligting vir die koopproses en geniet die voertuig waarop jy finaal besluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Motors

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Trolle ·

Weet nie hoe hulle vuurspuwende berge se uitlaatgasse gaan verminder nie want dit is presies dieselfde gasse wat daaruit kom net n bietjie erger,dis plante voedel daai.Alles is een groot klug spul hoekom weier hulle om n dabat daar oor te hou,Ons gaan nog vreeslikke tax betaal in toekoms omdat ons lewe en asem haal.Te veel mag in n paar mense se hande om wereld besluite te neem vir biljoene mense.Die gevaar van n newclear oorlog met Russia is 1000 keer groter probleem as dit,maar dit lyk my soek hulle.

GES ·

Ek dink die eindverbruiker is meer bekommerd oor brandstofverbruik as lugbesoedeling. Dit is tog immers wat gebruikers se sakke direk raak.

Marius ·

Vervaardigers se nuee tegnologie is regtig verbasend invergeleke met die van die 80’s. Nuwe motors is egter baie duur. Vir ‘n klompie duisend kan vryvloei uitlaatpype en sportiewe lugfilters met ‘n ecu remap ouer motors help om minder brandstof te gebruik. Dit sal nie vir almal werk nie, maar ek is baie tevrede met resultaat wat ek gekry het.

Paul ·

Nuwe motors is, vergeleke met mense se inkomste, eintlik veel goedkoper as in die 80s in Suid-Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.