Bullitt bied ervaring sonder weerga

Foto: Verskaf

Ek het in 2018 ʼn Ford Mustang 5.0-V8 gery. Ek was glad nie beïndruk nie. Die motor het stukkend gevoel en ek het geworstel met wat om te sê.

Gelukkig het Ford in 2019 ʼn nuwe Mustang bekendgestel. Aan die ontwerp is die voorkant van die Mustang mooi opgeknap, maar verder het die ontwerp nie veel verander nie. ʼn Mustang se ontwerp is uniek en trek verskriklik aandag. Almal kyk.

Die beste opknappings het buite sig plaasgevind. Daar is steeds twee enjins beskikbaar, ʼn 2.3-viersilinderturbopetrolenjin, én ʼn atmosferiese 5.0-V8. Daar is wel ʼn nuwe outomatiese ratkas op albei modelle, naamlik Ford se nuwe tienspoed-ratkas wat in al sy voertuie, plaaslik en internasionaal, diens verrig – van die Ranger tot die Raptor, die F150 Raptor én dan die Mustang.

Die afslaandak-Mustang. Foto: Verskaf

Op papier is daar nét in die brandstofverbuik ʼn verbetering, maar nie in die verrigting nie. Ek sal wel sê – op die pad voel die korter verhoudings in die tienspoed-ratkas baie beter as op die voorganger.

Die afslaandak-Mustang is vir my ietwat van ʼn verwarring. Ek is nie ʼn afslaandakmens nie. Ek is ʼn rooikop – met ʼn patetiese vel. Dit, gepaard met die Afrika-son, maak van enige afslaandak ʼn slegte idee. Daar is ʼn klein bietjie geskud in die bakwerk en onderstel noudat die dak verwyder is, maar verder voel dit 99% Mustang. Ek het al in die Kaap gebly, en ek is oortuig op ʼn lente- of herfsmiddag, van Melkbosstrand tot in Kleinmond, al langs die kus sal só ʼn afslaandak fantasties wees … solank die wind nie waai nie.

Die Mustang Bullitt. Foto: Verskaf

Dit bring my by die Mustang wat my wêreld verander het – die Bullitt. Die Bullitt het ʼn sesspoed-handrat en 7 kW meer as die outo – maar dit beteken niks nie. Wat wél die verskil maak, is hoe die Mustang nou voel. Die swaardiensgehalte industriëlegraad-ratkas en koppelaar in die Bullitt voel soos gietyster in ʼn mens se hand. Die koppelaar is swaar. Die wisselaksie is taai … alles waaroor ek gewoonlik sal kla – maar in die Mustang, gepaard met daai asemrowende brul van die 5.0-V8 … voel dit perfek.

Tot groot mate is die Bullitt dieselfde as enige ander V8 Mustang, afgesien van die opgegradeerde Bang & Olufsen-klankstelsel van 1 000 W én die Bullitt-aksent hier en daar.

Die Mustang Bullitt. Foto: Verskaf

Die verskil kom in by die sinergie tussen man en masjien wat die handrat vereis. Die Bullitt is tevrede om stadig rond te ploeter, omwentelinge onder 2 500 r/min soos jy rustig deur die ratte toer. Maar – as die wind só waai en jy skop terug tweede toe en begrawe die versneller in die mat … dan begin die Bullitt trek.

Hier teen 4 000 r/min begin hy hol, en brul. Hier teen 6 000 r/min is dit ʼn simfonie van geraas en dan bars die laaste bom. Tussen 6 000 en 7 300 r/min trek die Bullitt soos nét ʼn atmosferiese V8 kan. Die ratverhoudings is verskriklik lank – die Bullitt doen omtrent 75 in eerste, 125 in tweede en 175 in derde – dis fantasties. Die lang ratverhoudings help nie versnelling nie – as daar korter verhoudings was, sou die Bullitt ʼn baie meer indrukwekkende klim van 0–100 km/h gehad het, maar dit gaan nie nét daaroor nie. Die ervaring is alles.

Die twee enjins lyk só:

  2.3 Turbo-afslaandak 5.0-V8 Bullitt
Krag 213 kW/441 Nm 338 kW/529 Nm
Ratkas 10-spd-outo 6-spd-handrat
0–00 km/h 5.7 sek 4.5 sek
Topspoed 233 km/h 262 km/h
Brandstofverbruik 9.5 ℓ/100 km 12.4 ℓ/100 km

Die Mustang Bullitt. Foto: Verskaf

Nou maak die Mustang vir my sin. Dis is nie regtig baie prakties nie, dis meer ʼn 2 + 2 as ʼn ware viersitplekkoepee. Die kattebak is wel lekker groot. Die Mustang se lang slap neus kan moeilik wees om te parkeer, maar dit maak nie saak nie. Dis ʼn Mustang. Die ritgehalte is heeltemal gemaklik genoeg, en die padhouvermoë is merkwaardig verbeter met die toevoeging van ʼn onafhanklike agterste ewenaar en vering. Nou kan die Mustang baie beter vastrap en hanteer as sy voorganger … maar weereens maak dit nie regtig saak nie. Dis ʼn Mustang.

Nostalgiese wedergeboortes van óú legendes is nie altyd ʼn sukses nie. Die meeste van die nuwe ou karre is ook meestal baie beperk … maar dit maak nie saak nie, dit is iets wat dáái koper soek. Hy soek ʼn Volla, óf ʼn MINI, of ʼn Fiat 500 … óf ʼn Mustang. Ek het nooit die fliek Bullitt gekyk nie – dis lank voor my tyd – dalk moet ek ʼn DVD in die hande kry, maar nietemin, die Mustang Bullitt is ʼn fantastiese ryding. Dit voel nostalgies en sal jou soos ʼn nar laat glimlag … dis bitter spesiaal.

Die reeks lyk só:

Ford Mustang 2.3T Fastback R809 200
Ford Mustang 2.3T Afslaandak R875 000
Ford Mustang 5.0 GT Fastback R964 400
Ford Mustang 5.0 GT Afslaandak R1 029 700
Ford Mustang 5.0 Bullitt R1 047 900

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi S5 Coupé Quattro 260 kW/ 500 Nm 0–100 km/h 4.7 sek

250 km/h topspoed

7.4 ℓ/100 km 1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R945 500
BMW 440i M Sport 240 kW/ 450 Nm 0–100 km/h

5 sek

250 km/h topspoed

6.6 ℓ/100 km 2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 006 242
Mercedes-AMG C43 Coupé 4Matic 287 kW/ 520 Nm 0–100 km/h 4.7 sek

250 km/h topspoed

9.5 ℓ/100 km 2 jaar onbeperkte km-waarborg

5 jaar/ 100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 082 280
Lexus RC-F 351 kW/ 530 Nm 0–100 km/h 4.3 sek

270 km/h topspoed

11.2 ℓ/100 km 7 jaar/105 000 km- waarborg

7 jaar/105 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 358 100

ʼn Goedkoper opsie:

Toyota 86 147 kW/205 Nm 0–100 km/h 7.6 sek

226 km/h topspoed

7.8 ℓ/100 km 3 jaar/

100 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R632 200

Tussen dié mededingers is die drie Duitsers almal puik. Hulle is wel turboaangejaag en almal outomaties. As jy jonk en nuut is wat die sportskarding betref – en jy soek nie ʼn Golf GTI nie, is die Toyota 86 ʼn goeie opsie. Die Duitsers is beslis vinniger as die Mustang met hul vierwielaandrywing en só … maar die gevoel van daai Bullitt is ongeëwenaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.