Chery J2 1.5 – die moeite werd?

Chery J2

Chery J2 Foto: Bernard K Hellberg

Die “Chinese aanslag” wat motoruitvoere betref, word al hoe feller. So ook is die merkwaardige gehalteverbetering wat daardie land se produkte begin kenmerk.

Maroela Media Motors (MMM) het onlangs een van hierdie nuwelinge onder hande gehad, en hier’s ons gevolgtrekkinge: Die J2 met sy 1.5-liter viersilinder wat glo 72 kW ontwikkel, ding mee met intreevlakvoertuie soos die Ford Figo en die Volkswagen Polo Vivo.

Wat die Chery se voorkoms betref, is die ontwerp redelik Europees en vertoon dit soos ‘n tipiese moderne B-klas motor. Die binneruim en beenspasie is heel goed en daar is self hegpunte vir Isofix-kinderstoeltjies – ‘n pluspunt wat die Chery onder jong mammas se aandag sal bring.

Ander pluspunte is die volgrootte noodwiel in die bagasiseruim. Soos die ander is dit ‘n 185/60R15 Linglong (‘n tipiese Chinese handelsmerk wat ons nie ken nie) maar wat nie die Chery in die steek gelaat het wanneer dit kom by rem en versnelling nie. Draaivatvermoë was maar so-so en dis nie die klas voertuig waarmee enige mens skerp draaie teen hoë snelhede wil aandurf nie.

‘n Toetsrit op ‘n 8 kilometer-lange grondpad het ook die Chery se digtheid bewys, terwyl alle bakpanele goed gepas het en rammelvry was.

Die aanbevole prys van R129 000 sluit ook ‘n twee jaar/30 000 km diensplan in, en die waarborg dek 5 jaar/120 000 kilometers.

Ander goeie nuus-komponente sluit in ‘n verhitte agterruit en elektriese vensters (van die ‘hou die knoppie vas tot ek bo of onder is’-tipe).

Dinge wat gepla het, sluit in die eienaardige, amper giftige en oorweldigende reuk van plastiek in die binneruim – dieselfde reuk wat jy kry as jy ‘n paar Chinese tekkies koop, die klaarblyklike gebrek aan krag wat daartoe bydra dat versnelling van 1-100 km/h ‘n hele 15 sekondes neem. Maksimum snelheid, so word beweer, is ‘n skaflike 171 km/h, maar dis ‘n geval van sien is glo en proe is die heilige waarheid.

Die voorste sitplekke verdien ‘n bietjie aandag. Kantsteun is maar effentjies en sal die bestuurder en voorste passasier laat soek na iets om aan vas te klou in ‘n draai.
Die invoerders sê ook brandstofverbruik is in die orde van 7.4 liter/100 km – heel binne die J2 se bereik.

Met die somer op ons is dit ook ‘n plesier om te meld dat die J2 se lugversorging goed werk en almal koel hou.

My grootste problem is egter met die raserige ratkas – ‘n 5-gang handskakeleenheid – asook die raserige enjin wat teen ‘n heel rustige 3 125 opm toer teen ‘n wettige 120 km/h. Teen hierdie snelheid wys die meter reeds 126 km/h – gewis ‘n veiligheidsfaktor wat die spoedkaartjies uit die poshokkies sal hou.

Ten slotte: Ek is nog nie heeltemal oortuig dat sekere Chinese voertuie – en dit sluit die Chery J2 in – reeds ver genoeg gevorder het om ‘n ernstige bedreiging vir die gevestigde voertuie soos die Honda Brio, Vivo en Figo te wees nie. Maar dat die Chinese vinnig besig is om in te haal, is gewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.