Citroën C3 vs Jeep Renegade: Een puik en een power

Die Citroën C3 Aircross.

Daar het onlangs twee buksies by die kantoor opgedaag. Albei is klein sportnutsvoertuie met voorwielaandrywing, ʼn turbopetrolenjin, ʼn outomatiese ratkas en sitplek vir vyf. Verder kon die twee voertuie nie méér van mekaar verskil nie.

Die twee voertuie wat ek vandag met mekaar vergelyk, is die Jeep Renegade 1.4T Longitude en Citroën se C3 Aircross. Die Jeep is nou al ʼn hele ruk op die mark beskikbaar en Citroën het so pas teruggekeer na Suid-Afrika.

Die Jeep Renegade.

Ontwerp

Die buite-ontwerp van die twee is modieus. Dit sal wel afhang van wat jou smaak is – maar albei voertuie is glad nie lelik nie. Jeep-liefhebbers sal dink die Renegade is oulik, maar die sjarme van die Fransman is vir my oulik.

Binneruim

Die Jeep vat ietwat van ʼn Amerikaanse hoek hier. Skryf Jeep op die goed en vertrou dat die handelsmerk die voertuig vir jou sal verkoop.

Die Jeep Renegade.

Dis nie ongemaklik nie – maar daar is nie te veel tyd hieraan bestee nie. Die Citroën is slim verpak en ʼn gesin van vyf is in gedagte gehou. Die agterste sitplekke se rugleuning kan verstel en hulle kan vorentoe en agtertoe skuif om die kattebakruimte te verbeter indien nodig. Verder is die ontwerp jonk en skoon.

Enjin en ratkas

Die Jeep word aangedryf deur Fiat en Alfa se 1.4-viersilinderturbopetrolenjin. Dié enjin bied 103 kW en 230 Nm wringkrag. Die krag word na die voorwiele verplaas deur ʼn sewespoed-dubbelkoppelaarratkas.

Die Citroën C3 Aircross.

Die Citroën word aangedryf deur ʼn 1.2-driesilinderturbopetrolenjin wat 81 kW en 205 Nm bied. Die krag word deur ʼn hoëspoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas na die voorwiele oorgedra. Tussen die twee voel die Citroën in elke opsig soos die beter produk.

Sterker (al sê dit nie só op papier nie) en die ratkas is meer egalig. Die grootste kwelling met die Jeep is dat hy op bulte agteruitrol.

Die Jeep Renegade.

Die meeste voertuie met dubbelkoppelaarratkaste hou hulself op ʼn bult met die remme. Soos wegtrekhulp. Nie die Jeep nie. Die nagevolge is dat ʼn mens op elke bult eers ʼn bietjie agteruitrol. Jy trap die remme, dan skop die koppelaar weer in en jy begin van voor af.

Ritgehalte en padhouvermoë

Die ritgehalte in die Jeep is beslis nie sleg nie – maar dis beter in die Citroën. Padhouvermoë en bakrol is min genoeg vir dié soort voertuig. Die Jeep het effe minder bakrol – maar dis weens harder vering – so, hy is nie so gemaklik soos die Citroën nie.

Opsomming

Die Citroën C3 Aircross.

Teen R400 000 is die Jeep beslis ʼn teleurstelling. Dalk ʼn oulike opsie vir dié wat deel wil wees van die handelsmerk – maar daar is beslis beter opsies daarbuite. Die Citroën is splinternuut en die ontwerp regtig mooi. Sy prysklas is in dieselfde gleuf as VW se T-Cross, maar voel vir my soos ʼn effe ruimer voertuig. Beslis een om te oorweeg.

Die twee vergelyk só:

Jeep Renegade 1.4T Longitude103 kW/230 Nm5.9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/100 000 km-diensplan

R400 000
Citroën C3 Aircross 1.2T Shine81 kW/205 Nm6.5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R369 900

Die Citroën se waarborg is met twee jaar beter as die Jeep sʼn.

Die kompetisie lyk só:

Ford EcoSport 1.0T Titanium Auto92 kW/170 Nm6.3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R360 900
Hyundai Venue 1.0T Glide88 kW/172 Nm6.9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R369 900
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85kW Highline85 kW/200 Nm5.3 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R374 500

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Die uiteindelike wenner gaan die een wees wat die minste breek en wat dan die vinnigste terug op die pad kan kom. Is daardie inligting dalk beskikbaar? Ek het ‘n vermoede Ford en Volkswagen gaan hier wen.

Leon ·

In elke geval hopeloos te duur vir wat jy kry. Gladnie die prys werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.