Corolla sonder weerga

Foto: Verskaf

Dit is nou al geen geheim dat ek ʼn groot liefhebber is van ʼn regte, egte sedanmotor nie. Ek het ʼn wyle terug die Corolla en Mazda 3 onder hande gehad. Die Corolla was puik, maar wel ʼn CVT-palwisseltransmissie- outomatiese weergawe – en ek wou die handrat onder hande kry.

Die Toyota Corolla 2.0 XR-handrat het dieselfde pragtige ontwerp en nou voel ek of die handrat se karakter meer by die stilering pas. Die Corolla met sy 18”-wiele lyk regtig wintie, én nou met die 2.0-viersilinderpetrolenjin en ʼn 6-spoedhandrat is hy beslis meer wintie as in die outo.

Foto: Verskaf

Die binneruim beïndruk steeds. Die ontwerp is werklik modern en sportief. Alles is ergonomies uitgelê en die Corolla voel beslis nie soos ouer Japannese binneruimsoorte gepeper met harde plastiek nie. Die spesifikasievlak is regtig indrukwekkend met ʼn magdom veiligheidstelsels soos sewe lugsakke, ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer. Daar is klimaatbeheer, outomatiese helderligte, aanpasbare spoedkontrole – die lot.

Die 2.0 bied 125 kW en 200 Nm. Die wringkrag piek tussen 4 400 en 4 800 r/min en as mens die omwentelinge daar hou, klim die Corolla die meeste bulte soos ʼn yster. Nog iets, 0–100 km/h neem ʼn ratse 8 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn billike 200 km/h.

Foto: Verskaf

Die gemiddelde brandstofverbruik van 6.5 ℓ/100 km is maklik haalbaar in die handrat. Die handratkas se hefboom werk glad en direk. Die koppelaar se kalibrasie kan vir my effe beter wees omdat die vorige Corolla-diesel sʼn perfek was, maar dit is beslis nie sleg nie.

Op die pad is waar die Corolla regtig begin uitblink. Dit is vir my fantasties hoe hulle die rit só sag en soepel gekry het op ʼn 18”-wiel met ʼn 40-profielband. Die ritgehalte is puik, en die padhouvermoë soos mens net van ʼn sedan kan verwag.

Deesdae se handratvoertuie se koppelaars is só lig en die ratkaste só goed, dat ek sou stry in die meeste situasies is ʼn outomatiese kar nie nodig nie. Die handrat-Corolla se karakter pas nou by die beeld wat die ontwerp uitsaai.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla 1.8 XS104 kW/171 Nm6.2 ℓ/100 kmR380 200
Toyota Corolla 2.0 XR125 kW/200 Nm6.5 ℓ/100 kmR420 500
Toyota Corolla 2.0 XR outo125 kW/200 Nm6.0 ℓ/100 kmR433 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 6-dienstediensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mazda 3 1.5 Individual88 kW/153 Nm5.9 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km- waarborg en diensplanR428 800

Die Corolla het net een handrat-mededinger in die Mazda 3, maar hy het die 1.5-enjin wat nie naby die Corolla se verrigting kom nie. So, die Corolla staan pens en pootjies op ʼn troon van sy eie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

So jy wil die 1.5 met 1.8 of 2.0 vergelyk – regtig. Pragtige ontwerp? seker van agteraf van vooraf hond lelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.