Corolla vind weer sy towerstaf

Die nuwe Toyota Corolla. Foto: Verskaf

Toyota se Corolla is in 1986 en 1989 as die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se Motor van die Jaar gekroon. Ek kan daai Toyotas onthou. Ek was ʼn laaitie, en almal wat een gehad het, was verskriklik trots op hul nuwe rygoed.

Die laaste Toyota wat ek kan onthou waarna almal gesmag het, was die Conquest RSi. Die 160 was warm, maar die 180i witwarm. Sy sitplekke was fantasties. Toe kom die Camry. Toyota het hulle soos soetkoek verkoop. As ʼn mens aan klein gesinsbuksies dink, en nie ʼn Hilux of Fortuner nie, kan ek nie aan ʼn betowerende Toyota daarna dink nie. Tot nou.

Die nuwe Toyota Corolla. Foto: Verskaf

Die splinternuwe Toyota Corolla is nie net mooi nie… dis ongelooflik mooi. Die lyne vloei mooi van voor na agter. Dit is een van die eerste Toyotas waar ons in Suid-Afrika ook die mooi groot wiele kry. Dit rond die pakket perfek af.

Dan klim ʼn mens in, en die verbasing groei. Die binneruim beïndruk net so veel soos die buitekant. Mooi sitplekke, luukse en sagte materiale op die paneelbord… sjoe. Dit eindig nie daar nie. Die Corolla pronk met sewe lugsakke, ABS, EBD, vastrapbeheer, blindekolwaarskuwing met baanbeheer en aanpasbare spoedbeheer. Alle nuwe Toyotas word verkoop met 20 Gb komplimentêre Wi-Fi en die Corolla het Apple CarPlay en Android Auto.

Die nuwe Toyota Corolla. Foto: Verskaf

Dié spesifieke Corolla is die 2.0 XR-outo-model. Die atmosferiese 2.0-viersilinderpetrolenjin bied 125 kW en 200 Nm. Dit neem ʼn ratse 8,6 sekondes van 0 – 100 km/h en hy sal aanhou draf tot 195 km/h. My enigste kwessie met die Corolla is ook sy sterkpunt, naamlik die CVT-palwisseltransmissie. Toyota sʼn is by verre die beste op die mark met 10 voorafgeprogrammeerde “ratte”, maar as jy wil jaag, is ʼn CVT nie lekker nie. ʼn CVT is wel puik vir brandstofverbruik. Ek het ʼn paar vergaderings met die Corolla bygewoon, en in die dorpsverkeer in en om Pretoria kon ek ʼn baie billike 6,8 ℓ/100 km handhaaf. Ek glo dit sal nóg beter wees op die oop pad.

Die nuwe Toyota Corolla. Foto: Verskaf

Op die pad voel die Corolla uitermatig sag geveer, ondanks sy groot wiele met laeprofielbande. Padhouvermoë is indrukwekkend en die stuurgevoel verbasend in dié segment. Die kajuit is goed geïsoleer en te danke aan luukshede soos outomatiese ligte en ruitveërs is ʼn mens voorwaar kalm agter die stuur.

Dit is bitter maklik om dié Corolla op te som. Dit is pragtig, puik toegerus en goedkoper as sy naaste mededingers. Ek wil beslis die handrat onder hande kry, want ek dink daar is ʼn kant van die Corolla se karakter wat nie met ʼn CVT toeganklik is nie. Voor jy jou volgende voertuig koop – moet nie net ʼn sportnutsvoertuig gaan koop nie. Sedans ry bitter lekker, en bied baie goeie kattebakspasie. Neem ʼn Corolla vir ʼn toetsrit; jy sal moontlik verbaas wees.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla 1.8 XS104 kW/171 Nm6,2 ℓ/100 kmR380 200
Toyota Corolla 2.0 XR125 kW/200 Nm6,5 ℓ/100 kmR420 500
Toyota Corolla 2.0 XR outo125 kW/200 Nm6,0 ℓ/100 kmR433 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 6-dienste-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Honda Civic 1.8 Elegance104 kW/174 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R441 800
Mazda 3 2.0 Astina121 kW/213 Nm6,2 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R474 600

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Toyota Corolla 1.8 Sprinter het in 1984 R10 500.00 gekos.

JohanR ·

My 1600cc Ford Sierra uit die boks het in 1983 R10000 gekos. Lyk my Manie ons het ‘n nuwe kar amper op die selfde tyd gekoop. Enigste rede dat ek ‘n Sierra gekoop het is dat Toyota my amper niks vir my Ford Escort wou gee nie, toe loop ek oor die pad na Ford.

4ntj13 ·

ʼn Golf GTI het in 1982 R11 999 gekos. Mens wat begin werk het, het toe nie R100 per maand verdien nie.
Corollas het Toyota se handelsmerk in SA verbeter sodat hulle Camrys kon verkoop later. Maar dit het ook die Conquest as intreevlak-motor meer aansien gegee. Vandag se Corollas kan nie meer daarop aanspraak maak nie.

koos10 ·

Foto’s kan nie die kar gestand doen nie. Gaan kyk in die vertoon kamers, veral in wit, en dan sien julle hoe ‘n mooi kar lyk. En die komplimente van ‘n Suzuki aanhanger! Die Koreane gaan moet spoed vang, die Japenese is besig om met ‘n krag by te kom!

Stof ·

Die Corrola familie is al so ingewortel in harte, dat die legende-status van hierdie betroubare ry-ysters, hulle nooit maklik ontneem sal word nie.
Tien raaiskote: watter voertuig dink jy pryk onder my afdak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.