Covid-19 verwoestend vir plaaslike motorbedryf

Argieffoto: Pixabay

Die tydperk van algehele afsondering en die gevolglike sluit van grense en hawes, het verwoestende gevolge vir plaaslike motorvervaardigers. Vervaardigers soos Volkswagen, Ford, Mercedes-Benz, BMW, Toyota, Isuzu en Nissan het almal fabrieke in Suid-Afrika wat voertuie vir die plaaslike en uitvoermarkte vervaardig.

Al dié fabrieke en handelaarnetwerke is tans toe, wat beteken die bedryf staan stil. Dit het ʼn geweldige uitwerking op nie net die vervaardigers self nie, maar ook die finansiële welstand van Suid-Afrika. Dit is omdat elke voertuig wat ingevoer word, sowel as dié wat verkoop word, belastinginkomste vir die regering bied.

Volgens syfers van die nasionale vereniging van motorvervaardigers in Suid-Afrika (Naamsa) het Suid-Afrikaners uit verskillende sfere, insluitend die regering, in Februarie vanjaar 43 485 nuwe voertuie gekoop. Sowat 30 832 voertuie is uitgevoer. Dit sluit passasier‑ en handelsvoertuie in. In Maart kon slegs 33 545 nuwe voertuie in Suid-Afrika aangekoop word en 28 883 uitgevoer word voor die inperking in werking getree het. Dit is ʼn 23%-daling in verkope en 6,3% in uitvoere.

Die vermindering in bedrywighede in die motorbedryf, kos die regering dus miljarde aan belastinginkomste.

Foto: http://www.volkswagen.de/

Sou die tydperk van afsondering op 16 April gelig word, sal produksie ook nie onmiddellik kan voortgaan nie. Die hele voorsieningsketting sal eers weer aan die gang gesit en enige agterstande by die hawes eers ingehaal moet word. Kenners meen  ʼn paar voertuie sal wel afgelewer word, maar die tekort aan voorraad, prysverhogings weens wisselkoerse en die stabiliteit van die voorsieningsketting gaan die motorbedryf in ʼn bitter moeilike posisie plaas vir ten minste die volgende kwartaal.

Andile Dlamini, woordvoerder van Volkswagen Suid-Afrika, sê Volkswagen se bestuur is reeds besig om planne te beraam vir stelselmatige produksie kort na die tydperk van afsondering opgehef word, soos wat hulle elke jaar in Januarie doen. Volkswagen het in Maart die meeste voertuie uitgevoer, met 8 461 of 29,29% van Suid-Afrika se uitvoere verlede maand.

Die vervaardiger probeer ook ruimte skep vir sosiale distansiëring in die werkplek. “Dit gaan die norm raak om veilige en gesonde afstande te handhaaf in die toekoms, nie net terwyl die gevaar van die virus daar is nie,” sê Dlamini.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.