‘Dak van Afrika’ gaan oor uiterstes

Sneeubedekte passe tydens die 2017 Motul Dak van Afrika. Foto deur ZA Bikers

Lank voor ek self op ʼn motorfiets kon klim, het ek al gehoor van die Dak van Afrika-tydren.

Dit is ʼn moordende tydren wat in Lesotho plaasvind en ryers en hulle motorfietse tot die uiterste beproef. Vanjaar word die 51ste Dak van Afrika gehou, en die organiseerders belowe die nuwe roete sal die naam gestand doen.

Van 5 tot 8 Desember vind die Motul Dak van Afrika in die bergkoninkryk van Lesotho plaas. Die hele wedren gaan oor uiterstes: Afrika se hoogste pieke, passe en asemrowendste landskappe.

Met tweederdes van vanjaar se roete wat nog nooit in die Dak voorgekom het nie en die oorblywende derde wat bestaan ​​uit gebiede wat laas in 2010 gebruik is, sal selfs die mees ervare uithouryers hulle op nuwe en onbekende terrein bevind.

Deelnemers by die wegsping van die 2017 Motul Dak van Afrika

Elke jaar vind ʼn trajek van die Dak plaas in beboude gebiede waar toeskouers ook deel kan wees van die geleentheid. Dit moet nog bevestig word, maar die plan is dat hierdie trajek na ʼn nuwe toeskouer- en verkeersvriendelike gebied aan die buitewyke van Maseru verskuif word. Dit beloof om ʼn opwindende begin van die naweek se wedrenne te bied.

Volgens Peter Luck, organiseerder van die Motul Dak van Afrika-tydren, is die topnaam van die Dak in ag geneem toe ʼn nuwe roete beplan is om ryers na totaal onbekende dele van Lesotho te neem. Die tydren is die moeder van taai uithourenne en die nuwe roete bewys dat die tydren nie makliker op sy oudag geword het nie. Baie aandag is geskenk daaraan om die administratiewe gedeelte van die tydren ook gladder te laat verloop.

‘n Stroompie word oorgesteek tydens die 2017 Dak van Afrika. Foto deur ZA Bikers

Mercia Jansen, Motul se gebiedsbestuurder vir Oos- en Suider-Afrika, sê hulle is verheug om as titelborg vir die derde agtereenvolgende jaar weer met hierdie gesogte tydren verbind te wees. Sy is vol vertroue dat die 2018 Motul Dak van Afrika vir mededingers én toeskouers ʼn ongelooflike ervaring sal wees.  Besonderhede van die opwindende nuwe roete, die dokumente en keuringsproses, asook ander belangrike inligting, sal binnekort bekend gemaak word.

Vir inligting, besoek die webwerf http://roofofafrica.info/ of volg die amptelike Facebook-bladsy: https://web.facebook.com/roofofafricalive/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.