Die beste in sy segment?

Die Isuzu D-Max. (Foto: Verskaf)

As ʼn mens na die bakkiesegment kyk, is daar ʼn magdom variante en opsies. Enkel, ekstra óf dubbelkajuit. Handrat of outo. 4×2 of 4×4. Kleiner enjins. Groter enjins. Petrol of diesel. Daar is drie markleiers: Toyota, Ford en Isuzu. Hulle verkoop die grootste aantal bakkies elke maand in Suid-Afrika.

Dan begin ek dink, op watse een sal ek my geld uitgee? Die Hilux, Ranger en D-Max is almal puik produkte. Die Hilux bied moontlik die beste balans tussen gemak en verrigting, die Ford is beslis die gemaklikste en dán is die D-Max beslis die taaiste tussen hulle.

Ek kon onlangs die Isuzu D-Max 250-dubbelkajuit-X-Rider outo toets. Baie ouens dink nog aan die ou 2.5-Isuzu. Dit is beslis nie daai een nie. Daai ou 2.5 het vreeslik geraas en was stadiger as evolusie. Die nuwe een is tjoepstil, bied 100 kW en 320 Nm, het ʼn outomatiese ratkas en sal lag-lag 170 km/h loop – beslis nie soos die oue nie.

Die X-Rider het nóg ʼn troefkaart in sy mou. Dis regtig mooi. Die 18”-wiele, X-Rider-aksente, swart sierrooster, sytrappies en rolstaaf maak almal die Isuzu regtig mooi. Die binneruim het swart leersitplekke met X-Rider op die rugleunings geborduur. Netjies. Die toetseenheid het Isuzu se nuwe opsionele Alpine-raakskerminligtingstelsel gehad wat Apple CarPlay en Android Auto bied. Een funksie wat ek beslis mis by die Isuzu is rigtingwysers wat drie keer flikker as jy van baan verwissel op die snelweg wanneer jy daardie armpie liggies druk en los. Die meeste ander voertuie bied dit, en ek hou daarvan.

Die Isuzu D-Max. (Foto: Verskaf)

Op die pad is waar die X-Rider verder uitblink. Die rit is nie onaanvaarbaar nie, dog hard. Dit moet só wees – dis tog ʼn bakkie. Dié bakkie sal ʼn goeie vrag kan dra sonder om sy boude op die grond te sleep. As ʼn mens rustig ry, toer die bakkie lieflik stil. Die 5-spoed- outomatiese ratkas se ratverhoudings is puik gespasieer en hou die 2.5 altyd in die kol.

Die X-Rider is maklik om op te som. Ek het die argument al duisend keer gehoor van hoekom iemand die sterker enjin nodig het. Indien jy ʼn drietonboot sleep, 100% ja, maar as jou bakkie dan en wan vullis rondry, ʼn bietjie boumateriaal laai en ʼn woonwa trek, het jy beslis nie die 3.0 nodig nie. Die 2.5 sal 2.1 ton sleep, maar Isuzu het ook nou die 3.0 enjin in ʼn X-Rider beskikbaar gestel – en vir R50 000 meer kan hy 3.5 ton sleep.

Die X-Rider se voorkoms is regtig netjies. Die binneruim is wel meer werkesel as rusbank, maar dit bly ʼn bakkie. Die X-Rider lyk nie uit plek uit op die plaas óf in die dorp nie, en die lekkerste aantrekkingspunt van almal is dat hy nie ʼn gunsteling is met boewe of kapers nie.

Die reeks lyk só:

Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider handrat100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR483 900
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider outo100 kW/320 Nm8.1 ℓ/100 kmR502 200
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider 4×4 handrat100 kW/320 Nm7.9 ℓ/100 kmR538 200
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit X-Rider outo130 kW/380 Nm7.5 ℓ/100 kmR551 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Pik up 2.2CRDe dubbelkajuit S11 outo103 kW/320 Nm7.9 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R384 999
Ford Ranger 2.2TDCi dubbelkajuit Hi-Rider XL outo118 kW/385 Nm7.6 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R471 900
Toyota Hilux 2.4GD-6 dubbelkajuit SRX outo110 kW/400 Nm7.9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste- diensplan

R493 700
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit outo133 kW/430 Nm7.6 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R554 995
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit SE outo140 kW/450 Nm6.8 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R555 800
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit Highline outo132 kW/420 Nm8.4 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R653 300

Tussen dié mededingers is die Mahindra Pik up baie onderskat. Die Ranger, Hilux en D-Max kos almal amper dieselfde geld – so, dit gaan heeltemal van smaak afhang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet-van-die-namib ·

In 2021 gaan Isuzu sy nuwe D-MAX modelle vrystel volgens die media. Nee ek ry maar self n Isuzu en hy moet maar raserig wees!!!

andre ·

Dis net jammer Isuzu het nie n groter handelaarsnetwerk nie.Om met n ander Japanese vervaardiger soos Suzuki saam te werk sal ideaal wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.