Die beste sportnutsvoertuig?

Mitsubishi ASX Foto: Mitsubishi

Mitsubishi ASX Foto: Mitsubishi

Mitsubishi Motors SA bou ywerig voort op sy groeiende reputasie vir die aanbieding van gehaltevoertuie teen uitstekende waarde-vir-geld-pryse met die bekendstelling van sy verfriste en verbeterde reeks kompakte ASX-sportnutsvoertuie (ASX is die akroniem vir “Active Sporty Crossover”).

“Hierdie mark bied toenemende vlakke van waarde vir geld en ‘n volgehoue stroom nuwe modelle,” sê Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van Mitsubishi Motors SA. “In die lig hiervan het ons baie vertroue in ons jongste ASX-aanbieding, veral omdat dit spog met selfs meer toegevoegde waarde-eienskappe en -voordele as sy voorganger.”

Sedert Mitsubishi op 1 Julie 2011 tot stand gekom het as ‘n alleenstaande handelsmerk in die Imperial-stal, het die maatskappy besonder goed gevaar, met verkoopsyfers wat sterk groei toon. Trouens, Mitsubishi het sedertdien sy verkoopsvolume meer as verdubbel en ses nuwe weergawes op die SA mark bekend gestel.

Die ASX, wat in September 2011 hier bekend gestel is, spog reeds met ‘n plaaslike afset van meer as 3 500 eenhede. Internasionaal is al meer as 380 000 ASX’s in meer as 100 lande van die wêreld verkoop.

Die kompakte SNV is gesamentlik met verskeie ander Europese handelsmerke ontwikkel en bied uitstekende verfynings- en gehaltevlakke. Die Mitsubishi-weergawe is globaal egter die suksesvolste – wat toegeskryf kan word aan die Japanners se aandag aan detail en die mededingende pryse. En Mitsubishi, wie se produkreeks voorheen oorheers is deur groot voertuie om die Dakar-uithouren te oorheers, het besonder goed gevaar met die stadstipe stilering en gerief van die kompakte ASX.

Vir die 2014-modeljaar is daar vyf modelle in die ASX-reeks. Al die weergawes trek aan hul voorwiele en almal word aangedryf deur ‘n petrolenjin van twee liter. Daar is ‘n keuse tussen ‘n vyfganghandratkas en ‘n sesgang-palwisselratkas (PWR) – of CVR (vir Continuous Variable Transmission), soos dit op Engels bekend staan. Die bewese en ekonomiese tweeliterkragbron ontwikkel 110kW by 6 000r/min en 197N.m se wringkrag by 4 200r/min. Die verbruik is ‘n suinige 7,5L/100km – ‘n groot bonus in hierdie tye van hoë brandstofpryse, en die brandstoftenk hou 63 liter.
Die vyf modelle is die GL, GLX (‘n nuwe weergawe), die GLS met die vyfganghandratkas en Rockford Fosgate-klankstelsel, die GLS met PWR (CVT outokas), en die GLS met PWR en ‘n Rockford Fosgate-klankstelsel.

Al die ASX-modelle het ‘n middelpaneel in ‘n donker titaankleur. Standaard in die GL- en GLX-modelle is ‘n opgegradeerde klankstelsel met vier luidsprekers en twee hoëtoonluidsprekers. Vir die oudiofiele is daar die opsie van die Rockford Fosgate-stelsel in die GLS-weergawes, wat ‘n 500W-laebasluidspreker plus nege luidsprekers insluit. Die klankstelsel word beheer deur kontroles aan die stuurwiel.
Dit alles is bykomend tot die wye reeks ander eienskappe wat oorgedra is van die vorige model, insluitende handvrye Bluetooth-konneksie vir ‘n selfoon. Die Link-stelsel is verkrygbaar in al die modelle. Link is ‘n stembeheerde stelsel, wat skakeling deur programmatuur moontlik maak wat ook ‘n leerfunksie het. Die foon kan ook van die stuurwiel af bedryf word.

Ook standaard deur die hele modelreeks is parkeerafstandbeheer, misligte, ‘n veelinligtingvertoon, bedekking vir die groot bagasieruim en leeroortreksel vir die stuurwiel en die ratkierieknop. Al die modelle het nou verhitte kantspieëls, snelheidsbeheer met kontroles aan die stuurwiel, reëngevoelige ruitveërs en outomatiese beheer van die hoofligte, afhangende van die beskikbare lig.

Die omvattende spesifikasie van die nuwe ASX plaas dit gerieflik op dieselfde vlak as die vlagskipmodelle van mededingende kompakte sportnutsvoertuie.

Vir die 2014-modeljaar het Mitsubishi geen veranderinge aan die buitekant van die ASX aangebring nie, maar daar is wel veranderinge in die kajuit en die vlak van standaardtoerusting is nog hoër.

Hierbenewens kry die GLX-modelle ‘n trukamera en ‘n raakskerm-radio/CD-stelsel. Die GLS spog met hoëintensiteitsontlading-(HID)-kopligte (in die PWR-modelle), Aktiewe Stabiliteitsbeheer en nou ook Elektroniese Wieltolbeheer.

Die jongste ASX-modelle kom in ‘n wye verskeidenheid van kleure: Cool Silver-metaal, Quartz Brown-metaal, Red-metaal, Titanium Grey en White Pearl.
Soos ‘n mens van ‘n Mitsubishi-produk kan verwag, is die veiligheidsvlakke uitermate hoog en die ASX spog met ‘n vyfsteraanslag in die Euro NCAP-botstoetsprogram. Standaardveiligheidseienskappe sluit in sewe lugsakke, Mitsubishi se Dakar ontwikkelde Reinforced Impact Safety Evolution (RISE)-veiligheidsel, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding (ERV) en rembystand, en daar is ISOFIX-hegpunte vir kinderstoeltjies.

Tyens die bekendstellingsrit het verskeie eienskappe opgeval. Selfs die slegste grondpad kon nie ‘n enkele krieseltjie stof die kajuit laat binnedring nie; padhouvermoë is puik danksy die onafhanklike agterveerstelsel – iets wat gewoonlik net in duurder sportmotors aangetref word – en veral Wildtuinbesoekers sal dol wees oor hierdie voertuig met sy groot, plat instrumentepaneel was pasklaar gereed staan as bêreplek vir die verkykers, langlenskameras en voëlboeke.

Die Mitsubishi ASX word gedek deur ‘n waarborg van 3 jaar/100 000km en ‘n diensplan van 5 jaar/90 000km. Diensafstande is 15 000km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.