Dié BMW-motorfiets ʼn avontuurlike buksie

Die BMW G 310 GS (Foto: BMW)

Noem net die letters G en S langs mekaar, dan wil die manne die bosse invaar en langs ʼn kampvuur sit en stories uitruil. Die werklikheid is egter anders. Die onstuitbare GS vervul meestal die rol van ʼn pendelfiets, met sy ryer wat stilweg droom van avontuur buite die rook en geraas van die stad. Nou het BMW ʼn GS-plakkertjie op sy kleinste fietsie geplak, en die verwagtinge wat hierdie buksie betref, is enorm.

Toe BMW sy G 310 R-padfietsie bekend gestel het, het hy dit hier plaaslik in Johannesburg gedoen waar die fiets uitgeblink het in sy pendelrol. Vir die G 310 GS is ons George toe, waar ons asemrowende natuur kon ervaar. Die gebied heet nie verniet Eden onder die plaaslike mense nie.

Met die intrapslag is daar baie duidelik vir ons vertel dat die G 310 GS nie ʼn vrotpadfiets is nie. Dit is by uitstek ʼn pendelfiets met ʼn klein bietjie grondpadvermoë. Die fietsie het egter ʼn oormaat GS-houding. Met 19″-bande en langer vering is daar geen twyfel waar hierdie buksie se gene vandaan kom nie. Die fiets is ook lekker groot en die GS se saal kom op ʼn lywige 85 cm te staan. Daar is ook ʼn laer en ʼn hoër saal beskikbaar. Die handvatsels is breed en die BMW-gehalte merk jy in die knoppies en skakelaars. Dit bly ʼn premium-produk.

Die BMW G 310 GS (Foto: BMW)

Ons roete vir die dag was ʼn kombinasie van grond en teer. Hoewel daar beklemtoon is dat dit geen vrotpadfiets is nie, het BMW tog genoeg vertroue in sy produk gehad om 10 ywerige joernaliste los te laat op die Montagupas en die Paardepoortpad. Met die opdraand het die klein enjintjie maar swaar getrek, maar op die stofpad kon jy die kleine GS vrye teuels gee en ʼn groot stofwolk agter jou los. Vryheid en GS gaan mos saam. Terloops, die sluitwering kan afgesit word op die agterwiel om die stofskop nog meer pret maak.

Ná ʼn vinnige koffieverposing is ons terug oor die Outeniekwapas, en hier het die klein BMW my baie beïndruk. Met die krane oop in sesde rat was geen draai te veel vir die onderstebo voorvurke nie. ʼn Enkelskyf voor, met sluitwering natuurlik, sorg vir die stopslag. Die voorvurke duik noemenswaardig onder harde remming, maar in geen stadium het die breë glimlag op my bakkies omgesit in angs nie. Die lang Outeniekwadraaie was gans te vinnig verby. In George se verkeer was die GS net so tuis met sy regop sitposisie en ywerige enjintjie.

Die BMW G 310 GS (Foto: BMW)

Die digitale instrumentepaneel bevat ʼn magdom inligting en ná ʼn oggend se harde ry het die brandstofmeter skaars beweeg. Die enjintjie lewer 25 kW en BMW beweer dat ʼn brandstofverbruik van 3.33 l/100 km moontlik is. Soos met die 310 R is die enjin agterstevoor gemonteer. Die inlaat sit voor en die uitlaatpyp sit agter. Dit het BMW toegelaat om die enjin vorentoe in die raam te monteer en die swaaiarm langer te maak. Dit plaas gewig voor en maak die 310 GS baie stabiel.

Daar rus baie op die kleine BMW se skouers, want die GS-kenteken kom met ʼn verwagting van avonture ver van die teerpad af. Tyd sal leer of hierdie fiets die GS-benaming verdien. Wat my betref, het BMW ʼn baie goeie produk om ons avontuurlustige Suid-Afrikaners mee tevrede te stel. Teen R79 650 bied hy baie fiets vir jou geld en behoort dit die ideale platform te wees om jou agteroppie op haar eie fiets te kry!

Vir meer inligting, besoek BMW se produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marcel ·

Kan hy darem 120km/h ry en dit behou? Dis die grootste probleem gewoonlik met die tipe fietse.

Brian Cheyne ·

Marcel, hy sal 120 heeldag lank kan doen! Volgens BMW is hy goed vir net oor die 140km/h.

anton ·

Nee wat, die Kawasaki 300 klop hom met n paar dinge. Meer Kw, speek wielle, 2 silinder enjin in plaas van BMW se 1 silinder en die koop prys natuurlik ook.
Ek persoonlik dink dit is tyd dat daar weg beweeg word van 1 silinder motorfiets enjins.
En dink dat n 400 of 450cc enjin n beter idee sou wees.
Dis maar net my 2 sent opinie. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.