Die BMW X4: ’n Koepee-sportnuts?

BMW X4 (Foto: Verskaf)

Daar is die afgelope paar jaar ʼn reusemigrasie van kopers vanaf sedanmotors na sportnutsvoertuie. Dus sien ons baie meer nuwe sportnutsvoertuie as enige ander kategorie.

Toe kom die mediumgrootte sportnuts. Toe die klein sportnuts. Toe die mini-sportnuts. Wat gaan aan!?

Nou is die belaglikste van almal vir my … die koepee-sportnuts.

My kop sukkel. Kom ons koop ʼn lekker groot sportnutsvoertuig. Daar is baie plek, ʼn groot kattebak en goeie ruimte vir agterste passasiers. Nee wag. Kom ons koop die een met stomp boude, minder kopruimte agter en ʼn kleiner kattebak, want dit lyk mooi! Ai. In daai geval, hoekom koop ʼn mens nie ʼn mooi sportmotor as ruimte nie belangrik is nie?

BMW lewer toe ʼn X4 M40i by my kantoor af om te toets. ʼn Phytonic-blou een. My gunsteling-BMW-kleur. Ek is sommer uit die staanspoor oortuig ek gaan die X4 haat. So met my hardste boude aan stap ek na die kar toe ná werk. Klim in en sien die binneruim is voorwaar mooi gebou … en oorgetrek met die pragtigste karamelkleur leer. Ai. Ek koppel my foon met Apple CarPlay via Bluetooth – want dis hoe dit in ʼn BMW werk. Daar is ʼn draadlose herlaaimatjie, hoekom moet ʼn mens nog met ʼn draad karring? Ek hou baie daarvan, en BMW is die enigste vervaardiger wat dit só doen.

Só druk ek die Start-knoppie en BMW se asemrowende turboaangejaagde sessilinderenjin brul aan die lewe. Oukei – die enjin gee hoendervleis, maar die bakwerk is steeds simpel … dink ek by myself. Ek klim op die R21 huiswaarts en begrawe my voet in die mat. Enige sportnutsvoertuig, plat boude ofte nie, het amper geen besigheid om só vinnig te wees nie. BMW se pragtige enjin gepaard met dié 8-spoed-sport- outomatiese ratkas is fantasties.

BMW X4 (Foto: Verskaf)

Die ontwerp is getrou aan BMW se huidige ontwerpstyl. Party hou daarvan, ander nie. Die binneruim is vir my puik. Die materiale wat gebruik word, is uit die boonste rakke en die bougehalte asemrowend. Daar is elke luuksheid om jou reistog te vergemaklik, en dit vat ʼn kort tydjie, dan is ʼn mens goed gekonfyt met wat als waar is en hoe dit werk.

Die X4 het ʼn magdom veiligheidstelsels, soos die meeste BMW’s. Een ding van BMW se stelsels wat te aggressief is, wat ek altyd afskakel – is die Steering Intervention op die baanwaarskuwing. As ʼn mens te naby aan die wit strepe kom, dan begin hy aan die stuurwiel trek. Daar is stelsels wat beter werk en minder indringend is.

Soos die myle verbygaan, begin ek die BMW vergewe vir sy simpel bakwerk. Dis nie vir my mooi nie, maar daar is bitter baie mense wat regtig meer daarvan hou. Ek persoonlik sou ʼn X3 koop met “gewone” boude. Daar is egter een ding wat ek nie die BMW kan vergewe nie, en dis die uitermatig harde vering. Die vering, gepaard met enorme 20″-wiele, maak maalvleis van ʼn mens se niere. Toe dink ek, maar as jy jou eie X4 koop, hoef jy nie die M-Sport-pakket te neem nie, jy kan ʼn kleiner wiel spesifiseer. Die ander punt waaroor ʼn mens nugter moet wees: die krag kom nie verniet nie. As ʼn mens die X4 M40i ry soos hy lyk, is hy maar swaar op sous.

Die X4 M40i is maklik om op te som. Die binneruim is pragtig en die gehalte uit die boonste rakke. Elke truuk en speelding is daar om jou rit gemaklik te maak. Daar is meer spasie agter as wat ek gedink het, en die kattebak nie te versmaai nie. Die enjin en ratkas is fantasties, al is die rit en brandstofverbruik nie puik nie. Indien rit en brandstof jou passie is, is daar altyd ʼn X4 20d met wieletjies wat soos Smarties lyk. Die X4 M40i is só indrukwekkend, ek kan hom sy lelike boude vergewe.

Die reeks lyk só:

BMW X4 xDrive20i135 kW/290 Nm7.8 ℓ/100 km8.3 sek215 km/hR843 000
BMW X4 xDrive20d140 kW/400 Nm5.6 ℓ/100 km8 sek213 km/hR843 000
BMW X4 xDrive40d240 kW/680 Nm6.8 ℓ/100 km4.9 sek250 km/hR1 132 800
BMW X4 xDrive40i265 kW/500 Nm9.2 ℓ/100 km4.8 sek250 km/hR1 132 800

Die reeks word deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan gedek.

Lexus RX 350 EX221 kW/ 370 Nm9.6 ℓ/ 100 km8 sek200 km/h7 jaar/105 000 km- waarborg

7 jaar/105 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R962 000
Mercedes-AMG GLC43 Coupé 4Matic270 kW/ 520 Nm8.9 ℓ/ 100 km4.9 sek250 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 229 700

Die Mercedes en BMW is baie nabye mededingers. ʼn Mens kan amper nie tussen hulle kies nie. Totdat Audi hul SQ5 Sportback bekendstel, het hulle nie in dié segment ʼn mededinger nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lou ·

Die kar mag hoe mooi en goed wees maar as jy nie deel is van die regering se soustrein nie dan weet ek nie wie van die gewone publiek kan sulke duur voertuie koop nie.
In SA sukkel jy om inligting te kry oor waarde vermindering van verskillende voertuie.
Kan MM nie asb. ‘n artikel doen daaroor en so paar voorbeelde gee van wat die waarde vermindering bedrag op ‘n gemiddelde voertuig per maand is nie. Ek is seker die meeste mense neem dit glad nie in ag as hulle ‘n nuwe stel wiele aanskaf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.