Dié bromponie nie verniet ‘XCITING’ genoem

Die Kymco XCITIING S400i. Foto: Brian Cheyne

Ek hou nie van aspersies nie. Ek hou nie van die smaak nie. Ek hou nie van die reuk of die tekstuur nie. Maar tog grond ek my sterk opinie oor aspersies op ondervinding, en nie op wat ander mense daaroor sê nie.

Jy kan my egter in ’n wip vang met anysbeskuit, en dit is nou nie almal se gunsteling nie. Dit is die ding met bromponies. ’n Baie groot persentasie van mense wat baie uitgesproke oor hierdie klas van motorfiets is, het nog nooit een gery nie. Ek, daarenteen, geniet hulle vreeslik.

Kymco is onlangs weer hier in Suid-Afrika verwelkom na ’n hele paar jaar se afwesigheid. Hulle word ingevoer en versprei deur Yamaha wat as alleenverspreider aangewys is. Ek het by die World of Yamaha‑vertoonlokaal gaan inloer en hulle bemarkingsbestuurder, Gareth Davidson, het my die hele reeks gewys. Hy het sommer vir my sleutels in die hand gestop en ek is daar weg op die Kymco S400i. Die model staan ook as die XCITING bekend.

Die Kymco XCITIING S400i. Foto: Brian Cheyne

Die fiets is besonder sag op die oog. Dit het mooi lyne en die betrokke model was in ’n treffende blou afgewerk. Die fiets vertoon groter as wat hy eintlik is. Die skerm is verstelbaar en die fiets beskik oor dagryliggies. Wat my egter heel eerste opgeval het, was die dubbele remskywe voor. Miskien verwag Kymco groot dinge van hulle S400. Toegerus met ’n 399 cc‑enkelsilinder‑enjintjie en kompakte afmetings, was ek nuuskierig om te sien of hierdie klein fietsie sulke yslike stopkrag regverdig.

Die sitplek is heel gemaklik, maar my bene het beknop gevoel want die voetplate is betreklik hoog. Die handvatsels was gelukkig hoog en die tasbare kwaliteit waar jou hande te ruste kom, is goed.

Die Kymco XCITIING S400i. Foto: Brian Cheyne

Die instrumentepaneel is in drie dele ingedeel. Links is ’n analoog‑spoedmeter en regs ’n vloeikristal‑eenheid wat onder andere die toere en afstandmeters bevat. In die middel is daar ’n volkleur ronde skermpie wat jy kan aanpas soos jy wil. Jy beheer dit met ’n toepassing op jou foon. Presies net soos jy jou slim‑horlosie beheer. Jy kan ’n foto van jou kinders daar projekteer, of ’n horlosie, of selfs ’n pasmaak spoedmeter.

Jy kan dit ook gebruik as ’n navigasiestelsel. Dit laai die kaart van Suid-Afrika op jou foon, so jy gebruik nie selfoondata soos die geval met Google Maps nie. Die navigasieskerm het vier vertoonopsies wat minder of meer detail vertoon.

Die Kymco XCITIING S400i. Foto: Brian Cheyne

As jy ’n interkom in jou pletterpet het, kan jy instruksies deur die interkom ontvang. Jy kry een kaart gratis saam met die fiets en die kaarte van ander lande is teen ’n bietjie ekstra beskikbaar. Die beste van die Kymco‑toepassing is dat wanneer jy op ’n ander Kymco klim, jy net die nuwe fiets aan jou foon koppel om al jou verstellings oor te dra.

Sover dit pakplek aangaan, is daar natuurlik plek onder die saal, en twee klein paneelkissies in die voorkant van die fiets. Ek was aanvanklik teleurgesteld met die volume van die pakplek onder die saal. Toe ek egter goed daarin begin pak, het ek besef dit is eintlik heel skaflik. Die saal self is gemaklik en jou agteroppie het twee bonkige vashouplekke.

Die Kymco XCITIING S400i. Foto: Brian Cheyne

Met die wegtrek was ek baie verbaas oor die entoesiasme van die XCITING. Die fietsie trek baie vinnig weg en die fiets sal jou sonder moeite in ’n spoedkaartjie in versnel. Op die snelweg hou hy moeitevry by en voel baie stabiel. Die pendel van Johannesburg tot in Pretoria was ’n moeitevrye episode, en daardie dubbele skywe voor werk baie goed as die motoris regs van jou skielik besluit hy moet die afrit links van jou vat. Omdat die fiets betreklik smal is, kon ek met vertroue deur die verkeer glip.

Met BMW se 400X wat binnekort vrygestel word, het die Kymco ’n klein voordeel omdat hy wel 400 cc is en nie 350 cc soos die BMW nie. Prysgewys is hy ook heelwat goedkoper as die Duitser. As ’n pendelfiets is hy kragtig genoeg vir die taak. So voor jy weer ’n opinie wil lug oor ’n bromponie, gaan ry eers een. Dalk is dit jou aspersie. Maar dalk, net dalk, is dit jou anysbeskuit!

Kyk hier na die produkblad.

Die feite:

Enjin399 cc‑enkelsilinder
Gewig (Droog)189 kg
Kraglewering26.5 kW @ 7 500 rpm
Wringkrag37.7 Nm @ 6 000 rpm
Tenkkapasiteit12,5 ℓ
Saalhoogte810 mm
PrysR99 995

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niek ·

Baie oulike vervoermiddel.
Na my mening is dit nie meer ‘n bromponie nie.
Dit is effe duur.
Sal baie lekker wees vir kort ritte.

Hennie ·

Brain Cheyne ry seker eet eet, eerste ding waaraan hy dink as die bromponie in sy gedagtes kom. Meeste belangstellendes kyk eerste na die produk.

marco polo ·

Brandstof verbruik?
Klein scootertjies is oulik en lekker om in die verkeer te gebruik, maar as mens begin praat van n 400cc wat R100k kos en 189kg droog weeg, kyk ek eerder na n motorfiets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.