Die Ducati Scrambler-familie groei

Die Ducati Scrambler-reeks. Foto: Verskaf

In die 1990’s het die Ducati Monster die maatskappy van ondergang gered. Hierdie was ʼn bekostigbare Ducati en die eksotiese aard van die Ducati-naam het mense getrek.

Sedertdien het die Monster groot geword, en dit is nou amper weer buite die bereik van die gewone man op straat. Vier jaar terug het Ducati egter weer ʼn bekostigbare fiets op die mark gebring: die Ducati Scrambler. Dit was ʼn deurbraakmodel vir Ducati.

Ek was so ʼn week of wat terug in Bologna by die Ducati-fabriek en twee van die produksielyne was toe nog agter die skerms. Agter die skerms is die 2019-modelle voorberei vir die twee groot skoue: Intermot en Eicma.

Ducati het nou die skerms laat sak vir Intermot, wat tans in Keulen, Duitsland, aan die gang is, en met drie nuwe Scrambler-modelle vorendag gekom. Hulle is: Full Throttle, Café Racer en Desert Sled. Die laaste twee benamings is al gebruik, maar saam met die Icon het hulle almal ʼn vars nuwe baadjie gekry.

Die Full Throttle is afgewerk in swart en geel met ʼn wit aksentstreep. Daar is ʼn enkel saal en die kantpanele kort net ʼn nommer op, dan is jy reg vir resies jaag. Die dubbele uitlaatpyp eindig stomp en dra by tot die uniekheid van die fiets.

Die Ducati Scrambler Café Racer. Foto: Verskaf

Die Café Racer se nuwe kleurskema is ʼn huldeblyk aan die Ducati 125GP Desmo – 17”-speekwiele en aluminium kantspieëls gee die fiets ʼn 1960’s-gevoel. Daar is verdere huldeblyke aan Bruno Spiaggiari se rennommer 54 op die fiets. Spiaggiari het in die 1958 die heel eerste wedren waaraan hy deelgeneem het gewen, en ironies genoeg nie weer een wedren daarna nie.

Die Desert Sled het ʼn windmakerige rooi raam, ʼn nuwe saal en speekwiele. Hy beskik oor ʼn ryprogram vir die rowwer paaie, ʼn pensplaat en hoë modderskerms. Met sluitbeheer wat kan afskakel is hierdie fiets baie ernstig oor sy vrotpad-vermoë.

Al die modelle beskik nou oor LED-dagryligte en ekstra knoppies op die handvatsels om dit makliker te maak om deur die opsies op die instrumentepaneel te gaan. Die sluitbeheer neem nou ook die leunhoek van die fiets in ag.

Die Scrambler is en bly groot pret om te ry, en met die huidige verbeteringe en nuwe modelle behoort daar ʼn Scrambler te wees vir elke persoonlikheid. Nou wonder ek net wat het Ducati weggesteek agter die ander produksielyn se skerms!

Hou Maroela Media dop vir nog nuus oor die Intermot-skou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marco polo ·

Kyk gerus na die Benelli ook. Nog n Italiaanse motorfietsmaatskappy wat van ondergang gered is, weliswaar deur Chinese. Ek het onlangs een aangeskaf, baie goed geprys en n pragtige fiets, wat veel meer waarde bied as die Japannese goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.