Die Duitser met die Stetson

Die BMW K 1600 Grand America. Foto: Brian Cheyne

Die Duitsers wil die Amerikaners nou in hulle eie agterplaas aanvat. Hulle het verlede jaar die K 1600 B uitgebring as direkte kompetisie vir die groot Harley-Davidson-toerfietse.

Hulle het selfs die fiets die Bagger genoem. “Bagger” is ’n Amerikaanse term vir ’n lae toerfiets met kantsakke. Die fietse beskik gewoonlik ook net oor ’n enkelsitplek. As daar wel ’n plek is vir ’n passasier, is dit gewoonlik ’n baie klein stukkie spons wat nie baie ondersteuning bied nie.

Nou het BMW ’n luukser weergawe van die Bagger uitgebring, die Grand America, met ruim plek vir twee en ’n ekstra bagasietas agter op.

Die toetsmodel was in “Austin Yellow” en swart afgewerk. Die kleur kom van BMW se M-verrigting motors af en vertoon ongelooflik mooi. Die Grand America deel die meeste van sy komponente met die K 1600 GT en GTL.

Die BMW K 1600 Grand America. Foto: Brian Cheyne

Ek het al die GTL gery en het geweet: Hoewel die fiets baie groot vertoon, voel dit asof die fiets krimp as jy eers gaan sit. Die verhouding tussen sitvlak, voete en hande is baie ontspanne. Daar is selfs voorste voetplate, hoewel die kontroles steeds op die tradisionele plek sit. In hierdie ontspanne posisie kan jy baie myle op die fiets deurbring sonder probleme.

Die Grand America se handvatsels reik ver terug na die ryer toe en die handkontroles is tipies BMW. Die kanttasse het steeds ’n vloeiende ontwerp van die Bagger met geïntegreerde remligte en flikkers. Waar die GTL se uitlaatpyp effe opwaarts wys, is die Grand America s’n reguit na agter en yslik groot.

Ek verwonder my altyd oor die gladheid en krag van BMW se 1 649 cc-sessilinderenjin. Die koppelaar is lig, en as hierdie fiets eers beweeg, dan vergeet jy soms hy weeg 364 kg. Die fiets is dinamies genoeg om hom soos ’n sportfiets te gedra en jy wil hom ook so ry. BMW se snelskakeling help ook baie en ratskakeling is seepglad.

Die BMW K 1600 Grand America. Foto: Brian Cheyne

Om die toere rustig te laat klim tot so 3 000 rpm en dan ratte te verwissel is een van die fiets se klein plesiertjies. As jy die versneller meer ywerig draai, kom die 160 pk en 175 Nm wringkrag duidelik na vore en die klank wat hy dan maak, is iets om te beleef. Om spoed te verminder en dan ’n rat of wat af te skakel maak net sulke mooi klanke. Die fiets is seker bedoel om ’n statige toerfiets te wees, maar die span wat die verrigting hanteer het, het duidelik nie die nota gekry nie.

Maar nou kom ons by ’n paar kopkrappers. Hierdie fiets word beperk tot 100 mph, oftewel 162 km/h. BMW is van mening dat die lae agterstewe en die unieke vorm van die agterste tas aërodinamika beïnvloed. Die fiets is bedoel om vol gelaai te wees met twee op, so hulle het besluit dat 160 km/h vinnig genoeg is. Dit het my laat oplet na hoe onstabiel die fiets eintlik is in ’n dwarswind. Dit is nie gevaarlik nie, maar opmerklik. Die tasse is ook meer onprakties as dié op die GTL weens die vorm. Hulle kan ook nie afhaal nie.

Die BMW K 1600 Grand America. Foto: Brian Cheyne

Ek het baie gewonder oor waar die Grand America nou inpas. Soos die naam aandui, is hy ontwerp om die Amerikaanse mark aan te vat. Daar moet hy meeding met onder meer Harley-Davidson en Honda. Die probleem is dat sy grootste mededinger uit eie geledere kom, naamlik die BMW K1600 GTL. Vir ongeveer R80 000 minder kan jy eintlik dieselfde fiets koop met beter verrigting en meer praktiese bagasie.

Of jy nou die Grand America of ’n GTL koop, dit bly fenomenale toerfietse. Daaroor twyfel ek vir geen oomblik nie. Die Grand America se lyne lyk vir my beter, maar ek voel net, jy koop nie R80 000 meer fiets as die GTL nie. Selfs al verf hulle hom geel.

Klik hier vir die produkblad.

Hier is ’n vergelyking met die GTL:

 K 1600 GTLK 1600 B Grand America
Enjin1 649 cc-inlyn-sessilinder
Gewig (Nat)350 kg364 kg
Kraglewering118 kW (160 pk) teen 7 750 rpm
Wringkrag175 Nm teen 5 250 rpm
Saalhoogte750 mm
Tenkkapasiteit26,5 L
Maksimum spoedMeer as 200 km/h162 km/h
PrysVanaf R311 900Vanaf R393 500

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley lady Theresa ·

Nee dankie, ek bly by my Harley. Geen motorfiets het die karakter of aantrekkingskrag soos Harley nie. Die couch, road king en street glide Harleys bied dieselfde met paniers en al. En geen BMW kry die aandag soos Harley nie. Ek self het n 1200 Sportster…Wat n lekker fiets. Viva Harley

Siener ·

‘n Draadkar en ‘n sportsmotor het altwee vier wiele. ‘n Draadkar het “karakter” maar ‘n mooi sportsmotor het elegansie. Hoe kan jy die twee probeer vergelyk?
Die BMW het styl, rygerief om nie eers van veiligheids funksies te praat nie. Ry 200km met elkeen dan praat jy weer. Die BMW sal die gemiddelde man op straat se oog eerste vang. Maar nou ja die Harleys moet ook iemand gelukkig hou. Geniet jou fiets.

Jepetto ·

Dis goed om te sien daar is iets anders op die mark die duitsers bou nog altyd goeie ry goed .As mans in SA hulle middel jaar krissis slaan dan koop jy a harley groei vir jou a baard of poney tale dans jy in . hoop die fiets verander die imige

Gys ·

Ek dink die Harley, Honda en Grand America is almal goeie fietse. Maar ongelukkig kan hulle nie grondpad ry nie. Met die wat 75% van ons paaie grondpad is, gaan jy baie mooi plekke mis. Om nie van Namibië te praat nie. Ek dink n avontuurfiets is meer prakties, as jy net een fiets sou hê.
Maar enige fiets is beter as geen fiets. So ongeag wat jy het, ry net daai ding!

marco polo ·

Net so, Gys. Ek stem 100% saam met jou. Harleys en goed soos die BMW is eintlik vir mense wat gesien wil wees. Ouens met avontuurfietse ry waar niemand jou kan sien nie.

Gys ·

Marco, ek dink jy verstaan my dalk verkeerd. Ek is ten gunste van alle tipe motorfietse. Avontuurfiets, teerpad fiets, scrambler, super bike, ens. Selfs n scooter dra my goedkeuring weg. Die ideaal is natuurlik om een van elke tipe te hê. Maar as geld dit nie toelaat nie, sou ek n avontuurfiets aanbeveel.

marco polo ·

Gys, nee ek is steeds met jou. Ek sal ook graag ‘n paar verskillende motorfietse wil he, veral ‘n vinnige cafe racer, en dalk ook ‘n scootertjie vir gou winkel toe ry, maar helaas, as mens net een kan he, is dit ‘n avontuurfiets. Ek het al saam met die Harley manne gekuier en waardeer hulle gees en getrouheid aan die naam, maar dis nie vir my nie. Die belangrikste is dat ons almal dit kan geniet om te ry. Waar ek woon word daar erg teen motorfietsryers gediskrimineer en baie stadsgebiede is verbode vir ons, maar as jy op die oop pad ander ryers ontmoet, is ons almal broers, selfs oor kultuurgrense.

ChrisE ·

Dit lyk beslis na ‘n motorfiets wat ek nie sal koop nie. Die eenvoudige rede is dit lyk te veel Amerikaans. Ek hou van voertuie wat stil loop. Ek haat ‘n geraas en lawaai. Hoe stiller ‘n voertuig hoe meer hou ek daarvan. Ek hoef niemand te laat weet ek ry in die straat af nie. Die BMW is my eerste keuse vir ‘n motorfiets. Al gee iemand my ‘n Amerikaanse motorfiets sal ek dit beslis van die hand wys.

marco polo ·

Gys, nee ek is steeds met jou. Ek sal ook graag ‘n paar verskillende motorfietse wil he, veral ‘n vinnige cafe racer, en dalk ook ‘n scootertjie vir gou winkel toe ry, maar helaas, as mens net een kan he, is dit ‘n avontuurfiets. Ek het al saam met die Harley manne gekuier en waardeer hulle gees en getrouheid aan die naam, maar dis nie vir my nie. Die belangrikste is dat ons almal dit kan geniet om te ry. Waar ek woon word daar erg teen motorfietsryers gediskrimineer en baie stadsgebiede is verbode vir ons, maar as jy op die oop pad ander ryers ontmoet, is ons almal broers, selfs oor kultuurgrense.

anton ·

Ai, mens kan tog nooit n Harley met n BMW vergelyk nie!!!
Die een is n ”vibrating petrol into noise converter” en die ander n elegante, kwaliteits, pragstuk ens. voertuig. Ook maar goed dat smaak verskil.
Ek stem saam met jou Brian, ek dink ook nie die R80 000 meer vir die Grand America maak lekker sin nie!
Dit is eintelik bietjie belaglik dink ek.
Jepetto……..jy het my lekker laat lag en ek dink jy het n punt beet oor sommige van die middeljarige mans vandag. Gelukkig nie almal darm nie. ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.