Die Gold Wing-fiets nou kleiner, dog ewe luuks

Die Honda-GL1800 Gold Wing (Foto: Honda)

Honda se Gold Wing het in 1975 begin as ʼn 1000 cc-kaalfiets. Soos ons almal wat sukkel met ʼn rolletjie hier en daar soos die jare aanskuif, het die Gold Wing al groter en swaarder geword. Die mense verantwoordelik vir die Gold Wing-ontwikkeling het ook besef dat hierdie fiets nie met elke opkikkering net nog gewig kan aansit nie. Op die pas afgelope South African Bike Festival het Honda sy nuwe, ligter Gold Wing aan die pers bekendgestel.

Die president van Honda in Suid-Afrika, Toshiaki Konaka, het ons in Afrikaans verwelkom en toe die fiets onthul. Met die eerste oogopslag kon jy sien die fiets is merkbaar kleiner. Honda het besluit om nie op die bestaande fiets voort te bou nie, maar om eerder met ʼn skoon vel papier te begin.

Volgens Yutaka Nakanishi, die projekleier op die 2018 Gold Wing, wou hulle die luuksheid van die bestaande Gold Wing behou, maar ʼn opwindender en meer afgeronde motorfiets bied. Natuurlik moes die fiets beskik oor al die moderne tegnologie wat ryers verwag van Honda se vlagskipfiets. Die resultaat is ʼn fiets wat, afhangend van die model, tot 48 kg minder weeg as sy voorganger.

Toshiaki Konaka, president van Honda SA (Foto: Brian Cheyne)

Die sessilinder enjin het nie sy kraglewering of wringkrag verloor nie, maar word nou deur ʼn elektroniese versneller beheer. Dit beteken dat ry-programme nou deel is van die pakket, en dat tolbeheer en sluitwering verskillende vlakke van bystand bied. Daar is nou ook “Hill Start Assist” wat help om die Wing teen ʼn opdraande weg te trek. Honda se uiters doeltreffende DCT-ratkas is ook nou beskikbaar op die Wing.

Met die herontwerpte enjin en ratkas in die nuwe Wing is meer kompak en die ryer sit nader aan die windskerm. Die yslike windskerm van die vorige model is nou vervang met ʼn kleiner, meer vloeiende weergawe. Die skerm is elektries verstelbaar, en help verder om brandstof verbruik te verbeter.

Die sitplek is nou selfs meer gemaklik, en dit, tesame met die aërodinamiese windskerm, sal verseker dat jy heeldag lank in gemak kan ry, ongeag jou bestemming.

Die bagasieruimtes is herontwerp nadat Honda hulle Gold Wing-eienaars uitgevra het oor hulle ritgewoontes. Omdat meeste Gold Wing-eienaars slegs twee of drie dae toer, het Honda besluit om die kanttasse kleiner te maak. Die agterste tas hou steeds twee pletterpette, en die totale beskikbare volume is steeds ʼn skaflike 110 liter.

Die Honda-GL1800 Gold Wing (Foto: Honda)

Die instrumentasie beskik nou oor ʼn groot 7” TFT-skerm, en meeste van die nuwe Wing se funksies kan daarvandaan beheer word. Vir langpadgerief beskik die Wing nou oor Apple Car Play en Bluetooth-verbinding vir jou slimfoon wat van die skerm beheer word.

Die Gold Wing het ʼn baie beperkte teikenmark, maar dit bly saam met die BMW K 1600 GTL seker die toppunt van luuksheid en toergerief. Ons land met sy uitgestrekte vlaktes en lang reguit paaie is die ideale terrein vir die nuwe Honda Gold Wing GL1800.

Hopelik kan ek later vanjaar hierdie fiets se bene gaan rek en besluit of ek dalk my kar moet verkoop. Die twee modelle wat ons plaaslik gaan kry is die GL1800 Tour teen R367 000, en die DCT weergawe wat jou beursie gaan rek tot op R392 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

anton ·

Mooi, goed en wel en alles maar dit is steeds net n motorfiets dus gaan jy nog natreën, koud kry in die winter en net 1 passasier kan saam neem ens. en dit vir daai GROOT klomp geld!!!
Nee vir daai geld koop ek liewers n oulike motor.
Persoonlik dink ek is geen motorfiets daai klomp geld werd nie.
Om die waarheid te sê, dink ek is motorfietse oor die algemeen vandag heeltemal ”overpriced”

Gysbert Stander ·

Anton

Four wheels move the body, two wheels move the soul.

Die ideale getal motorfietse om te hê, is n+1, waar n die getal is wat jy tans het.

Ek het tans 4.

There will be two dates on your tombstone. Make the dash between them count.

:):):)

Veritas ·

Gysbert, as jy nooit die ervaring van ‘n motorfietstoer gehad het nie, sal dit na ‘n dom kopie klink. Ek was in die gelukkige posisie om ‘n Harley Davidson 10/12 te erf en, ten spyte van die ongebalanseerde massaverspreiding en handbeheerde ratverwisseling, was dit ‘n ervaring om jaarliks deur die Oos Transvaal te gaan toer. Daar is geen gevoel wat hiermee kan vergelyk nie.

Pietsepan ·

Ek stem heelhartig met jou saam Anton. Nog steeds te groot en vee veels te duur net soos die ses silinder BMWs ook.

anton ·

@Gysbert…….maak geen fout nie. Ek stem saam met jou.
Dit is wonderlik om motorfiets te mag/kan ry, ek self ry al vir meer as 35 jaar en het ook meer as 1 fiets, danksy genade.
Maar my punt is net dat die Honda, hopeloos te duur is en so ook motorfietse oor die algemeen.
Iewers maak iemand baie geld uit motorfietse en motors natuurlik ook.
Lekker en veilig ry. :-)

Jacques ·

Dis dalk n bedekte seën dat motorfietse so duur is. Dink net hoe sleg gaan dit wees as jy n lekker verlate stuk grondpad in die Karoo of Namibië met dosyne ander motorfietse moet deel.

Stephan de S ·

Die idee-wisseling tussen die manne was nou baie lekker. Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.