Die ikoniese Suzuki Katana herleef

Die nuwe Suzuki Katana. Foto: Verskaf

Toe ek op skool was, het Kawasaki sy fietse Ninjas begin noem. Die kombinasie van die letters GPZ en Ninja het jou sommer laat dink dat hierdie fietse vinnig was. En hulle was. En toe troef Suzuki almal, en bring die Suzuki Katana uit in 1981.

Dis nou naas die Hayabusa, seker een van Suzuki se bekendste fietse. Die Katana was grys, met Suzuki in groot rooiblok-letters op die tenk aangebring. Die instrumentepaneel op die Katana was die eenvoud vanself.

Die toere en spoedmeter het oorvleuel en die spoednaald het gegaan tot by die magiese 240 km/h. As skoolkind het ek gereeld na die Katana gaan kyk by ons plaaslike Suzuki-handelaar en gedroom oor hoe dit moet wees om hierdie fiets te kan ry.

Die nuwe Suzuki Katana. Foto: Verskaf

Vanjaar by Intermot in Keulen, Duitsland, het Suzuki weer die tonge los met die bekendstelling van ʼn fiets wat die legende sal voortsit: nie net in naam nie maar ook in voorkoms. Onmiskenbaar ʼn Katana, volg die lyne van die nuwe fiets sy voorganger getrou na.

Die nuweling is selfs afgewerk in die oorspronklike kleur. Die rooi letters op die tenk sal mense wat die oorspronklike Katana kan onthou sommer nostalgies laat raak.

Die nuwe Suzuki Katana. Foto: Verskaf

Die agterkant van die Katana is stylvol afgewerk, en selfs hier herinner die sitplek aan die oorspronklike. Genadiglik het Suzuki ʼn uiters moderne fiets onder al hierdie nostalgie weggesteek. Die nuwe Katana is gebaseer op die GSX-S1000 wat beteken die raam is liggewig en die vering verstelbaar.

Die enjin is ʼn 999 cc-eenheid en lewer ʼn allemintige 150 perdekrag teen 10 000 omwentelinge. Al die nodige elektroniese hulpmiddels is beskikbaar, soos onder meer ryprogramme, tolbeheer en leunhoek- sensitiewe sluitbeheer.

Ons hoop om hierdie nuwe fiets hier in Suid-Afrika te hê, êrens in die nuwe jaar. Ek self kan nie wag nie, want nou sal ek my droom om ʼn Katana te ry waar kan maak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.