Dié Kawasaki ʼn trans-kontinentale-sportfiets

Die Kawasaki 1400 GTR (Foto: Brian Cheyne)

In 1999 was daar vrese of ons rekenaars die jaar 2000 sal oorleef. Dit was ook die jaar waarin die rolprent The Matrix uitgereik is en Pete Sampras het Wimbledon gewen. In daardie jaar het motorfietsvervaardigers ook onder mekaar ooreengekom om die top-snelheid van motorfietse te beperk tot 300 km/h. Die Suzuki Hayabusa het alles begin. Kawasaki en Suzuki het swaarde gekruis en al hoe groter enjins in hulle fietse gemonteer om die vinnigste produksiefiets in die mark te kan stoot. Dit het egter ʼn punt bereik waar hulle bekommerd geraak het dat hul fietse nie meer in Europa aanvaar sou word nie as die spoed en krag net bly klim.

Ná hierdie onderlinge ooreenkoms oor top-spoed het Kawasaki die kwart-myl-kroon nagejaag. In 2008 het Kawasaki die ZX-14R aan die wêreld bekendgestel. Die ZX-14R word vandag nog beskou as die vinnigste produksiefiets oor ʼn kwart-myl. Dieselfde enjin en raam uit die ZX-14 is omvorm in ʼn sport-toerfiets, en hierdie fiets het as die 1400 GTR bekendgestaan.

Die Kawasaki 1400 GTR (Foto: Brian Cheyne)

Die splinternuwe GTR verskil nie veel van die 2008-model nie. Hier en daar het ʼn stukkie elektronika bygekom en die kantpanele is herontwerp om die hitte van die enjin beter weg te lei van die ryer af. Die skerm het ook gegroei en klein veranderinge is aangebring om die lugvloei te verbeter.

Tien jaar ná die Kawasaki 1400 GTR se bekendstelling het koopgedrag van motorfietsryers egter drasties verander, en die aanvraag is baie meer na avontuurfietse. Die mark vir groot kapasiteit toerfietse het merkbaar gekrimp, en tog is daar mense, soos ek, wat graag so ʼn fiets sal wil aanskaf om die langpad aan te durf. Die GTR se betroubare enjin-en-asaandrywing sal maak dat jy net kan fokus op jou rit. Oor die fiets hoef jy nie ʼn oomblik te twyfel nie.

Die GTR vertoon groot, maar ek het nou al geleer dat alle motorfietse tog maar ʼn beperkte driehoek moet handhaaf tussen voetrus, saal en handvatsel. Die sitposisie is sportief en jy lê effe vorentoe. Voor jou wys die Kawasaki sy ouderdom. Die spoedmeter en toereteller is rond met chroom aksente. In die middel, ʼn klein vloeikristal eenheid, wat ʼn verrassende hoeveelheid inligting bevat.

Die Kawasaki 1400 GTR (Foto: Brian Cheyne)

Die windskerm verstel elektries, en doen besonder goed om jou te beskerm teen die elemente. So goed dat ek gereeld die skerm heeltemal laat sak het, net sodat ek ʼn bietjie wind op myself kan kry. Die GTR kom standaard met twee kantsakke wat groot genoeg is om ʼn volgrootte pletterpet in te sluk. Die saal bied genoeg ondersteuning vir selfs die dunste agterstewes.

Dinamies is die GTR ongelooflik stabiel. Die GTR weeg 305 kg sonder die ryer en die kantsakke, so hy hou sy gekose koers met gemak. In draaie moet jy ʼn bietjie met hom stoei, maar jy gaan nie hierdie fiets maklik ontsenu nie. Die asaandrywing is nie so heel modern nie, en op lae toere is die ryervaring maar rukkerig. Sy sesde rat moet seker die langste rat wees wat ek nog ooit ervaar het. Teen 120 km/h luier die 1352 cc enjin teen 3500 rpm. Op 200 km/h is die Kawasaki nog nie eers halfpad deur die beskikbare toere nie.

Die Kawasaki 1400 GTR (Foto: Brian Cheyne)

Die strewe om stilweg die vinnigste fiets te hê is egter nog nie oor nie, en Kawasaki se H2 R het die leisels by die ZX-14 oorgeneem toe hierdie fiets die 400 km/h-merk verbygesteek het. Later hierdie jaar stel Kawasaki die H2 SX bekend wat weer die toerweergawe gaan word, en dan sal die GTR kan aftree.

Die GTR is glad nie ʼn slegte fiets nie, maar hy is net nie meer opgewase teen die kompetisie nie. Ons sal moet sien of die H2 SX die GTR sy skoene kan vol staan.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin1352 cc in-lyn vier
Gewig (Nat)305 kg
Maksimum kraglewering114 kw/155 pk teen 8800 rpm
Saalhoogte815 mm
Tenk kapasiteit22 ℓ
PrysR 229 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Vandag moet ek bieg…………..op my ouderdom(meer as n half eeu) het ek wraggies weer iets bygeleer.
n ”Pletter Pet” die regte Afrikaanse naam vir n val helm. :-)
Nooit ooit te oud om iets by te leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.