Die Kawasaki Z900 – verbeterde middelgewig

Die Kawasaki Z900. (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki Z-reeks se kaalfietse het onlangs ’n geringe opknapping ondergaan en die reeks dek nou ’n wye spektrum van enjingroottes. Om die Z900 as ’n middelgewig te klassifiseer is amper ongehoord, maar hy sit in die middel van die Z400, Z650, Z1000 en Z H2. In 2017 was daar sprake dat die Z1000 dalk sal wegval omdat die Z900 al amper ’n 1 000 is, maar die Z1000 bly steeds beskikbaar.

Die Z900 het ’n 948 cc-enjin wat ’n stewige 125 perdekrag lewer. Ek het die vorige Z900 in 2017 getoets en ek het met groot lof oor hom gepraat. Ek het egter die fout gemaak om die nuwe een kort na die Z H2 te gaan optel. Na die H2 voel enige fiets redelik pap, selfs iets so lewendig soos die Z900.

Die Kawasaki Z900. (Foto: Brian Cheyne)

Die stilering is in ooreenstemming met Kawasaki se ander kaalfietse. Die aggressiewe voorlig, die regop handvatsels en die boggel in die tenk. Alles dra by tot die straatvegter houding van die Z. Al die ligte op die fiets is nou LED-eenhede en Kawasaki het steeds die remlig ontwerp dat dit lyk soos ’n Z. Verder is die raam stywer gemaak waar jou voete is en dit het Kawasaki genoop om ook die voorste vurke te verstel om by die nuwe, stywer raam te pas.

Die instrumentepaneel is, net soos met die H2, nou ’n volkleur TFT-skerm. Dit is werklik ’n reusesprong vorentoe. Die vorige model het nie ’n aantreklike eenheid gehad nie.

Die Kawasaki Z900. (Foto: Brian Cheyne)

Die nuwe skerm lyk nie net goed nie, maar in terme van funksie is dit baie gevorderd. Die eenheid kan koppel met jou slimfoon en deur Kawasaki se rideology-toepassing kan jy alles van jou rit opneem. Die skerm is baie duidelik en word ewe maklik beheer deur ’n skakelaar op die handvatsel.

Die ryposisie is regop en die saal bied genoeg ondersteuning. Dit bied ook genoeg ruimte om rond te beweeg op die fiets as jy begin haastig raak. Van waar jy sit, kan jy glad nie die voorlig of voorwiel sien nie en die voorvurke is baie regop. Dit beteken dat die Z900 baie gewillig is om van rigting te verander. Die geringste insette laat die fiets onmiddellik reageer. Of jy nou ploeter in stadsverkeer of die oop pad aandurf, die Z900 is oral ewe tuis.

Die Kawasaki Z900. (Foto: Brian Cheyne)

Iets wat die Z900 regkry wat ek nie sommer op ander fietse oplet nie, is hoe die luginlaat se klank die uitlaatpyp oorheers onder harde versnelling. Dit is lieflik om na te luister. Die enjin is natuurlik seepglad en die klank van so viersilinder op volle vaart is reeds genoeg om my te laat hoendervleis kry.

Die Kawasaki Z900 kompeteer met fietse soos die KTM Duke 890, Triumph se Street Triple en die Ducati Monster. Elke vervaardiger het egter ’n ander enjinuitleg en persoonlike voorkeur sal seker die deurslag gee as dit by die koopslag kom. Die Z900 bied baie motorfiets vir die geld en ek sal bitter moeilik kan kies tussen hierdie fietse. Jy sal maar self moet oordeel hoe elkeen met jou praat.

Klik hier vir die produkblad.

Die feite:

Enjinkapasiteit948 cc
Gewig (Nat)212 kg
Kraglewering92,2 kW @ 9 500 r.p.m.
Wringkrag98,6 Nm @ 7 700 r.p.m.
Tenkkapasiteit17 ℓ
Saalhoogte820 mm
PrysR155 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.