Dié KTM ewe skerp weg van die baan

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Die woord vlymskerp moet tog beteken dat ʼn vlym ʼn baie skerp implement is. Ek het al dokters gehoor wat na ʼn skalpel verwys as ʼn vlym, maar ek kon nêrens in ʼn woordeboek die woord op sy eie kry nie. Hoe dit ook al sy, ʼn skalpel moet vlymskerp wees om effektief te wees.

KTM se 790 Duke dra die benaming van Die Skalpel, en ek was by die fiets se bekendstelling op Kyalami. Nou dit is een ding om die 790 Duke om Kyalami te jaag, maar hoe sal hy vaar in ʼn alledaagse pendelrol? Ek het toe by KTM gaan aanklop en gevra of ek hierdie oranje middelgewig in stadsverkeer ook kon ervaar.

Kaalfietse is in Suid-Afrika dalk nie so gewild soos in Europa nie. Daar is die afstande korter en digter bevolk as hier. Die KTM 790 se ergonomie en stilering pas by die Europese omgewing. Hier in Suid-Afrika is die huidige tendens na fietse onder 500 cc. Jy hoef net na die lys klein fietsies wat ek die afgelope tyd getoets het om daardie stelling te staaf, so die KTM sit amper alleen in sy kategorie.

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Die Duke is gemaak om jou alledaagse vervoer te wees in die metropole van Europa maar rats genoeg om naweke om ʼn baan te kan ry, en hier is dalk waar die KTM se moeilikheid begin. Die idee was om ʼn kompakte, bekostigbare fiets te maak, maar die kostebesparings en onnodige duur standaard toerusting maak nie ekonomies sin nie.

Die koppelaar is nie hidroulies nie, die skokbrekers kan nie verstel nie en die plastiek om die tenk is pieperig, maar dan is daar snelskakeling en lanseer-beheer as deel van die pakket. Die snelskakeling werk uitstekend as jy die Duke hard ry, maar hoekom hierdie duur bykomstigheid as die doel van die fiets is om in daaglikse gebruik te wees? In stadige stadsverkeer ry jy hom konvensioneel want die snelskakeling is nukkerig op lae toere. Die saal is ook te hard as jy lang pad wil vat.

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Sover klink dinge nie goed vir die Duke nie, maar ek sal wraggies môre vir my so ʼn fiets koop. In die lys van die beste motorfietse wat ek nog ooit gery het, is die KTM 790 Duke baie na aan bo, indien nie heel bo nie. As ʼn pakket, werk hy net. Ek het twee van my vriende die Duke laat ry en albei se reaksie was van verwondering. Hierdie fiets is lig, rats, en vlymskerp deur die verkeer. Ek was nou al om Red Star en Kyalami met die Duke, en as ʼn baanfiets sal hy seker menige ander baanryers wegry, so KTM het dit reggekry om ʼn baanfiets te maak wat jy werk toe kan ry ook.

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Die nuwe 799 cc tweesilinderenjin is ʼn juweel met ʼn uitstekende klankbaan, en ek daag enige motorfietryer uit om die Duke vir langer as twee blokke verantwoordelik te ry. Hierdie fiets maak weer van jou daardie nukkerige tiener wat uitspattig wil ry. Jy kan nie anders as om te borrel van opgewondenheid nie.

My tweede kennismaking met die Duke het net weer bevestig dat hierdie ʼn parmantige fiets is wat jy maar sonder ontsag kan pakslae gee, en dat absolute krag nie alles is nie. Die Duke het my sonder uitsondering laat grynslag as ek afklim. Die KTM 790 Duke gaan moeilik geklop word. Sy enigste teenstander wat dalk die 790 vir my gaan onttroon is uit die KTM stal self. Dit is wanneer KTM hierdie enjin in ʼn avontuurfiets sit. Miskien sal my grynslag dan al bedaar het! En as ek die pers dophou gaan ek nie meer lank hiervoor hoef te wag nie!

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin799 cc parallel-twee
Gewig ( Droog )169 kg
Maksimum kraglewering77 kw/105 pk
Saalhoogte825 mm
Tenkkapasiteit14 liter

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

Die KTM 790 Duke (Foto: KTM)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.