Dié Lexus in ʼn liga van sy eie

Die Lexus RC 350 F-Sport. Foto: Verskaf

Verskillende motorjoernaliste hou van verskillende soorte motors. Party wil net 4×4, ander wil net om ʼn baan jaag en party wil net goed lyk. Ek het regtig wye smaak. Ek is mal oor 4×4 – gek daaroor om om ʼn baan te jaag en kan ʼn mooi voertuig waardeer net soos die volgende ou. Waar ek deesdae van meeste motormanne verskil is ten opsigte van die neiging dat elke sportiewe voertuig 0 – 100 km/h moet doen binne twee sekondes en vering harder as ʼn weermag drilsersant. Indien dit ʼn Lamborghini is – beslis, maar ʼn pragtige koepee met sitplek vir vier… nee man.

Die Lexus RC 350 F-Sport draai meeste vervaardigers se argument op sy kop. Dié Lexus is heerlik sag geveer, lyk uiters pragtig en ry soos ʼn droom. Indien jy wil ry asof jou broek aan die brand is, kan hy dit ook doen – tot ʼn mate. Nee – dit is beslis nie die vinnigste koepee op aarde nie, maar die RC-F wat kom sal in daai spasie speel.

Die Lexus RC 350 F-Sport. Foto: Verskaf

Dié RC 350 F-Sport word aangedryf deur ʼn simfoniese 3,5 V6 atmosferiese petrolenjin met 232 kW en 380 Nm. Die RC is geen skilpad nie en draf van stilstand tot 100 km/h in 6,3 sekondes en sal aanhou tot 230 km/h. Maar daai is nie wat belangrik is nie. In die Lexus sit ʼn mens uiters gemaklik met die kajuit wat om jou vou soos ʼn kokonnetjie … en onder jou regtervoet is daar toegang tot 7 000 r/min en 24 kleppe met VVTi wat soos ʼn orkes jou hare penregop kan laat staan.

Die Lexus RC 350 F-Sport. Foto: Verskaf

Die binneruim bly getrou aan Lexus se ontwerptaal. Die kajuit is vir my ergonomies uitgelê en al is die muis wat die inligtingstelsel beheer moeilik om aanvanklik baas te raak – raak ʼn mens dit tóg gewoond. Die sitplekke wat self vorentoe skuif as ʼn mens die rugleuning oopvou en dán terugskuif as mens hom toemaak is baie slim. Die RC het ʼn magdom veiligheidstelsels wat jou veilig hou. Daar is ISOFIX-kinderstoelmonteringspunte, agt lugsakke, botsingwaarskuwing en remhulp, blindekol- en kruisverkeerwaarskuwing, ABS en EBD, banddrukmonitors en vierwielstuur.

Bowenal is die ervaring op die pad. Die Lexus is nie baie swaar op brandstof nie, en die gemak is indrukwekkend. Die RC is vir my beslis een van die mooier koepees wat tans beskikbaar is. Tot die RC-F arriveer is daar slegs een model … hy lyk só:

Lexus RC 350 F-Sport232 kW/ 380 Nm9,1 ℓ/ 100 km7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR939 100

Die kompetisie lyk só:

BMW 440i coupe M Sport240 kW/ 450 Nm6,6 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R805 076
Mercedes-Benz C300 coupe AMG Line190 kW/ 370Nm6,7 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R808 048
Ford Mustang 5.0 GT Fastback outo306 kW/ 530 Nm12 ℓ/ 100km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R893 200
Audi S5 Coupe quattro260 kW/ 500 Nm7,4 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R936 000

Tussen dié mededingers is die BMW ʼn verrigting-winskoop. Die Mercedes-Benz is die enigste mededinger met ʼn viersilinderenjin. Die Mustang het ook hartroerende stilering soos die Lexus, maar is beslis nie op die Lexus se vlak in terme van tegnologie nie. Toetsbestuur almal, een sal jou hart roer – en die Lexus het myne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae