Die MacGyver-mes van voertuie…

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Ek word alewig gevra: “As jy die geld gehad het, watse kar sal jy koop?”

Gewoonlik krap ek bietjie kop, en word maklik beïnvloed deur wat ook al ek die afgelope weke gery het, maar daar is een voertuig wat altyd by my opkom… die Toyota Fortuner.

In 2006 het Toyota hul nuwe sewesitplek-sportnutsvoertuig aan Suid-Afrika bekendgemaak. Dit was ʼn winskoop naby R286 000. Dit was ʼn Toyota Hilux met ʼn ander pak aan, maar die selfde enjins en aandryfstelsel.

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Daar was in die verlede sportnutsvoertuie wat op hul bakkieboeties gebaseer was – dink aan Nissan se Sani en Isuzu se Frontier – maar nie een van daai het die mark op sy kop gedraai soos die Fortuner nie. Ja, aanvanklik het daar ʼn paar Fortuners op hul koppe gedraai – maar dis in ʼn japtrap opgelos en Toyota het sedertdien nie teruggekyk nie.

Toyota het in 2011 ʼn goedkoper Fortuner in die mark gebring. Die 2.5 VNT (Variable Nozzle Turbo). Dit was ʼn intreemodel-Fortuner, slegs handrat, slegs 4×2. Dit is ʼn puik voertuig. My baas was dáái tyd al my baas, en hy’t rondgery en ʼn tweedehandse 3.0 D-4D gesoek. Ek sê toe: “Nee man, kom ons kyk of ons ʼn 2.5 kan kry.”

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Hy’t ʼn demo 2.5 by McCarthy Toyota Sinoville “gesteel” en hy ry hom nou nog. Desember het hulle derduisende kilometers Kaap toe gery, deur die Karoo en terug, sonder ʼn enkele probleem.

In 2015 het Toyota die huidige Fortuner bekendgestel. Sy sjiek nuwe pak is vir my baie mooier as sy voorganger. Die nuwe enjins beïndruk ook. Die sjokolade-en-swart binneruim verwar my steeds, maar ek is al gewoond daaraan.

Ek het nou al met verskeie Fortuner’s te doen gehad. My gunsteling in die reeks bly die 2.4 4×4-outomaties. Carl en Jeanette van Wiele2Wiele het in 2017 aan die Rust De Winter 4×4-Jamboree deelgeneem in ʼn 2.4. Aanvanklik was Carl skepties, maar die voertuig het hom heeltemal verbaas.

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Ek het die Paasnaweek in 2017 met die 2.4 my karavaan gesleep vir die naweek, en ek bly oortuig – die 2.4 se brandstofbesparing is die minuskule kragverlies die sous werd.

ʼn Ander pel het onder my instruksie sy 2.7 Raider ingeruil op ʼn 2.4 SRX, en gedurende die maande wanneer hy baie ry, betaal die brandstofbesparing die verskil in die bakkie se paaiement. Sy beste wat hy al in sy 2.4 4×2-enkelkajuit Hilux kon doen, is 6,2 ℓ/ 100 km… dis fantasties.

Ek het wel dan ook al met die 2.8-handrat, outo, 4×2 en 4×4 gery. Maak geen fout – daar is ʼn Fortuner vir elke smaak in die mark. Daar is een model waarmee ek nog nie gery het nie… dis die reeksleidende 4.0 V6 4×4 outo. Dalk eendag.

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Die ontwerp van die Fortuner is eenvoudig. Volgrootte sportnutsvoertuig op ʼn leerraam, met sewe sitplekke. Die derde ry sitplekke vou op teen die kant van die kattebak. Ek hou daarvan, want dit neem nie vloerruimte in beslag nie. Aan die binneruim is daar leersitplekke, 6 lugsakke, ABS met EBD, vastrapbeheer en ewenaarslot.

Die intreemodelle het meganiese lugreëling en die 2.8- en 4.0-modelle het klimaatbeheer. Almal het spoedbeheer en ʼn lekker klankstelsel. As jy nou ʼn nuwe Fortuner koop, kom hy selfs met WI-Fi toegerus en 15 GB-data gratis. Toyota se raakskerm-inligtingstelsels word deurlopend opgegradeer. Die 2.8 en 4.0 weergawes het onlangs navigasie bygekry. Die volgende opgradering sal waarskynlik CarPlay en Android Auto insluit.

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Daar is vier enjins, twee ratkaste en twee aandryfstelsels in die reeks beskikbaar. Die 2.7-viersilinderpetrolenjin is die goedkoopste en bied billike verrigting teen die prys. Dan kom die twee diesels, 2.4 en 2.8, met sterk wringkrag en puik brandstofverbruik. Dan is daar die grootbaas, die 4.0 V6 met al die krag, al kom dit met ʼn ernstige dors wat moeilik is om te les.

Daar is twee ratkaste – albei 6-spoed, een handrat, een outo. Die handrat is vir my een van die bestes in dié segment. Sy ratverhoudings is perfek versprei sodat wegtrek en sleep so maklik is soos val in die pad. Die twee aandryfstelsels is 4×2 en 4×4. Die 4×4-model het ʼn laestrekratkas.

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Ritgehalte is waar die Fortuner begin uitblink. Die rit is lekker soepel. Die kronkelvere agter waar die Hilux bladvere het, maak ʼn reuseverskil. Met die nuwe reeks enjins is die NVH (Noise Vibration and Harshness)-vlakke aansienlik verbeter. Padhouvermoë in die Fortuner is ook in die kol na my sin – en ek het al duisende kilometers in ʼn Fortuner afgelê.

Dit bring my mooi by my opsomming. Ongeag jou behoeftes, is daar ʼn Fortuner wat pas. Die Fortuner word ondersteun deur Toyota se markleidende handelaarnetwerk van 264 handelaars landwyd, groter as enige mededinger met ʼn reusemarge. Toyota bied ʼn 3 jaar-/100 000 km-waarborg met sy Fortuner en ʼn 90 000 km-diensplan.

Die Toyota Fortuner. Foto: Verskaf

Toyota is beroemd vir hul betroubaarheid. Wanneer ek my kinders in die kar laai en my karavaan haak, is die laaste ding waarmee ek wil sukkel, meganiese moeilikheid. Gelukkig het die Fortuner nie daai probleem nie. Toyota het sedert 2006 al 142 745 Fortuners verkoop en verkoop ʼn gemiddeld van 1 000 per maand, elke maand.

Dink bietjie aan jou behoeftes, van die school run tot vakansies in Namibië en Mosambiek – ek’s oortuig dié MacGyver-mes sal jou kan help.

Die reeks lyk só:

Toyota Fortuner 2.7 outo122 kW/245 Nm10.5 ℓ/ 100 kmR505 600
Toyota Fortuner 2.4 GD-6110 kW/400 Nm7 ℓ/ 100 kmR524 800
Toyota Fortuner 2.4 GD-6 outo110 kW/400 Nm7,9 ℓ/ 100 kmR545 300
Toyota Fortuner 2.4 GD-6 4×4 outo110 kW/400 Nm8,2 ℓ/ 100 kmR573 200
Toyota Fortuner 2.8 GD-6130 kW/420 Nm7,5 ℓ/ 100 kmR624 300
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 outo130 kW/450 Nm8,0 ℓ/ 100 kmR645 300
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4130 kW/420 Nm7,8 ℓ/ 100 kmR692 400
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 outo130 kW/450 Nm8,5 ℓ/ 100 kmR713 600
Toyota Fortuner 4.0 V6 4×4 outo175 kW/ 376 Nm12 ℓ/ 100 kmR752 300

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar-/100 000 km-diensplan en 90 000 km-diensplan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grens ·

Stem saam met jou, die Fortuner is ‘n yster van ‘n voertiug.

Louwrens ·

Vorige model was beter as die nuwe een. Sal myne bsie maklik omruim vir die ou 4×4 3.0.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.