Die Mercedes-Benz V-klas: Lieflik luuks

(Foto: Verskaf)

Dekades lank was Volkswagen se Caravelle Suid-Afrikaners se enigste keuse as hulle ʼn groot gesin wou vervoer. In die vroeë negentigs het gewone voertuie ook begin luuks word: Verbruikers wou kragstuur, elektriese vensters en lugreëling hê.

Drie dekades later en mense is nou éérs vol fiemies omtrent wat hulle van ʼn voertuig verwag. Danksy 42% belasting wat aan ons regering gaan is ons karre in Suid-Afrika bitter duur. Maar, as ons bereid is om uit te haal en wys, verwag ons dieselfde van die handelsmerk vir wie ons daardie geld gee.

(Foto: Verskaf)

Mercedes-Benz was nog altyd beroemd vir pragtige, luukse motors. Om hulle markaandeel te verdedig het hulle verskeie voertuie begin aanbied, nie nét luukse sedanmotors nie. Ek onthou ʼn tyd toe daar slegs die E, S en SL klas voertuie was … dis dit. Nóú is daar A, B, C, E, S, CLA, CLS, GLA, GLC, GLE, GLS, G, X en V. Sjoe. O ja, en SL en SLC … en GT.

Meer oor die V. Dit is die vlagskip gesinsbus wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is. Hy begin by ʼn redelike R913 951 en die luuksste van die reeks ʼn verstommende R1 292 474. Mens kry wel ʼn reuse-spesifikasievlak vir daai geld, én ʼn lieflike 2.1 viersilinderturbodiesel wat 140 kW en 440 Nm bied.

Wat die V-klas uniek maak is hoe hy op die pad voel. Die vering is regtig puik. Die V-klas rol nie vreeslik nie, maar die ritgehalte is fantasties. Al sit die bestuurder redelik regop, soos in enige ander bus – is dit tóg gemaklik en eg Mercedes-Benz. Vir die agterste passasiers is die ervaring ewe eksklusief. Vir die middelste twee passasiers is daar ʼn tafeltjie wat kan oopvou waarby ʼn mens versnaperings kan geniet.

(Foto: Verskaf)

Hoekom al die luukshede? Ek het drie kinders. Dis heel eenvoudig. Hoe verder hulle uitmekaar sit, hoe beter. As die kinders gelukkig is – dan is groot reistogte beter vir die hele gesin.

Dáái gesin wil mens veilig hou. Dus het Mercedes-Benz die hele gereedskapskis in die V-klas gegooi. Daar is puik funksies soos Crosswind Assist wat die voertuig stabiel hou onder sterk kruiswindsituasies. Attention Assist hou die bestuurder se aandag op die pad. Active Brake Assist is nuut en sal self remme aanslaan indien die voertuig ʼn botsing voorspel. Active High Beam Assist help ʼn mens om jou helderligte aan te los, en waar daar verkeer van voor af kom sal die voertuig self van die LED’s afskakel om nie die ander bestuurder te verblind nie – maar steeds die res van die area te verlig. Daar is ook al die gewone luukshede soos lugsakke, ABS met EBD en blindekolwaarskuwing. Al dié stelsels saam maak die V ʼn puik manier om jou gesin veilig te vervoer.

Dit is maklik om die V-klas op te som. Dit is ʼn lieflike gesinsbus wat ry soos ʼn gewone kar. Dit is bitter mooi en lieflike luuks. Ons hoop om weer ʼn verlengde tydperk met die V deur te bring en dán verder te berig oor hoe dit is om met hom elke dag saam te leef. Vir ʼn beperkte tydperk sal alle V-klas kopers ʼn gratis verlenging van die instandhoudingsplan kry van vyf na ses jaar.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz V200d100 kW/ 330 NmR913 951
Mercedes-Benz V220d120 kW/ 380 NmR955 518
Mercedes-Benz V250d140 kW/ 440 NmR1 027 686
Mercedes-Benz V220d Avantgarde120 kW/ 380 NmR1 247 819
Mercedes-Benz V250d Avantgarde140 kW/ 440 NmR1 292 474

Die reeks word gedek deur ʼn omvattende 6 jaar/ 100 000 km instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die V-klas deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

My gewillige Mazda5 kos presies 10% van die duur een se prys toe ek hom gekoop het. Hy het ook leer sitplekke, 6 lugsakke, aanpasbare kragstuur, vastrapbeheer, ABS remme met remhulp, spoedbeheer, elektriese deure en vensters, selfs ook tafelties agter, net nie dieslefde ruimte nie.

Nas ·

Nix maar nix kom naby my 2006 VW Touran 2.0 TDI nie.
Spoedbeheer met al die klokkies.
Ry vanaf Kimberley na.Kaapstad op n tenk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.