Die perfekte werkesel?  

Die Kia K2700. Foto: Verskaf

Daar is tans baie kleinsakeondernemings wat bitter swaar trek. Gelukkig kan die ekonomie weer op vlak 3 van die afsonderingstydperk sy spiere begin bult.

Daar is tans twee faktore wat my sal beïnvloed om jou aan te raai om ʼn nuwe werkesel aan te skaf.

Eerstens is die bitter lae rentekoers. Tweedens, met die onbetroubare wisselkoers, gaan die prys van nuwe voertuie in Suid-Afrika die hoogte inskiet. En dan – spesifiek in die geval van die Kia K2700 – met ʼn 5 jaar/ onbeperkte km koeëlvaste waarborg.

Die Kia K2700. Foto: Verskaf

ʼn Sterk waarborg beteken dat jy vir die volgende vyf jaar, indien jy die voertuig getrou laat nagaan en diens soos voorgeskryf deur Kia, vir geen meganiese herstelwerk sal hoef te betaal nie, slegs jou slytasie-items soos bande en so meer. Dit waarborg geen groot verrassings vir jou kleinsaak in die volgende vyf jaar, al ry jy een miljoen kilometer.

Die Kia K2700 is pure werkperd. Hy moet eintlik ʼn almanak hê in die plek van ʼn spoedmeter – maar dit is presies die punt. Dis nie ʼn renmotor nie. Dit is ʼn rateltaai bakkie wat 1,3 ton op sy rug kan laai én 1,2 ton agter hom sleep … al is dit stadig.

Die Kia K2700. Foto: Verskaf

In die binneruim sit jy heel regop – ʼn gemaklike bestuursposisie vir my. Verder is dit eenvoudig, en alles is waar dit hoort. Ek sou wel die model aanbeveel wat lugreëling het – vir ons bloedige somermaande. Die atmosferiese 2,7 viersilinderdieselenjin bied ʼn matige 62 kW en 168 Nm … net genoeg om hom 120 km/h te laat haal in 24,2 sekondes, soos ek gesê het – almanak.

Die Kia is beskikbaar in twee weergawes, ʼn valkantbak óf ʼn tippertjie. Daar is dan ook verskeie kappies in die mark waarvan mens kan kies en keur om aan jou behoeftes te voldoen. Gaan kyk gerus en laat die handelaar vir jou ʼn pasgemaakte pakket uitwerk, dalk kan jy bietjie geld spaar in dié moeilike tyd.

Die reeks lyk só:

Kia K2700 2.7D workhorse valkantbakR304 995
Kia K2700 2.7D workhorse valkantbak lugreëlingR320 995
Kia K2700 2.7D workhorse tipperR338 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ onbeperkte km waarborg en 3 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

JMC Carrying SWB 1.6 ton valkantbak LUX84 kW/ 235 Nm8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 90 000 km diensplan

R253 880
Hyundai H-100 2.6D valkantbak lugreëling58 kW/ 167 Nm10.2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R317 500

Tussen dié mededingers lyk die JMC na ʼn aantreklik opsie. Hy kan effe meer dra en hardloop met ʼn ou Isuzu-enjin wat baie meer krag bied. Hy is ook ʼn winskoop – maar wees versigtig vir ʼn redelike nuweling in Suid-Afrika teenoor Kia en Hyundai wat al as betroubaar gereken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.